FOTO’S: Mark Serra | PRODUKSIE: Sumien Brink | WOORDE: Sam Woulidge
Daar ís nog ’n stil hoekie in die woelige Kaapse sakehart, ’n ware toevlugsoord vir stresoorlaaide stadsjapies: Birds Boutique Café is ’n vergestalting van die Stegmann-vroue, die een so elegant-onopgesmuk en goedhartig soos die ander.
Dis nie eintlik die soort hawe wat ’n mens in ’n ou gebou in Breestraat verwag nie, dié asemskepplek wat getuig van gesofistikeerde eenvoud, opregtheid en ingetoë skoonheid. Hier draf jy nie in vir ’n blitsige beker boeretroos of iets wat vinnig daardie gaatjie in jou maag kan vul nie. Om die waarheid te sê, as jy haastig is, gaan die Birds Boutique Café jou teen die mure uit dryf, en met jou sekondetellery gaan jy op jou beurt weer die saggeaarde moeder-en-dogterduo en die ewe talentvolle suster (wat soms daar is en soms nie) in die harnas jaag.
Vat jou tyd, wees bereid om ’n tafel te deel, luister na die opname van voëlgeluide en waardeer die moeite wat die grafiese ontwerper Frauke Stegmann gedoen het om haar ma, Mathilde, en suster Heike se behoeftes te interpreteer. Waarna hulle op soek was, is ’n interieur wat die nederigheid, eerlikheid en harde werk van hulle onwrikbare geloof in organiese boerdery en kos-met-inbors weerspieël.
Frauke het met materiale gewoeker wat ’n mens in enige ysterwarewinkel raakloop – plastiekkratte wat saam-saam stoele vorm, bokkietafels, velle skuimrubber, laaghout, draadkaste en ongebleikte linne – om iets werklik spesiaals te skep, natuurlik met heelwat insette van Mathilde en Heike. Want hier tussen die swaanligte van porselein en die linnegordyn wat die kombuis wegsteek, vind ware transformasie plaas: Die doodgewone word buitengewoon, en geskiedenis en die groter familie kry ’n ereplek.
Outyds en sjarmant
Die kos by Birds is heerlik, maar nie “oordoen” of “oorontwerp” nie. Die aanbieding en spesiaalontwerpte breekware is beeldskoon. Die koeke is geil en outyds eerder as wat dit delikate o-so-perfekte kunswerke genoem kan word. Bestel gerus die heerlike appeltert, die oorlopens toe vol spinasiequiche of die hartvormige koekies vol kleurstrooisels… alles outyds en sjarmant, maar nie wat ’n mens jappie-gesofistikeerd sal noem nie.
Vir Mathilde en Heike is die kos wat hulle maak, nie regtig “Slow Food” nie – eerder iets veel meer holisties. “Vir ons gaan dit oor die geskiedkundige verbintenis, wat belangriker is as die aanbieding,” sê Heike. “Die rustieke outydse koeke vorm deel van die familie se fieterjasielose Germaniese kostradisie op die Namibiese plase van die vroeë twintigste eeu, terwyl die hartvormige koekies ’n weerspieëling is van my ouma se geskiedenis in Windhoek in die jare sestig.”
Vir Mathilde is die kombinasie van tydlose Germaanse Leidenschaft (“passie”) en Afrika betekenisvol. “Estetiese perfeksie is pretensieus in die konteks van Birds Boutique Café, waar gehalte en passie eerder koning kraai, maar minimalisme in sy suiwerste vorm behou word. ’n Mens moet besluit wat die belangrikste is in die lewe, en vir my is dit familie, kos, die tafel… Hier by Birds kry ’n mens weer ’n blik op die kreatiewe gees wat jou inspireer.”
Dis nie net mooipraatjies nie. Hier drink jy Milchkaffee uit ’n gouerand-bakkie, of moerkoffie uit die fynste handgemaakte porselein. Frauke, wat die breekgoed ontwerp het, verduidelik: “Daar is ’n intieme verhouding tussen die klant en die breekgoed, veral die koppies. Die breekgoed was ’n groot uitdaging, veral omdat die materiaal wat vir die interieur gebruik is, alles baie sober is. Dit het nie sin gemaak om nuwe breekgoed te koop nie… ek het eerder deur ou ‘rommel’ gesif, maar pleks daarvan om die ‘rommel’ net so te gebruik het ek ’n nabootsing daarvan gemaak uit porselein. Ek het my dus vir ’n wyle afgesluit van die verlede en iets gemaak wat nuut en reg is vir nou.”
Frauke het stukke by die Milnerton-mark aangeskaf en die vorms in delikate porselein gegiet. Só het sy goed uit die jaar toet herskep om uiteindelik ’n heeltemal nuwe reeks breekgoed te vorm.
