FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes en Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacqualine Myburgh Chemaly
Die argitek Johan Bergenthuin het in die Wieg van die Mensdom, net noord van Johannesburg, twee afsonderlike huise geskep wat ode is vir die skoonheid van Suid-Afrika se natuurlike erfenis.
Die Wieg van die Mensdom is baie vinnig besig om dié speelplek te word van hardwerkende Johannesburgers wat wil wegbreek uit die dolle gejaag van die stad. Maar dis nie sommer enige speelplek nie, want hierdie wêreld se unieke paleontologiese waarde maak dit ook een van die belangrikste erfenisterreine ter wêreld. Dis hoekom die soort mens wat hier kom batterye herlaai, iemand is wat hou van skaars, ongerepte dinge – hulle gaan behoorlik uit hulle pad om te verseker dat hulle teenwoordigheid die kleinste moontlike impak op dié merkwaardige stuk aarde het.
Met hulle persoonlike passie vir alles wat met argeologie te doen het, het dit dus sin gemaak dat Mark en Christine Read van die Everard Read- en Circa-galery hulle naweekhuis in die Wieg bou. Plovers Lake House is die klip-en-glashuis waarheen die Reads elke Vrydagmiddag ontsnap as hulle kan.
Die huis, ontwerp deur die Johannesburgse argitek Johan Bergenthuin, is blink en modern dog warm en gerieflik. Soos ’n mens kan verwag, is dit propvol kuns en dinge wat die storie van die egpaar se vol lewe vertel.
Die huis bestaan uit ’n klompie geboue rondom die sentrale leefgedeelte van glas en klip. Die Reads se volwasse dogters het’n eie suite; ’n besoekershuisie staan ’n diskrete entjie van die hoofhuis af; en Christine en Mark kan na hulle kamer op die heuwel vlug en die uitsig en die vrede van die omgewing geniet. In elke slaapkamer sorg ’n mezzanine-vlak nie net vir ekstra slaapplek vir kinders nie, maar dis ook ’n slim konsep vir pakplek.
Die Reads se bure, skaars 100 m verder, het ’n moderner styl vir hulle huis gekies, maar steeds met volop glas en klip sodat dit met die landskap kan saamsmelt. Die mure is gebou deur lae leiklip op mekaar te pak – Johan het dit gekies want, sê hy, in sy kop is dít hoe die aarde gevorm is: laag vir laag.
Net soos met die Reads se huis is dié een se dak van ligte sink – ’n subtiele verwysing na die koloniale Transvaalse plaashuis wat ’n mens vroeër hier sou kon raakloop. Oop sementbalke sorg vir ’n voorkoms wat terselfdertyd landelik en kontemporêr is, terwyl ventilasievensters bydra tot die 21ste eeuse skuur-effek.
Die swart geute vorm ’n subtiele kontras met die houtskoolkleurige fassieborde – en sorg vir gebosseleerde detail wat tekstuur aan die ontwerp verleen. Die balau-dek buite herinner ’n mens aan die natuur, en die kleur daarvan verander mettertyd in ’n lieflike grys. “Die hout is ook lig op die aarde – ’n mens wil nie hê dit moet hier inmeng nie!” sê Bergenthuin. Die swart, grys en bruin kleurpalet is geïnspireer deur die omgewing om die huis, veral die witstinkhout-woud daar naby.
Soos dikwels met Bergenthuin, het die ontwerp van dié huis grootliks op die terrrein ontstaan. Nes die Reads se plek is dit meer as ’n huis; dis eerder ’n kompleks van vertrekke wat deur buitegange met mekaar verbind word. “Jy móét net uitgaan en die weer ervaar,” sê Johan. “Anders voel dit nie soos naweek nie en jy kan net sowel teruggaan Johannesburg toe.”
Eenvoud perfek geïnterpreteer
’n Bietjie afstand tussen die vertrekke is ook ’n goeie manier om seker te maak jou naweekgaste geniet privaatheid.
Omdat die huis suid front, het Johan klein vensters ontwerp vir die deel van die dak wat noord front – sodat die vertrekke behoorlik lig kan kry.
Die egpaar het drie seuns wat almal saam in ’n koel plek bly wat ’n mens aan ’n plattelandse koshuisopset herinner. Reg langsaan is ’n stort wat groot genoeg is vir drie mense, en onder is ’n speelkamer – amper soos ’n “sel” wat met groot gesinsfoto’s versier is. Eenvoudig.
Sarah Watermeyer, die binneversierder, het Johan Bergenthuin se blinkgladde eenvoud perfek geïnterpreteer. Met die bedlampies wat nie bymekaar pas nie en gastebeddens met prettige Afrika-komberse vir ’n goeie ou middagslapie kry ’n mens ’n gevoel van plattelandse sofistikasie, maar sonder enige pretensie.
Al twee dié huise in die Wieg word ook deur die ligte aanslag van die 27-jarige landskapargitek Wesley de Witt saamgesnoer. Wesley, wat al jare lank met die Reads bevriend is en al saam met die legendariese Patrick Watson gewerk het, het hier naby grootgeword en besit self ’n klein huisie by Nirox. Wesley voel passievol daaroor om die impak op die natuurlike omgewing so klein as moontlik te hou. Vir hom is landskapswerk eerder ’n filosofie as ’n professie, en hy meen die meeste van ons bestee gans te veel tyd aan die plant van ’n tuin en te min tyd om die kontoere behoorlik te bestudeer.
By Plovers Lake House het hy gefokus op die bestaande vlakke en vorme van die natuurlike omgewing, en verskillende grassoorte gebruik om interessante ruimtes te skep. Die treffendste is die massa-aanplanting van inheemse plante om die omgewing te verryk. Die enigste uitsondering is die immergroen grasperk voor elke huis. Wesley sê dié soort tuin is vir die eienaars ook ’n seën, want dit verg die minimum instandhouding.
’n Mens kan skaars onderskei tussen Wesley se werk en dié van Moeder Natuur – kan daar enige beter lof wees vir die talente van ’n landskapkunstenaar?
• Louis Louw Johan Bergenthuin-argitekte 011 781 3663, reception@lljb.co.za, www.lljb.co.za
• Sarah Watermeyer 083 407 6857, 011 838 9211
• Wesley de Witt 082 978 1135, wes@circaonjellicoe.co.za

