FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers
Die Circa on Jellicoe-galery is dalk vandag die modernste gebou op die Johannesburgse argitektoniese landskap, maar op ’n manier bring die eenvoud daarvan ’n nostalgie vir ’n tyd toe die lewe veel eenvoudiger was.
Johannesburg se sypaadjies is nie bekend as die mooistes of skoonstes in die land nie. Tog is dit op die hoek van Jan Smuts- en Jellicolaan, daar waar die stad se profiel soveel ryker geword het met die onlangse toevoeging van die Circa on Jellicoe-galery, onberispelik en die kunswerke wat daar staan, onaangeraak. ’n Enorme werk in swart graniet deur Willem Boshoff – dit herinner ’n mens aan spoelklippe – glim in die sonlig, terwyl twee kosbare Eduardo Villa-beelde by die ingang waghou.
Hoe is dit dan moontlik dat, in ’n stad waar vandale en graffitikunstenaars nie ’n skoon muur kan weerstaan nie, dié heilige hoek in Rosebank as ’t ware ’n beskermende sluier dra?
Dis eenvoudig, sê Pierre Swanepoel van studioMAS, die argitek wat Circa on Jellicoe ontwerp het. Wanneer dit baie duidelik is dat na ’n ruimte omgesien word, dan respekteer ander dit ook. Hy wys na ’n ongebruikte eiendom oorkant die pad waar ’n muur ongeverf is: Die sypaadjie is ’n gemors.
Die galery is meer as net ’n nuwe gebou op die stadshorison; dis ook ’n mosie van vertroue in hierdie stad. Die eienaar, Mark Read, sê hy het dit gebou omdat hy lief is vir Johannesburg en wou wys daar is wonderlike dinge hier wat ’n mens op ’n 21ste eeuse manier kan bedryf.
Pierre het die gebou ontwerp as ’n soort filosofieles vir Johannesburgers. In ’n stad waar soveel mense agter hoë mure en elektriese heinings gaan wegkruip het, vra hy dat ons weer eienaarskap neem van die omgewing waarin ons woon. Hy ontken nie dat daar ’n behoefte aan sekerheid is nie; hy voel bloot ’n mens kan dit op ander maniere bewerkstellig.
Pierre se benadering begin met die toegang tot Circa on Jellicoe van sy sustersgalery oorkant die pad, die Everard Read. Daar is geen gedefinieerde of toegemaakte paadjie nie, maar ’n nuut geplaveide pad met nog etlike stukke openbare kuns wat sê: Dié ruimte behoort aan die mense wat dit gebruik.
’n Eenvoudige dog soliede glasdeur lei jou na binne tot op die paadjie wat buite-om die gebou en drie verdiepings boontoe kronkel.
In essensie is hierdie gebou blootgestel aan die elemente, met reusagtige vinne uit geanodiseerde aluminium die enigste beskutting wanneer jy die paadjie klim. “Maar word ’n mens nie nat as dit reën nie?” vra ek. “Ja, maar wat is fout daarmee?” antwoord Pierre.
Die ellipsvormige gebou
Ons moderne leefstyl het ons ’n ewige vrees gegee vir die natuur, en in Circa herinner Pierre ’n mens op ’n Afrika-manier dat die elemente orraait is. Die ellipsvormige gebou het ’n paar Afrika-verwysings: Die kleurspektrum van die aluminiumvinne is 10 verskillende skakerings van grys, bruin en swart wat van ’n boom se bas verkry is. Die regop vinne is ook ’n herinnering van die stokke wat gebruik word om ’n Zoeloe-kraal te bou, en die kurwe van die paadjie laat ’n mens dink aan die geboë gangetjies in die Zimbabwe-ruïnes wat veroorsaak dat jy nooit meer as ’n paar meter voor jou kan sien nie.
Op die grondverdieping is die vertrek wat Speke genoem word, tans leeg, maar dit gaan snelveranderende tentoonstellings van buitengewone internasionale kulturele rariteite huisves. Hier werk Mark Read saam met Mark Valentine van Amatuli, een van die voorste verskaffers van Afrika-artefakte in die land, om ’n versameling fassinerende stukke, van nagemaakte Indonesiese stukkeIndonesian codpieces tot ’n Afrika-dau, bymekaar te kry.
Die hoofuitstalruimte, Die Darwin Room, is op die eerste verdieping, waar sewe skerms uit die vloer uit opgetrek kan word wat dan hangruimte vir kunswerke is. Maar as ’n enkele vertrek is dit ’n unieke ruimte vir enige groot gebeurtenis. Mark beklemtoon dit is nie net ’n kontemporêre kunsgalery nie en hy is oop vir voorstelle oor die gebruik van die ruimte. Die woord Circa beteken in Latyns “tussenin” of “ongeveer” – ’n raak beskrywing van die breë aard van die galery en Mark se planne daarmee.
Die galery het geopen met die tentoonstelling Penelope and the Cosmos, met nuwe werke deur Willem Boshoff en Karel Nel. Maar enigiets is moontlik –met Mark se lewendige belangstelling in paleontologie is die kans goed dat ’n paar dramatiese argeologiese vondste ook hulle weg hierheen sal vind.
Uiteindelik bring die paadjie jou by die gebou se dak, waar die vinne afbuk en die dramatiese westelike uitsig van Johannesburg onthul. Die hoek is slim beplan sodat jy geen lelike dinge sien nie, net die lieflike Northcliffse heuwels.
Die boonste verdieping is ’n private deel met ’n soort klub-sitkamer vir die persoonlike gebruik van die eienaars.
Aan die suidelike kant is die brandtrap dramaties bedek in draadmaasstof. Rankplante is in die grond gesit sodat dit heelpad tot bo kan klim en ’n groen bedekking vir die gebou se aluminiumdop kan vorm. Dis nog ’n herinnering dat Johannesburg se rande versag moet word; dat die Circa-filosofie aangegryp en die elemente gewaardeer moet word.
• Circa on Jellicoe 011 788 4805, [email protected]
• studioMAS 011 486 2979, www.studiomas.co.za