Hier word saam-saam gewerk
Herskepping is die Stegmann-vroue se sterk punt. Hulle het die groot, oop vlaktes van Namibië vir ’n wyle verruil vir die Bo-Kaap, waar die stadsgeluide, die imam se geroep uit die moskee en die gedruis van ’n bedrywige gemeenskap die stilte en eensaamheid van die woestyn verdryf. Hulle woon naby die eetplek, waar hulle saam werk en skep as ’n familie. Dis ’n leefstyl waaraan hulle nou gewoond is.
Heike noem dit ’n “bewustelike en geduldige maar tog ook onderbewustelike verstandhouding, ’n konstante spieëlbeeld, ’n natuurlike gevoel van die regte ding”. Frauke se ateljee is langsaan en Heike se dogter, Anna, kom smiddae ná skool na die eetplek toe om middagete te geniet en haar huiswerk te doen. Dit is ook waarheen die ander twee susters, Birgitte en Anke, en hulle gesinne Saterdagoggende kom om mekaar se geselskap te geniet.
Birds het sy deure in 2005 geopen en sedertdien is weinig verander. Kapenaars is teen dié tyd gewoond daaraan om soms ’n tafel met vreemdelinge te deel – of te wag vir ’n behoorlike koppie koffie wat op die regte manier gemaak word, ’n glas verruklike wildevysap of gewoon die eenvoudige elegansie wat ’n mens in hierdie chaotiese hoekie van die stad kry. Besoekers kan dadelik die eiesoortige kombinasie van energie en kreatiwiteit aanvoel, die ongelooflike liefde en lojaliteit van die vroue, en die uitnodiging om hier hulle batterye te kom herlaai.
Maar wat doen Mathilde, Heike en Frauke om hulle kragte te herwin? “Ons gaan kamp,” sê Frauke. “Dis ’n belangrike familietradisie wat teruggaan tot hier rondom 1900, toe hulle dit vreeslik stylvol aangepak het. Só leer ’n mens om die skoonheid in die kleinste dingetjie te waardeer – die klein blommetjie in die sand, die dik mis wat soggens oor die sandduine inrol, die pers en pienk skakerings wanneer die son opkom of sak, die gras (of dit nou droog of groen is), al die verskillende dorings van die doringbome en die verskillende soorte se blomknoppies in die lente en somer.”
Die Namibiese landskap is duidelik ’n belangrike deel van hierdie vroue se wese. “Miskien is dit omdat ’n mens ontneem word van die toegang tot skoonheid in die Europese sin, asook die groot afstand tussen ons en Europa en sy ontwerpkonteks, maar hier leer jy om oor die weg te kom met en te waardeer wat jy het. Jy leer om die potensiaal van alles raak te sien, om kreatiewe verbande tussen verskillende velde te lê. Tot vandag toe maak dit vir my persoonlik sin om te gaan kamp wanneer jy met uitlegte en tipografie werk. Om al jou kampgoed in voertuie en waentjies te pak sodat dit perfek pas, is die heel beste oefening vir jou oog om die grootte en kombineerbaarheid van dinge binne ’n regte ruimte te skat.”
Respek, liefde en bewondering
Daar is iets sags en liefs aan die manier hoe die vroue met mekaar omgaan – nie op ’n aansitterige manier nie, maar met respek, liefde en bewondering, wat spruit uit hulle onwrikbare liefde en hoë agting vir Mathilde.
“Ek bewonder my ma se sensitiwiteit, haar intellek, skoonheid en diepte, haar geskenke van die gees, en haar siel en natuurlikheid,” sê Heike. “Sy is totaal onpretensieus, sy ken die ware betekenis van eenvoud en suiwerheid, en sy kan sonder enige inmenging skoonheid in absoluut alles herken.”
Volgens Frauke het die sin vir die estetiese wat haar ma uitstraal of verteenwoordig, niks te doen met die feit dat sy baie bevoorreg is nie. “Dit sal byvoorbeeld te maklik wees om bloot duur ontwerperstoele te koop, wat in elk geval nie noodwendig beteken jy het goeie smaak nie. Dit gaan alles oor meer subtiele dinge wat jy nie op ’n winkelrak kry nie. Dit is die soort estetiese waardering wat aan my ma se idees ’n langdurigheid verleen, iets wat veel meer is as enige standaardproduk wat jy in ’n winkel kan koop.”
En hoewel hulle verkies om saam te werk en hoewel alles wat hulle doen, losweg by mekaar aanklank vind, is die familienalatenskap waaraan hulle werk, op geen manier geforseer of voorskriftelik nie. Hulle kom en gaan en skep net soos hulle wil. Hulle beplan en werk aan etlike projekte waarby verskillende familielede betrokke is, maar alles sal onthul word wanneer die tyd ryp is daarvoor. Want net soos met hulle inherente kreatiwiteit, is dié vroue ook almal met ’n ander eienskap gebore: Die absolute weiering om aangejaag te word.
Birds Boutique Café: +27 (0)21 426 2534, Breestraat 127, Kaapstad, Maandae tot Vrydae 08:00-18:00 en Saterdae 08:00-14:00

