Die nuwe Stuttgart-biblioteek

Stel jou voor ’n bibliofiel se paradys: Die publieke biblioteek, ontwerp deur Eun Young Yi is ’n kontemporêre meesterstuk. 

Eun se ontwerp was een van 235 kompetisie-inskrywings wat reeds in 1999 vir die nuwe sentrale biblioteek in Stuttgart voorgelê is. Die Stadtbibliothek am Mailänder Platz, wat drie jaar gelede begin bou is en 80-miljoen Euro’s gekos het om te voltooi, is uiteindelik verlede maand geopen.

Volgens Eun wou hy ’n “absolute eenvormige en harmoniese gebou, wat die geheime van die mensdom dra,” ontwerp. Dié Koreaanse argitek se inspirasie was nie net beperk tot die geskiedenis wat opgesluit in biblioteekboeke lê nie; sy ontwerp getuig ook van sterk invloede van Etienne-Louis Bouleé se Franse Nasionale Biblioteek wat reeds in die 18de ontwerp is.

Stuttgart se nuwe biblioteek is geleë in die middestad en toring hoog bo die ander geboue uit. Die grys kubus is gemaak van dowwe beton en glasstene en is onmisbaar tussen die ander wolkekrabbers; soos ’n dik ensiklopedie wat lê en wag om ontdek te word.

Dit is ontwerp met ’n dubbele fasade. Die twee lae, die buitenste van glasstene en die binneste van geraamde glas, skep ’n termiese dop vir die gebou wat help om die temperatuur te reguleer. Saans skyn ’n blou glans vanuit die tussenspasie wat die gebou ’n kontemporêre atmosfeer verleen. Die interieur van die gebou is monochromaties in wit, wat die boekrakke toelaat om lewe en kleur aan die vertrekke te gee.

’n Slim toevoeging tot die gebou is die woorde “biblioteek” wat in vier verskillende tale op die buitemure geplaas is; die gebou is immers ’n stoorkamer vol woorde. Op die Noordelike muur is daar in Duits geskryf (die plaaslike taal), op die Westelike muur in Engels, die Suidelike kant is in Arabies en die Oos-kant in Koreaans (Eun se moedertaal).

Eun verwys na die middel van die gebou as die ‘hart’ van die biblioteek. “Dit is ’n plek vir mediatasie, ’n tipe argaïese kamer, soos die Roomse Pantheon, wat verwys na die prehistoriese grot as menslike woning,” sê hy. Die middelste deel van die gebou word verlig deur ’n ronde dakvenster en is omring deur trappe wat die agt vloere van bo tot onder, en van alle kante af, verbind.

Eun het alle onnodige elemente uit sy ontwerp gestroop en só ’n enorme gebou met sterk lyne en slim gebruik van materiale geskep. Stuttgart sal sonder twyfel meer-en-meer boekwurms in die stad raaksien. 

Vir meer inligting: www.yiarchitects.com