FOTO’S: David Ross | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Taryn Lamberti
Jono Cane en Kate White, die smulpape agter ‘n nuwe benadering tot eet, kry daagliks nuwe aanhangers met hulle terugkeer tot ‘n ongekunstelde, amper Victoriaanse manier om kos gaar te maak en te geniet.
“Ons stapel nie goed op mekaar nie. Ons doen nie fusion, gedekonstrueerde kos of snaakse skuim nie. Die meeste mense hou nie van sulke goed nie. Ons maak regte kos,” sê Jono Cane.
Jono en Kate White is die twee jong geeste agter The Mess, ’n gewilde “pop-up”-restaurant wat hulle in Mei verlede jaar begin het.Dit was g’n Wêreldbeker-bemarkingsfoefie nie – party beskou The Mess as die begin van ’n kosrevolusie waarvan almal ’n tweede skeppie wil hê.
Op hulle blog rapporteer die twee oor die kulinêre konserte in hulle lewe, en hulle “restaurant” is drie maande voor die tyd al volbespreek. Boonop is hulle ook betrokke by The Super market, wat sedert einde verlede jaar in Parkhurst organiese en vakmankosprodukte verkoop.
The Mess gaan daaroor om elke keer op ’n ander plek te eet – van ’n straathoek in die Johannesburgse middestad tot die dak van ’n vervalle gebou. Jono en die span daag op in bakkies met boktafels, ’n gasstoof, water, emmers, tafeldoeke, ligte en sy ouma se silwer-en-beeneetgerei. Hulle slaan dan in ’n japtrap ’n restaurant aan mekaar, elke keer op ’n ander plek.
“Ons soek ’n leë plek, meestal in die middestad omdat mense soontoe wil gaan, en slaan ’n eetplek op… ons doen ook al die voorbereidingswerk daar omdat dit makliker is om kos te vervoer voor dit opgesny is,” sê Jono.
Hulle gebruik studente van die Vega-advertensieskool waar Jono klasgee om alles gedoen te kry. Vars water is die grootste problem, sê Kate, en dit is waarom hulle die gaste vra om dieselfde bord te gebruik vir die vier tot ses gange wat gewoonlik voorgesit word. Dis ook deel van hulle onpretensieuse benadering tot kos. As alles reg is, word die kos op die tafels uitgepak.
Onder die tipiese geregte tel babakwartels, konynbredie, krapknypers, kreef, artisjokke, duif, speenvarkie of cotechino-wors. “Cotechino is ’n skaars outydse salami uit die verre noorde van Italië,” sê Jono. “Jy kook dit vir twee uur in ’n sak en sit dit op lensies voor. Dit lyk olierig en ruik aaklig as ’n mens dit die eerste keer sien. Maar as jy dit eers proe, soek jy dadelik nog.”
Die twee maak ook lieflike slaaie wat sommerso op die tafel voorgesit word. Dis outydse kos, sê Kate. “Regtig outyds. Victoriaans. Laat negentiende eeu.”
Alles word mooi op die tafel gerangskik en mense aangemoedig om met hulle hande te eet. “Ons dink heeltyd oor kos en hoe mense behoort te eet,” sê Jono, wat verkies om homself ’n kok te noem. Hy’s nie ’n sjef nie, sê hy, en hy kry al sy resepte uit boeke.
Met ope arms verwelkom
Die twee se eerlike dog gewaagde benadering tot kos is met ope arms (en monde) deur Johannesburgers verwelkom wat verveeld is met restaurante, sê Kate, wat vyf e-posse per dag kry van mense wat wil bespreek. “Alles het begin omdat ons ook verveeld was met die plekke waar ons geëet het. Ons het besef die lekkerste kos is Sondagmiddagetes by Jono se huis.”
Terwyl hulle nog oor die “pop-up”-restaurant gedroom het, het hulle ontdek die konsep is klaar gewild in Londen en New York. “In Londen rig hulle ’n restaurant in iemand se voorkamer in, en in New York is dit deel van die ondergrondse restaurant- en kroegtoneel. Dit word ‘speakeasies’ genoem, en al dié plekke het geheime ingange en kodewoorde.”
Die speakeasykonsep kom uit die Prohibition-periode in die jare twintig en dertig toe kroegbase wat alkohol onwettig verkoop het, kroegbesoekers versoek het om saggies te praat as hulle drank bestel sodat hulle nie die aandag op hulle vestig nie. Toe hulle agterkom die idee het reeds oorsee posgevat, het hulle oorgegaan tot aksie. “Ons is die doeners in ons vriendekring… ons het die idee vir ’n pop-up-restaurant gekry en die volgende oomblik R10 000 geblaas op breekware!”
Met sy blonde krulle en verbleikte jeans lyk Jono soos die koning van kreatiewe chaos. Kate in haar netjiese rok en balletskoene is die organiseerder. “Ek doen die administrasie en beplanning. Ek’s mal daaroor om die tafels te dek en ek maak die slaaisous.” Kate word wel nie naby die kosstasie toegelaat nie omdat sy “hopeloos op haar senuwees raak”, vertel Jono.
“The Mess het ons sosiale lewe in sy maai gestuur, maar aan die ander kant het dit ons sosiale lewe geword. Ons ontmoet fantastiese mense by ons aandetes en vir ons is dit die grootste sukses van ons onderneming,” sê Kate.
Kate en Jono noem The Mess die eerste fase van ’n eksperiment in kosontwerp. Hulle weet nog nie wat die volgende fase sal wees nie en vir nou gaan hulle ons almal eers aan die raai – en kwyl – hou.
The Mess: www.themess.co.za
The Super market: www.thesuper.co.za

