FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Lee Thorn
Die argitek Paul Mikula, ‘n ywerige versamelaar van inheemse artefakte, het die tradisionele rooi teeldak van ‘n huis in Glenwood laat lig en vir hom onder die dakrand ‘n arendsnes van glas gebou.
Dit was terwyl hy ‘n nuwe drieverdieping-maisonette vir ‘n buurman opgerig het dat die Durbanse argitek Paul Mikula aangevuur is om ‘n “oupawoonstel” te bou in die huis wat hy 34 jaar gelede gerestoureer het.
“Ek het alleen hier aangekarring. Daarom was dit logies dat my seun Max, ’n Johannesburgse musikant, en sy vrou, Nikki, die huis en kelder oorneem en dit as ’n bed-en-ontbytplek bedryf, terwyl ek dan ’n nuwe selfsorgruimte van my eie het. Maar daar was net een manier: boontoe!”
Een van van die dinge in Glenwood waarvoor Paul die grootste waardering het, is al die rooiteël-spitsdakke, waarvan die meeste uit die jare twintig tot veertig dateer. “Ek wou die dak tot elke prys behou,” sê hy.
Die oplossing? “Lig dit net nóg ’n verdieping.”
‘n Groot beskermende hoed
Paul het balke onder die ou dak ingeskuif waar die plafon voorheen was en ’n vloer van hortjiesplanke geskep – “beton sou veels te swaar gewees het”. Hy het stutbalke ingesit en letterlik die dak verwyder en gelig. Skuifglasmure is geïnstalleer voordat die dakbalke en teëls teruggesit is.
“Ek het die glasmure laag gehou sodat dit voel asof ’n mens deur ’n spleet na die lug kyk. Ek hou van die gevoel – dis amper asof jy onder ’n groot beskermende hoed woon. Die son kan nie by my goeters uitkom en dit verbleik nie, en ek het ’n mate van privaatheid omdat ek meer na die middel leef en werk.”
’n Sentrale toring wat vir lig en ventilasie sorg, dra die meeste van die dak se gewig en verplaas dit na ’n vlak ondertoe. Rondom dit het Paul ’n mezzanine-“eiland” geskep met hortjiesplanke en oregon-vloerplanke uit ’n ou pakhuis wat hy in die Punt gekoop het. Oregon-trappe wat aan weerskante oop is – “ek is mal oor die oorspronklike boutgate” – neem ’n mens op na twee werkstasies waar hy aan sy vele projekte werk. Die trap verskaf ook die struktuur vir sy uitgebreide biblioteek en kunsversameling.
Paul, ’n argitek wat die bekendste is vir die vele vindingryke geboue wat sy wye maatskaplike en kultuurbelangstellings weerspieël, praktiseer saam met Tony Wilson, en hulle werk hoofsaaklik in Mauritius en Suid-Afrika – wanneer hulle kliënte met soortgelyke behoeftes kry. Paul teken ook graag en maak waterverfskilderye, én hy skryf en is ’n kurator en versamelaar van artefakte.
In vrede eenkant
In sy arendsnes bo kan Paul die wêreld heerlik dophou terwyl hy in vrede eenkant bly. “Al wat ek nou nodig het voordat ek kinds word, is een vertrek met plek vir my boeke en werk.”
Met ’n ruimte van 14 m x 12 m tot sy beskikking kon hy dit selfs regkry om ’n klein gastekamer aan die een kant van die mezzanine-struktuur te skep – “vir my verpleegster as ek ouer word, en vir die wonderlike Mavis Mbanjwa, wat af en toe vir my huishou,” sê hy grappenderwys. Dié vertrek en die noordelike deel van die huis loop uit op ’n balkon.
Die oorblywende 330 grade van die loft is alles glas, wat sorg vir ’n waarlik skouspelagtige uitsig oor die stad en hawe, selfs uit die stort en vanaf die toilet.
Strukturele dinge word trots vertoon – van dakbalke tot die houtpilare en spanstukke. “Die pilare is op ’n plek waar ek aanvanklik gedink het ’n balkon moet wees, maar dit sou van die binneruimte weggeneem het,” sê Paul. “Maar ek hou steeds van die subtiele afbakening van ruimtes.” Hy het dit beklemtooon deur busvloer- bedekking rondom dié balkongedeelte te lê – “dit kom handig te pas as dit effens inreën” – waar die “goedkoop dog voetvriendelike” tapyt ophou.
Die meubels is karig en funksioneel, en die meeste daarvan is herwinde stukke. “Ek hou nie daarvan om geld of moeite in te sit as dit elders soveel beter aangewend kan word nie – daarom gooi ek nooit iets weg nie.”
“Hierdie is nie ’n museum nie en jy sal niks waardevols hier kry nie,” sê Paul beslis. “Alles is hier omdat ek lief is daarvoor en omdat dit vir my persoonlike betekenis het – dis wat enige plek laat staan. Argitektuur en ontwerp gaan nie soseer oor geboue nie, maar eerder oor die mense, plante en katte, die lug, bome, bakstene, musiek en al die dingetjies wat daarmee saamgaan.”
• Phezulu B&B, Loudonweg 45, Glenwood, 031 201 7493
• Phansi-museum, Esther Robertsweg 500, Glenwood, 031 206 2889 (besoeke slegs per afspraak)
• Mikula Wilson-argitekte 031 206 0118

