FOTO’S: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Danielle Weakley
Silvio Rech en Lesley Carstens wat in Februarie as die Absolut VISI Ontwerpers van die Jaar aangewys is, het vir ’n verandering nie inspirasie gaan soek in die mees eksotiese uithoeke van Afrika nie. Nee, hulle het die pad gevat na Braamfontein, wat nou hulle nuwe ontwerp- én speelplek is.
Min plaaslike argitekte laat ’n mens so klokslag trots Suid-Afrikaans voel soos Silvio Rech en Lesley Carstens. Hulle veelbekroonde luuksesafari-styl is legendaries, want dié gerekende egpaar reis reg oor die wêreld en grawe hulle eers behoorlik op ’n bouterrein in voor hulle vorendag kom met ’n ontwerp vir manjifieke projekte – soos North Island in die Seychelle en die Ngorongorokrater-lodge in Tanzanië.
Nie te lank gelede nie het die ringkoppe van South Point Development, wat in stedelike herontwikkeling spesialiseer, die egpaar genader om ontwerp-insette te lewer vir die maatskappy se portefeulje van wolkekrabbers in Braamfontein.
“Ons het aanvanklik op ons eie geboue gefokus,” erken Rob Lowdon, uitvoerende hoof van South Point, “maar besef dit is ook nodig om in openbare ruimtes te belê. Daarom was ons opdrag aan Silvio en Lesley om ’n ontwikkelingsplan te bedink vir die groter Braamfontein, met Wits aan die een kant en die Gautreinstasie aan die ander, en vir die mense wat tussen dié twee punte beweeg.”
Die gedagte was om South Point, wat moderne, kontemporêre behuising vir studente bied, in staat te stel om ’n kerndistrik te skep – nie net om die gebied nuwe lewe te gee nie, maar ook om só met hulle jeugdige handelsmerk te spog. “South Point het ’n wonderlike geleentheid gehad,” sê Silvio, “al wat nodig was, is ’n hart.”
Dit lyk dalk of die opdrag aan Silvio en Lesley hemelsbreed verskil van die “kaalvoetluuksheid” waarvoor hulle bekend geword het, maar hulle glo dit het eintlik heelwat gemeen met hulle vorige projekte. “Die meeste boskampe en eilande wat ons ontwerp, bestaan uit komponente wat as sulks ’n gemeenskaplike dorpsgevoel het, en dit is tog iets wat uit ’n stedelike ontwerpfi losofi e ontstaan,” verduidelik Silvio.
Hulle plan vir Braamfontein is om ’n jeugdige sitadel – of fort – te skep waar die middestad ’n groot leefkamer word. Om dié ambisieuse doel te bereik was die eerste prioriteit om ’n ou gebou regoor South Point se voorgestelde nuwe hoofkantoor te sloop om plek te maak vir ’n piazza. Dit staan bekend as The Grove, en vorm reeds die uitgestrekte ingang van die Lamunuboetiekhotel, ’n koffiekroeg en ’n enorme televisieskerm. ’n Musiektoonbank vir DJ’s, superkoel interaktiewe winkelruimtes, ’n rolprentteater op die dak en basketbalbane word later vanjaar geopen.
Volgens Lesley is daar twee vereistes om ’n gesonde stad te skep waar jy kan werk, studeer en ontspan: Daar moet bekende dinge wees, en jy moet ruimtes vir gemengde gebruik inruim.
Silvio gaan voort: “Die Zona Tortona in Milaan was ons inspirasie.” Dié deel van die Italiaanse stylhoofstad was eers ver van waar dinge gebeur het, oftewel glad nie koel nie, maar spog nou met kosmopolitaanse ontwerpwinkels en gesogte handelsmerke soos Giorgio Armani. Die gedagte is om die gebied reg te ruk, maar sonder om dit koud en klinies te maak.
“Die Zona Tortona is nie perfek nie,” sê Silvio, “maar danksy die moderne raamwerk kan allerlei ander geboue daarby inskakel. Ons gaan al baie jare Milaan toe en het nog altyd gevoel iemand moet ’n karkas in die Johannesburgse middestad vat en iets soortgelyks daarmee aanvang. Dit is hoekom ons mal was daaroor om aan dié projek te werk.”
‘n Industriële konsep wat werk
South Point se hoofkantoorgebou lê aan die ander kant van Mellestraat, regoor The Grove. Silvio en Lesley het die gebou se oorspronklike raamwerk behou, maar die res alles gestroop.
