In die sewende hemel

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes & Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacqualine Myburgh Chemaly


Die Randlords-kroeg-en-lounge het ’n ongelooflike 360 grade-uitsig oor Johannesburg, maar die manjifieke ontwerp van dié nuwe uithangplek hoef nie ’n treetjie vir die uitsig terug te staan nie.  

Wat kry jy as jy een van Afrika se voorste argitektuur-en-leefstylspanne en die ontwerpduo agter van die vasteland se luuksste lodges saam ’n kroeg op die 22ste verdieping van ’n kantoorgebou in Braamfontein skep?

’n Hemelhoë dosis Afrika-moetie, dis wat!

Toe Debra Fox en Chris Browne, die kreatiewe en bestuurspan agter luukse uitspanplekke soos &Beyond se Ngorongoro Crater Lodge, verlede jaar hulle eie konsultasiefirma begin het, het hulle nooit kon droom een van hulle eerste opdragte sou in die ietwat vervalle middestad van Johannesburg wees nie. Maar nou ja, net soos die twee destyds baanbrekers was toe hulle met kristalkandelare en Persiese tapyte nuwe lewe in safarilodges geblaas het, lui hulle skeppende visie nou ’n blinknuwe era in vir die hart van die Goudstad. Randlords, ’n skouspelagtige uithangplek op die dak van ’n wolkekrabber in Braamfontein, span as ‘t ware die kroon.

Debra en Chris het dadelik die hulp ingeroep van die argitektuur-en-ontwerpkenners Silvio Rech en Lesley Carstens, wat veral vir hulle lodge-ontwerpe – ook vir &Beyond – bekend is. Silvio en Lesley spesialiseer in “handgemaakte haute couture” en laat hulle altyd deur die inheemse estetika en plaaslike vaardighede lei wanneer hulle ’n allesomvattende ontwerplossing vir ’n ruimte bedink.

Die twee spanne het met ’n konsep vorendag gekom wat totaal in voeling is met ’n kontemporêre Johannesburgse leefstyl: ’n bietjie Afrika, ’n skeut burlesk en hope grootstad-sofistikasie. Die ruimte bestaan uit ’n glansryke kroeg en ’n verskeidenheid sitruimtes kompleet met banke wat oorgetrek is in leer, poefs, houtstoeltjies en swaaie wat met kralewerk spog. Dit maak nie eintlik saak waar jy sit nie, want oral kan jy jou vergaap aan die uitsig oor die betonoerwoud en sy buitewyke. As jy buite ontspan, kan jy jou oë tegelykertyd oor Soccer City en Sandton City laat gly. Saans sorg vuurdromme, ’n glasbalkon en miljoene stadsliggies vir die heel lekkerste hemelhoë kuierplek in Gauteng.

Die spyskaart bestaan uit ontwerperstapas: beessosaties bedruip met pesto, blini-stapels, kaviaar… En as jy soos ’n koning wil voel, bespreek jy jou eie dranktrollie – kompleet met jou eie butler vir die aand. Wees ook op die uitkyk vir die gewaagde video’s in die mansbadkamer en die sexy kelnerinne met blonde pruike en goue stewels. James Bond kan sy ou skoene agterna gooi! Ons hoor al vir jare praatjies dat Johannesburg se sentrale sakekern uit die dood gaan opstaan. Randlords met sy sexy wêreldstadstyl is dalk net die draaipunt waarop almal gewag het.

• Randlords, boonste verdieping, South Point Towers, hoek van Stasie- en De Korte-straat, Braamfontein, www.randlords.co.za, 011 242 8637

• Fox Browne Creative 083 280 7304 (Debra Fox), 083 456 8994 (Chris Browne)

• Silvio Rech & Lesley Carstens-argitekte 011 486 1525/082 900 9935, adventarch@mweb.co.za

Die volhoubare betonoerwoud

Randlords vorm deel van ’n “volhoubaarheidsvisie” wat die ontwikkelaar South Point vir die hele Braamfontein het.  

South Point het reeds verskeie verwaarloosde geboue in Braamfontein opgeknap en in stylvolle, bekostigbare studentebehuising verander, maar sorg ook terselfdertyd vir vermaak saans in die vorm van kuierplekke soos die S-Bar, die SP Café-koffiewinkel en die superkoel Lamunu-hotel in De Kortestraat.

Almal weet Sandton kan nie in alle Johannesburgers se smaak voldoen nie, en South Point meen Braamfontein is net die regte bly-en-kuierplek vir studente van die Universiteit van die Witwatersrand en elders – selfs wanneer hulle die dag klaar is met hulle studies. Met ’n unieke mengsel van modes, kos, kuns en teater lok die area wat die brug tussen die middestad en die noordelike stadsgebiede vorm, reeds mense in die kreatiewe bedryf wat daar woon én werk.

As ’n mens in gedagte hou dat Parkstasie op die suidelike grens van Braamfontein lê, kan die gebied dalk ’n goeie slaapvoorstad vir die Sandton-sakekern word, veral wanneer die Gautrein se suidelike been eers voltooi is. Buitendien kan almal dit nie bekostig om noordwaarts te trek nie, en wie sê in elke geval hulle wil? