FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly
Om ’n naweekhuis in ’n plattelandse ontwikkeling te ontwerp kan ’n enorme uitdaging wees. Ons het twee argitekte gevra hoe hulle binne die streng riglyne gebly het, maar nietemin vorendag kon kom met dié eiesoo rtige vakansiehuise op Dullstroom.
Johan Wentzel en Grete Van As
Wat was die opdrag van die eienaars?
Om ’n vakansiehuis vir die uitgebreide familie te bou wat die “landelike leefstyl” sou vasvang wat hulle met die gebied vereenselwig.
Wat was die uitdagings daarvan om binne sulke streng riglyne te werk?
Hoewel estetiese riglyne ’n belangrike funksie het – om die ontwerp en bouproses te stuur – is die geboue en ruimtes wat opgerig word, nie gedefi nieer deur die toepassing van sekere style nie. Dit was eerder die leefstyl wat ons kliënte in gedagte gehad het wat die dryfkrag was, terwyl spesifi eke vereistes ten opsigte van detail en die behandeling van ontwerpelemente daaruit gevolg het.
Benader julle ‘n naweekhuis anders?
’n Vakansiehuis gee ons die geleentheid om sonder die gewone praktiese beperkings van ’n stadseiendom te werk.
Hoe het die dramatiese uitsig al die aspekte van die ontwerp beinvloed?
Ons wou ’n huis ontwerp wat oral na buite kan oopmaak. Ons ontwerpfilosofie is “ons leef onder die bome, maar slaap in grotte”. Daarom is die slaapkamers snoesig binne die huis geposisioneer, terwyl die leefgedeeltes toegang na buite gee.
• W Design Architecture Studio 012 346 5443, 083 445 0424 (Johan Wentzel), www.wdas.co.za
Vir bedrywige Johannesburgers is Dullstroom in Mpumalanga ’n idilliese toevlugsoord.
Dié dorpie lê 2 100 m bo seespieël, en die koel klimaat en mistige oggende sorg vir verfrissende ontvlugting nadat ’n mens in die stad geswoeg en gesweet het. Dis ook ’n plek waar jy forel kan vang; daar’s ’n hele paar goeie restaurante; en volgens baie mense is dit die heel beste plek om in die winter heen te vlug vir ’n heerlike opkrulnaweek vol rooiwyn en rus.
Asof dit nie genoeg is nie, is daar die uitgestrekte, ongerepte landskap – die laaste troefkaart wat ’n klompie Gautengers na die Walkersons- private landgoed, op 800 ha golwende Oos-Hoëveldse heuwels, gelok het. Die ontwikkelaars het volkome daarop gefokus om ’n outentieke en vreedsame ervaring te skep, en baie streng argitektoniese riglyne vasgestel vir diegene wat hier wil bou.
Dit klink soos enige argitek se grootste nagmerrie: Iemand vra jou om ’n huis in een van die mooiste natuurlike omgewings ter wêreld te bou, maar terselfdertyd word jy ’n lys boubeperkings in die hand gestop.
Dis darem nie heeltemal in die kol nie, sê Johan Wentzel van die W Design-argitektuurateljee in Pretoria. Sy ervaring met ’n hele klompie landgoedhuise – waaronder die kontemporêre plaashuis by Walkersons wat ons hier wys – het hom geleer die eerste stap is nie om oor die styl van die huis te besluit nie. “Heel eerste moet jy ’n inspirasie kies – besluit watter soort leefstyl jy wil hê. As jy daarna omsien, sal die vorm van die huis vanself kom,” sê Johan.
Hy glo die drie boustyle wat by Walkersons toegelaat word, maak voorsiening vir alle smake, van konserwatief tot kontemporêr, en verseker dat geen twee huise ooit dieselfde sal lyk nie. Wat hulle almal gemeen het, is ’n klompie skouspelagtige uitsigte oor die landskap, en dít sorg wel vir ’n ontwerpuitdaging.
Aangesien Johan glo die verhouding tussen ’n huis en ’n landskap is ’n noodsaaklike aspek wanneer ’n plattelandse huis geskep word, het hy ’n binnehof gemaak tussen die gebou en die sterk teenwoordigheid van die berg in die noorde. Uit dié ruimte van menslike ingryping waar die landskap en die gebou een word, is daar deur die hoofleefstruktuur uitsigte na die suide toe.