“Dit was klaar ’n sterk, Modernistiese ruimte met betonbalke wat ’n mens nie met handskoentjies hoef te behandel nie,” verduidelik Silvio. Die span het die industriële gevoel verder gevoer deur diensdele oop en bloot te los, maar, soos alles wat die twee aanpak, is elke detail sorgvuldig beplan. Die gewone sirkelbuise van die lugreëlingstelsels wat elders in die buurt gebruik word, het in die kantoor byvoorbeeld plek gemaak vir elegante dun ovaal vorms.
Die grondvloer, wat uitmond in die pad, piazza en systeeg, is die plek waar die studente registreer, kompleet met ’n versameling skeloranje stoele en ’n koffiekroeg wat meer tuis sal lyk in die middestad van Manhattan as die onmodieuse deel van Sandton.
“Die grondvloer is verbind met die groter prentjie en die geselligheid buite, en die ingangsportaal vorm dus deel van die stad. Vir studente voel dit soos om in ’n vriend se leefkamer uit te hang – dis nie volmaak nie, maar gemaklik, amper soos ’n ontwerpersjean met gate op al die regte plekke.”
Studente en die gedagte van jeugdigheid voer hier beslis die botoon. As jy die ingangsportaal verlaat, volg dieselfde helder kleure en jeugdige filosofie jou soos ’n Hollywoodster se skootbrakkie. Die herwinde relings van die trappe lei jou na die badkamers met eerlike fluoorbeligting tot in ’n ateljee-styl kantoorruimte met volop natuurlike lig wat instroom deur die glasmure van die grond tot by die dak. Verskillende kleure word slim ingespan om die onderskeie departemente uit te lig, en die gemeenskaplike werkstasies lyk kompleet soos eilande in ’n see van kontrasterende kleure.
As ’n speelse verwysing na Googleplex word mure van gebinde tydskrifte ingespan om die private vergaderruimtes van die oop vloei af te baken. “Die tydskrifmure is innoverend en pas by die jeugdige gees van South Point,” sê Silvio, “maar die papier absorbeer ook klank en is dus funksioneel.”
Vanselfsprekend kan ’n mens ook nie van interkonnektiwiteit praat as die lieflike uitsigte jou nie toegelaat het om die stad en spesifiek die piazza in te neem nie – dis immers sentraal tot die konsep van ’n universiteitsdorpie.
Sterk familiebande
Silvio en Lesley ken Braamfontein goed. Al twee is oudstudente van Wits en woon, werk en ontwerp al amper twee dekades saam. Die paartjie het bekendheid verwerf toe hulle langer as tien jaar op die bouterrein van hulle onderskeie ontwerpprojekte gewoon en inspirasie geput het uit die inheemse boustyle en talente van die plaaslike ambagsmanne. “As ek nou daaraan terugdink, was dit die grootste pret,” sê Silvio met ’n breë glimlag. “Om saam te werk, leef en ontwerp beteken gedeelde belangstellings en gedeelde sukses. Die konsep werk omdat ons ’n familieonderneming is.
“Daar is ook twee ander vorme van familiebande: Ons het ’n band gesmee met die inwoners en ambagsmanne van die Afrikadorpies waar ons gewerk het, en dan is daar die band met ons eie families. My familie vervaardig steeds vir ons meubels (Silvio se familie besit Modellers of Antique Furniture & Classic Revivals), terwyl Lesley se oom keramiekwerk maak (Carstens Ceramics).”
Silvio en Lesley woon en werk in hulle huis in Westcliff, waar hulle drie kinders ook op informele wyse blootgestel word aan die skeppende energie van hulle ateljee.
“Die kinders doen hulle huiswerk in die ateljee en het interaksie met die personeel en speel soms op hulle rekenaars,” vertel Silvio. “Of dit alles in hulle gaan neerslag vind, weet ek nie… ek sal in die wolke wees as hulle eendag argitekte wil word, maar ek sal ewe in my noppies wees as hulle eenvoudig geniet wat hulle elke dag doen en geïnspireer word deur die energie, kreatiwiteit en innoverende denke. My filosofie was nog altyd: Hou dit in die familie!”
Silvio Rech & Lesley Carstens-argitekte: 011 486 1525, adventarch@mweb.co.za

