Beijing: Koel Chaos

FOTOS: Gallo Images/GettyImages.com, Shuttershock en Clinton Friedman | WOORDE: Ross Chowles


Die uitvoerende kreatiewe hoof van The Jupiter Drawing Room in Kaapstad, ROSS CHOWLES, het al jare lank ’n liefdesverhouding met China se dinamiese hoofstad, waar antiek en futuristies ontmoet en hom oor en oor teruglok. Een jaar ná die Olimpiese Spele is hy terug na Beijing vir sy sewende jaarlikse pelgrimstog.

Toe ek in 2003 op Beijing se lughawe neerstryk, kon ek sien hoe die nuwe Terminaal 3 gestalte begin kry. Dié fabel-agtige draakstruktuur was die eerste teken dat die Chinese hoofstad sy vere begin regskud vir die Olimpiese Spele van 2008.

Wat argitektuur betref, was die Beijing van ses jaar gelede ’n totaal ander stad. Die Beijing- nasionale stadion (“Die Voël-nes”) het toe nog nie bestaan nie. Ook nie die nou bekende CCTV-gebou (China Central Television) of die futuristiese titaan-en-glaskoepel van die Nasionale Sentrum vir die Uitvoerende Kunste nie.

Op my eerste besoek was die stad een groot bouterrein, tussendeur die talle vierkante kilometers hutongs – die ou voorstede met interessante klein stegies van grys bakstene, plus simbole van China se verlede, soos die antieke Verbode Stad.

Dit was volslae chaos: Die strate het dag én nag gepols met mense, fietse, taxi’s en derduisende nuwe motors, ’n teken van China se ontluikende ekonomie. Straatsmouse het enigiets van sokkies tot TV-stelle verkoop. Ek het die energie gevoel van ’n plek wat in die verlede leef én bots met die toekoms. Die reuke, klanke en gesigte het my sintuie rou geskaaf. Ek kon niks lees nie en ook nie verstaan wat rondom my gesê word nie. Ek het nie geweet wat ek eet nie. Ek het gevoel soos ’n marsman, en ek was mal daaroor.

As jy van Switserland of Kanada hou, sal jy waarskynlik niks van China hou nie, want hier kry jy nie sulke orde nie. Ruimte kry jy ook net teen ’n premie: Byna 19 miljoen mense leef in Beijing bó-op mekaar. Harmonie is dus ’n belangrike begrip. Hoe anders sal so ’n enorme klomp mense saam kan woon? (China het ’n bevolking van 1,3 miljard.)

Sedertdien het ek elke November teruggegaan, en elke keer sowel tuis as uit my plek gevoel. Só het ek die voorreg gehad het om die metamorfose van dié fantastiese stad te kon dophou.

In die ses jaar van Olimpiese bouwerk het Beijing nooit geslaap nie en dit was altyd toe onder die stof. Namate China in die aanloop tot die Spele meer welaf begin raak het, het mense meer motors gekoop. Die reeds verstopte stad het selfs nóg bedrywiger geraak. Hier kan jy net twee afsprake per dag maak: een vir die oggend en een vir die middag, want dit neem so lank om op enige plek te kom.

Gelukkig is die moltreinstelsel, diep onder al die verkeersknope, verbeter en uitgebrei – en vandag is dit ’n fantastiese, goedkoop manier om te reis. As ’n Westerling moet jy egter mooi luister wanneer die stasies se name aangekondig word. Mandaryns is ’n subtiele taal, en al word aankondigings ook in Engels herhaal, is dit moeilik om tussen name te onderskei.

Die Chinese regering het met die Olimpiese Spele die land se beste voetjie vir die wêreld voorgesit: Die strate is skoongemaak, mense is gedwing om hul motors tuis te los, fabrieke is gesluit om besoedeling te verminder, en haweloses en rondloperhonde is aangekeer.

Baie van die ontwikkelings, byvoorbeeld die lieflike nuwe argitektuur, is ongelooflik. Tog is sommige van die ver-anderinge hartseer. Baie van die ou dinge in Beijing is vernietig om plek te maak vir die nuwe, en ek dink China sal eendag spyt wees dat soveel van sy strukturele verlede in die proses platgeslaan is.

Die spertye vir die voltooiing van geboue was ses maande vóór die Spele, sodat die bouterreine mooigemaak kon word met tuine, die vensters gewas kon word, die strate gevee kon word en die taxibestuurders Engels kon leer. Van elke burger is verwag om ’n bydrae te lewer om Beijing perfek te kry.

Toe breek die twee weke van die Olimpiese Spele aan en Beijing is kortstondig in iets soos Switserland verander. Nou, ’n jaar later, is die verkeersknope terug, al spog die stad met etlike ongelooflike argitektoniese bakens. Die wriemelende mensemassa – Beijing se lewensaar – is ook weer daar. Dis weer Beijing. Die manjifieke, boeiende Beijing. Ek is so bly my ou bekende vriend is terug.

SIEN

Die Verbode Stad, ’n voormalige koninklike paleis, is ’n Unesco-wêreld-erfenisterrein. Dit spog met die grootste versameling bewaarde antieke houtstrukture ter wêreld. Daar naby is Tiananmenplein, die grootste openbare plein ter wêreld waar etlike van die land se groot geskiedkundige byeenkomste gehou is. Die Groot Muur van China kan binne ’n halwe dag of oornag besoek word.

’n Argitektoniese moet is die residensiële projek Linked Hybrid in die Dongcheng-distrik. Dié ontwik-keling met sy kleurryke torings en lugbrug-skakels is ontwerp deur die Amerikaanse argitek Steven Holl (www.stevenholl.com) in samewerking met Modern Green Development.

Besoek die Beijing Art Now-galery (www.artnow.com) in die Chaoyang-distrik vir die beste avant-garde Chinese kuns.

EET

As jy nie soveel van nuwe kos-avonture hou nie, kan jy steeds uit ’n hele rits Westerse restaurante kies, maar as jy op soek is na ’n egte Beijing-ervaring, waag gerus. Gaan stap in die strate en eet saam met die gewone plaaslike mense. Moe- nie jou laat afskrik deur dekor of tafeldoeke nie; die kos sal fantasties wees – net soos die Franse is die Chinese baie gesteld op uitnemende kos. En dis verrassend bekostigbaar: ’n Groep van vier sal vir ongeveer R200 ’n skaflike ete kan geniet.

Die sjiek Le Quai in die Chaoyang-distrik is die enigste gesertifiseerde slow-food-restaurant in Beijing. Dis nie goedkoop nie, maar die elegante kombinasie van nuwe en ou elemente uit die Chinese kookkuns is voortreflik. Ook aan te beveel, is Mei’s Mansion in die Daxiangfeng-hutong. Die restaurant sit tradisionele Huaiyang-geregte voor – ’n kookstyl wat nie juis buite China bekend is nie – en bied verskeie vaste spyskaarte aan wat ’n goeie oorsig van dié kookkuns gee.

SLAAP… Die stad het vele tophotels, en enige plek naby die Verbode Stad sal perfek wees. Maar as jy die outentieke Beijing wil ervaar, soek ’n hotel in een van die hutongs. Hotel Côte Cour SL (www.hotelcotecoursl.com) in die Daxiangfeng-hutong, byvoorbeeld, is ’n boetiekhotel in ’n tradisionele binnehofhuis uit die Ming-dinastie.

• Besoek www.travelchinaguide.com en www.beijingpage.com vir nog inligting.