“Om die ligging en konteks ten volle te benut moet ons aanvaar die krag wat ons na ’n plek trek, is die plek self. Ons kan nie daarop verbeter nie, maar wel ’n geleentheid skep vir die gebou se gebruikers om hulle binne hierdie ongelooflike konteks te plaas.”
“Jy wil ’n gebou skep wat nie bewus is van homself nie, maar eerder die grond en die plek wys. Hierdie huis is nie een waarna ’n mens kyk nie; dis ’n huis waarvandaan ’n mens na die landskap kyk. Jy raak meer bewus van die uitsig, die ongerepte natuurlike gras en velde, die bewegende mis en wolke, die sonlig, die tyd van die dag en die seisoene.”
Die Johannesburgse argitek James Brümmer het op soortgelyke manier die verhouding tussen sy huis en die dramatiese landskap benader toe hy besluit het om ’n “aardgebonde” struktuur te skep – ’n soliede huis wat lyk asof dit uit die grond groei pleks daarvan dat dit bo die aarde sweef.
“My idees is gegrond op ’n moderne skuur,” sê hy. Die resultaat is ’n klassieke H-vormige ontwerp wat nie te trots in die landskap staan nie, maar deur die gebruik van sement en bruin skakerings eerder deel word van die aarde.
James het dit goed reggekry om tradisionele Dullstroom-klipwerk te kombineer met Noord-Europese materiale soos gebrande kleiteëls en kontemporêre hout- en glaseffekte. “ ’n Mens moet darem ’n sweem van die plaaslike volksboukunde behou – dit is deel van my ontwerpfilosofie,” sê hy.
Binne sorg kontemporêre ontwerp en afwerkings vir ’n stylvolle en gerieflike leefstyl – die beste van vele wêrelde. James gee al die krediet vir sy span – Alexandra Sutton, Smangaliso Zwane, Aadil Mosam and Katleho Matlere – wat al dié elemente kon kombineer omdat die praktyk die rol van argitek en binnehuisontwerper saamsnoer sodat kliënte ’n volledige diens kry wat in hulle leefstylbehoeftes voorsien. “Argitektuur en binnehuisontwerp is die vel en been van ’n huis – jy kan die twee nie van mekaar skei nie,” sê hy.
Eerder as om die ontwerp in te perk, verduidelik James, het die riglyne se drie argitektoniese style dit vir sy span moontlik gemaak om ’n tradisionele plaashuis met kontemporêre elemente te skep.
Die resultaat is ’n gesinshuis wat só gebou is dat waar jy ook al in die huis is, jy bewus sal wees van die lieflike landskap. Of dit ’n uitsig van ’n venster is of ’n weerkaatsing in ’n spieël of op ’n deur – elemente van die ongelooflike Dullstroomse omgewing is altyd daar om opgeraap te word.
James Brummer
Wat was jou opdrag van die eienaars?
Hulle wou ’n kontemporêre ontwerp hê waarin rustieke en klassieke elemente vermeng word. Sy is van Nederlandse afkoms, en daarom het ons ’n Noord-Europese invloed ingesluit. Met jong kinders wou hulle ’n gesinshuis hê wat ook maklik is om te onderhou.
Wat was die uitdagings daarvan om binne sulke streng riglyne te werk?
Dit was nie só beperkend nie. Ons kon steeds volksbou-elemente soos dakkappe, hortjies en klip gebruik, maar ook ’n Skandi-nawiese voorkoms met ou bakstene bewerkstellig. Ek sou presies dieselfde ontwerp gedoen het as die eiendom nié op ’n landgoed gestaan het nie.
Benader jy ‘n naweekhuis anders?
Ja. Hierdie huis het ’n maklike toesluit-en-ry-ontwerp. ’n Ongelooflike tuisoutomatiseringstelsel beteken die hele huis word met die druk van een knoppie gesluit. Daar’s ook baie slim pakplekomdat ’n vakansiehuis dikwels groot items moet huisves wat die eienaars nie die heeltyd heen en weer wil karwei nie.
Hoe het die dramatiese uitsig alle aspekte van die ontwerp beinvloed?
Ons het die huis só ontwerp dat ’n mens van enige plek af maklik buite kan kom – jy kan altyd die landskap aanraak, sien en voel.
• James Brümmer & Associates Architects and Interior Designers 011 783 6267, james@brummerarchitects.co.za

