Hout-tatoeëerkuns

FOTO’S Shavan Rahim WOORDE Malibongwe Tyilo


Read in English.

Raoul Goetze is ’n opgeleide multimedia-ontwerper wat bedags as tatoeëerkunstenaar werk, saans kitaar speel in die psigedeliese rock ’n roll-groep Wild Eastern Arches, en hom tussendeur besig hou met visuele kuns, afdrukke, tekeninge en etse. Die lieflike ingewikkelde mandalas wat hy skets en dan met laser op mahoniehout graveer, het ons oog gevang.

“Ek spesialiseer in grafiese ontwerp, wat my die streng dissipline van ontwerp-uitleg, konseptualisering, aandag aan detail en ’n strewe na volmaaktheid geleer het – en natuurlik ook om altyd iets te probeer maak wat op visuele vlak aantreklik is. Nietemin het ek praktiese ontwerp – dít waarvoor jy net ’n potlood en papier nodig het – gemis. Dit is waarom ek hout as medium gekies het: om my hande ’n slag weer vuil te kry,” verduidelik Raoul. Hy sê hy word ook geïnspireer deur die ritualistiese en spirituele aspekte van mandalas en hou van hulle balans en die detail in hulle konstruksie.

Ons het Raoul se werk gesien en daaraan geraak en is heeltemal uitgeboul deur hulle eklektiese invloede en die manier waarop die werk put uit al die verskillende kreatiewe dissiplines waarin hulle skepper hom werp. Volgens Raoul dien sy mandalas as vertrekpunt vir toekomstige projekte, wat op visuele en funksionele ontwerpe sal fokus. Ons sal beslis op die uitkyk wees vir nog skeppings deur dié maestro.

raoulgoetze.com, 084 089 6601, raoul.goetze@gmail.com