FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom
Die Suid-Afrikaner is dalk 25 jaar gelede landuit, maar sy kom gereeld terug pm vir ‘n vale inkopies te doen: Sy raap die beste Afrika-meubels en -handwerk op vir haar sjiek Toronto-toonkamer met die gepaste naam, Snob.
Om aan die begin van ’n wêreldwye resessie ’n nuwe winkel oop te maak is nogal ’n groot stap. Maar om die onderneming só suksesvol te maak dat daar binne skaars drie jaar planne is om na ander groot stede uit te brei, ver-klap baie oor Denise Zidel se sakevernuf – en nóg meer oor die gehalte en aantrek¬kingskrag van die stukke wat sy uitsnuffel.
Denise, voorheen ’n radiografis “wat slegs in swart en wit geleef het”, sê kleur het teruggekom in haar lewe toe sy vier jaar gelede, ná ’n lang afwesigheid, in Suid-Afrika kom kuier het. Deesdae soek Denise ook ontwerpe uit ander Afrika¬lande, en met die hulp van Steve Simon, ’n vriend uit haar kinderdae, het sy ’n simbiotiese verhouding met plaaslike ontwerpers en handwerkers opgebou – en ’n opregte belangstelling ontwikkel om hulle ondernemings saam met hare op te bou en te bemark.
Besoekers aan Snob verwonder hulle aan Haldane Martin se Zulu Mama-stoel en Fiela Feather-lamp, Ronel Jordaan se viltspoelklippe, lieflike Egiptiese hang-lampe van metaal waarin patrone gepons is, en stukke wat uit klip gekerf is deur ’n Zimbabwiese straatkunstenaar.
Elke stuk word van die res onderskei deur die verhaal daaragter – vandaar die naam Snob vir Denise se onderneming. “Ek hou van stukke met ’n geskiedenis en ek is mal oor mooi goed wat met die hand gemaak is,” verduidelik sy. .
Snob se tentoonstelling by verlede jaar se Toronto-interieurontwerpskou het ’n groot beroering veroorsaak, en Denise se groeiende klantebasis sluit in ontwerpers, hotels, restaurante en huiseienaars.
Een van Suid-Afrika se waardevolste hulpbronne is sy mense se talent en entre-preneurskap, en danksy ambassadeurs soos Denise Zidel word vraghouers daar-van oor die Atlantiese Oseaan gestuur.

