FOTOS: David Ross | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden | WOORDE: Nia Magoulianiti-McGregor
Main Street Life, ’n ontwikkeling vir gemengde gebruik in die Johannesburgse buurt Maboneng, pols danksy die visie van Jonathan Liebman behoorlik met die skor ritme van industriële hamerbore en skrynwerkers.
Jonathan Liebman, eienaar van Arts on Main, ’n nabygeleë ontwikkeling wat vir die eerste opwindende hartslae gesorg het in ’n gebied wat nog skaars kunsmatig aan die lewe gehou is, is byna klaar met sy jongste meesterstuk: Een wat bestaan uit woonateljees, winkels, ’n onafhanklike filmteater, ’n weelderige dakonthaalruimte en ’n boetiekhotel. Die fokus daarvan is om ’n inspirasie te wees vir kreatiwiteit en innovasie. Maar nie eksklusief nie. “Dis moontlik dat dit bydra tot die stad se kulturele herstel, maar kan terselfdertyd ook geld maak,” sê Jonathan. Wel, natuurlik.
Die plek, ’n nywerheidsgebou uit die jare sewentig wat voorheen as die Jack Lemkus Sports Factory bekend gestaan het, bied aan inwoners en klante van die hotel ’n geïntegreerde ruimte om te skep, speel, leef en varsgebakte kolwyntjies te eet by die Cupcake Factory binne-in Malva, ’n heerlik dekadente winkel op straatvlak wat ook goeie koffie voorsit én die nuutste modes verkoop.
Die 12 Decades-hotel, wat Johannesburg se twaalf dekades vier en aan verskeie kunstenaars en ontwerpers (onder wie die fotograaf Mikhael Subotzky en Love Jozi se Bradley Kirshenbaum) ’n vry hand gee om ’n dekade te vertolk, lok presies die soort gaste waaruit hy sy energie sal kry: filmmakers, ’n groep Spaanse flamenco-musikante en twaalf Brasiliaanse branderryers.
“Hierdie is tegnies ’n outentieke kunshotel, met elke kamer wat ’n kunswerk is – daarom bied ons ’n gespesialiseerde nisruimte vir kreatiewe reisigers,” sê Jonathan, van iets in die twintig. “As ek ’n hotelgas was, sou ek daarop aandring om elke aand in ’n ander kamer te slaap.”
Jonathan het lank “rondgesnuffel” op soek na ou pakhuise om die konsep te huisves wat hy noem “ ’n alternatiewe oopplan-leefstyl wat buigsaamheid bied, maar ook ’n plek vir individuele styl”. Die oomblik toe hy dit vind, het hy die argitek Enrico Daffonchio van Daffonchio & Genote gebel, die man wat saam met Jonathan aan Arts on Main gewerk het.
Enrico het instinktief geweet Jonathan was reg oor die gebou: “Die struktuur was sterk,” sê hy. “Die volumes was só kragtig dat dit tot ’n emosionele reaksie gelei het. Die hoeveelheid sement wat gebruik is, is enorm.”
Hy en Jonathan het, net soos met Arts on Main, saamgestem hulle wou soveel as moontlik van die oorspronklike gebou behou. “Dis deel van ’n wêreldwye trend van volhoubare argitektuur om soveel as moontlik te bewaar en hergebruik. Dit bespaar energie, materiaal, geld, tyd én landvulruimte.” Tog, sê Enrico, ’n argitek moet sensitief wees vir die gebou se ingeboude sjarme en karakter. “Dis ’n fyn balans.”
Die geleentheid om in volumes te leef
Dus is die voormalige Jack Lemkus-gebou gestroop – “om sy essensie te ontbloot”. En die transformasie kon begin. Die inspirasie was Bauhaus en Modernisme, met vierkantige, lineêre lyne en ’n “minder is meer”-filosofie. “Die kleure is skakerings van swart, wit en grys,” sê Enrico. “Dit praat ’n nywerheidstaal.” Bome is in die binnehof geplant om die effek te versag. Die oorspronklike reusagtige oranje letters van staal wat die maatskappy se naam voor die gebou uitgespel het, sal nou as kunsinstallasies gebruik word – spesifiek die A, O, M, S en L vir “Arts on Main Street Life”.
Volgens Enrico bied ’n industriële gebou die geleentheid om in volumes te leef, iets wat onmoonlik is om na te boots in ’n standaard-woonontwikkeling. “ ’n Standaardplafon is 2,5 m hoog, terwyl ons hier byna 4 m het,” sê hy.
Hy was nie van plan om met die oorspronklike industriële argitektoniese sementvloere te lol nie. “Mense sal moor om dié voorkoms te kry. Hierdie vloere is nie net sterk en bestand teen enigiets nie, maar ook propvol karakter. Die geskiedenis staan as ’t ware daarop geskrywe.” Die staalvensters is ook behou.
Jonathan se teikenmark is jong kreatiewe geeste – kunstenaars, argitekte, modeontwerpers – en daarom word elkeen van die vyf verdiepings se woonstelle aan een van dié dissiplines gewy, met ’n sentrale ruimte waarin mense saam kan werk en hulle werk ten toon stel. Hy sê dit is die kreatiewe gemeenskappe wat wêreldwyd kwynende distrikte gered en nuwe lewe gegee het.
Die ontwerp is toeganklik. Die vyf vlakke met 175 woonstelle is vanaf R290 000 op die mark en huurpryse begin by R1 450 per persoon wat deel. ’n Goeie voorbeeld van die goed ontwerpte, multifunksionele meubels wat die beste van die ruimte maak, is die veelkantige lessenaar wat Enrico ontwerp het. Die lampe, rakke, hyser, en die hotelontvangs – maar ook kamer 1926-1936 – is deur Dokter and Misses ontwerp.
Jonathan en sy vrou, die aktrise en eienaar van Malva, Lauren Wallett, woon in een van die dakwoonstelle – ’n sonnige ruimte wat bestaan uit wit op wit. Daar’s ’n bed op ’n platform wat onbeskaamd die meeste van die onversteurde stadsuitsigte maak. “My basiese uitgangspunt is nie om verblyf te verskaf nie, maar om ’n oplossing vir ’n sosiale behoefte te kry deur na my eie lewe te kyk en te sien wat ek wil hê,” sê hy.
Die res van die “ervaring” sluit in ’n multidissiplinêre galery by die hotel se ingang – hier sal allerhande soorte kunswerke, van liginstallasies tot modevertonings, te sien wees. Vir drankies, ’n lyfnatmaak in die swembad of geleenthede wat ’n uitsig van 360º verg, is die dak, kompleet met ’n teleskoopbeeldhouwerk van Marcus Neustetter, beskikbaar. Main Street Life-bewoners het ook ’n fietshuurdiens tot hulle beskikking sodat hulle kan parkeer en fietsry. En dan is daar waarskynlik die enigste fliekteater in Suid-Afrika waar jy ’n Suid-Koreaanse monsterfliek sal kry. The Bioscope, ’n onafhanklike filmteater wat deur Russel Grant en Darryl Els bedryf word, is volgens Russel “die soort kultuurding wat ’n wêreldklasstad net móét hê”.
Jonathan veg steeds teen die persepsie dat die buurt vol misdaad is. “Buiten vir Hillbrow en Joubertpark is misdaad met 65% af,” sê hy. Die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap het miljoene bestee om die gebied te verbeter deur kringtelevisiekameras en straatligte te installeer.
“Dié gebied is trots op sy Afrika-wortels, anders as die voorstedelike leefstyl wat die werklikhede van die vasteland misken,” sê Enrico. “Inwoners kan werk waar hulle leef, waar hulle speel. Dis natuurlik om dit te wil doen.”
• Main Street Life 087 830 0440, www.mainstreetlife.co.za
• Jonathan Liebmann 082 921 6163
• Daffonchio & Genote 011 447 8118, www.daffonchio.co.za

