Feeverhaal – Villa

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom 


’n Huis in Oranjezicht met die ongewone naam van Port Fairy het ’n paar klein kosmetiese op erasies ondergaan om by haar Italiaans geïnspireerde glans te pas. Die argitek HAYDN ELLIS dink terug aan dié proses.

Toe my kliënte dié Kaapse eiendom in 2006 koop, het dit meer as vyftig jaar al dieselfde eienaar gehad – ja, “een versigtige dameseienaar” – en dit het heelwat voetwerk geverg om die ander desperate partye voor te spring wat graag hulle hande op dié eiendom wou lê wat so onverwags in ’n eiendomsadvertensie verskyn het. Passie het ’n rol gespeel in al die ander projekte wat ek saam met hulle aangepak het, maar in dié geval het dit duidelik oor liefde gegaan – en dis dít wat die knoop deurgehak het. Port Fairy is deur een liefdevolle eienaar aangegee na die volgende, en die planne was dadelik agtermekaar om die ou tante weer ’n hupse postuur te gee.

Die oorspronklike huis, wat in 1926 gebou is, was blykbaar die resultaat van ’n uitgebreide studie oor Palladiaanse villas in Italië. Die eienaar-bouer, ene sen. Whiteside, het in die jare twintig in Italië gewoon, en hy was so gefassineer deur dié ikoniese strukture dat hy een nageboots het. Die huis weerspieël Palladio se styl in die streng simmetrie, grootse proporsies, kruisvormige vloerplan en – wat destyds hoogmode was vir koel huise in ’n warm klimaat – klein venstertjies, diep ruimtes en baie vertrekke. Nuwe era, nuwe opdrag: Dié Oranjezicht-baken op sy prominente hoekerf met lieflike uitsigte oor die stad, baai en Tafelberg was op die punt om ’n ontrimpeling te kry.

Met grande dames loop sake selde klopdisselboom – veral as die Stad Kaapstad se stedelike bewaringseenheid en Wes-Kaapse Erfenis boonop deel word van die storie. Maar in der waarheid het die proses sonder haakplekke verloop. Dit was deurgaans ons plan om te verbeter eerder as te verander, en uiteindelik was dit eerder administratiewe rompslomp as teenstand wat veroorsaak het dat soveel tyd – 12 maande – nodig was om goedkeuring te verkry.

Die grootste kenmerk van Port Fairy is sy koepel en sirkelvormige kolonnade, wat herinner aan Washington se Withuis en ’n hele klomp katedrale. Dis ’n konstruksie van slegs sement wat selfs vandag ambisieus sou wees – 80 jaar gelede moes dit werklik revolusionêr gewees het in ’n voorstad.

Enigiemand wat al probeer het, sal weet dit is ’n derduiwel om ’n ronde ruimte te meubileer en versier. Wanneer die skaal van die ruimtes beskeie is, is dit omtrent onmoontlik; dus was die oorspronklike idee – om ’n eens disfunksionele leefvertrek in ’n studeerkamer en biblioteek te verander – ’n goeie een. Dit het die sleutel geword vir die res van die opknapping.

Ou huise is dikwels donker en somber, en leefstyle het oor die jare verander; dus is van die binnemure verwyder om verskillende ruimtes te integreer en vol lig te kry. Die punt van die gang is ook uitgebreek sodat dit uitloop in ’n rustige watertuin. Die hoofslaapkamer is aan die agterkant vergroot en ’n trap is laat sak in wat voorheen diep fondamente was. Ruimtes wat verlore gegaan het toe die grondverdieping oopgemaak is, is in die kelder vervang: twee ensuiteslaapkamers, ’n tuisteater, ’n personeelwoonstelletjie, ’n ruim pakkamer en, in die basis van die koepel, ’n buitengewone silindervormige wynkelder.

Minimalistiese palet van tydlose materiale

Die buitenshuise gedeeltes het insgelyks aandag gekry: ekstra garages en gebruiksruimtes is aan die agterkant bygevoeg, en op die effense afdraande van die terrein is ’n reeks buitevertrekke in terrasse gebou – dié bestaan uit vermaakgedeeltes en private binnehowe. ’n Nuwe swembad en jacuzzi eggo die vorm van die koepel en ’n buitenshuise braai en swembadkroeg is ’n duplikaat van die kombuis en eetkamer wat daarop uitloop.

’n “Geskulpte” muur is buite-om gebou, wat die eiendom veiliger maak, maar nie die styl bederf nie. Waar hoë mure onvermydelik was, is dit van die sypaadjie af teruggedruk sodat die eiendom ’n grasgroen rand behou. Die landskapsargitekte Kobus Meiring en Alan Dawson het hulle goed van hulle taak gekwyt deur verskillende terrasse met randbeddings te skep vir privaatheid en interessante hoogteverskille. Hulle het ook ’n reeks lae muurtjies aangebring wat die beddings, paadjies en grasperk definieer. Dié muurtjies swenk weg van die huis se basis af soos golwe voor ’n skip se boeg.

Regdeur die bouproses is oorspronklike kenmerke beskerm. Baie daarvan – soos die ysterwerk, plafonne, luike, sommige badkamertoebehore, verskeie ligte en die lieflike hoekplanke van die oorspronklike deure – is wel behoorlik skoongemaak, maar verder onaangeraak gelaat. ’n Hele klomp bestaande afwerkings is deurgevoer na die uitbreidings. Die resultaat is ’n minimalistiese palet van tydlose materiale wat die era van verandering weerspreek.

Die mees geslaagde uitbreidings aan ou geboue is juis dié waarin ’n mens nie probeer naboots wat reeds daar is nie. Dikwels lei dit tot ’n parodie wat die oorspronklike in der waarheid goedkoop laat lyk. Dus, as ’n ontwerppoets vir die argitektuurtydperk en die huis se detail, is ’n paar nuwe elemente met ’n strak minimalisme benader en modern gehou. Sterk kleure is ingebring om oppervlakke wat in sommige gevalle oorversier is, meer abstrak te maak, terwyl beligting die fokusmure, galerye en argitektoniese detail aksentueer. In sommige gevalle, soos met die versilwering van die binnewelwing in die studeerkamerkoepel, het ons ons sommer net aan oordaad oorgegee.

Die resultaat is ’n huis wat gelyktydig respekvol, speels en vars is, met ’nonmiskenbare glans. Perfek vir die lewendige versameling kuns en objets wat dit huisves, en ’n geskikte agtergrond vir die klassieke Knoll-meubels (te kryby Tonic Design), met stukke deur Eero Saarinen, Eileen Gray, Mies van der Rohe, Harry Bertoia en Massimo Vignelli, om maar enkeles te noem. Hierdie plek het dieselfde gevoel as die Hollywood-herehuise van ’n vervloë era én die teenwoordigheid van ’n galery. Dis ook die tuiste van drie uitgelate hondeen ’n konstante stroom gaste. Ek het hier intieme aandetes en in die somer swembadsoirées beleef wat niks minder as legendaries was nie.

’n Mens sou Port Fairy as uitspattig kon afmaak, maar ek dink nie romanse en passie is dood nie. Anders as baie haute-ontwerpe kan dié huis met gemak die grandiose óf nederige voetjie voorsit. Dis terselfdertyd gerieflik en gerusstellend – en heel onverwags sommer net prêt-a-porter of gereed vir leef. 

• Haydn Ellis & Genote-argitekte 021 422 2824, ellisassociates@iafrica.com

• Kobus Meiring-landskapargitekte 082 453 3654, kobmei@telkomsa.net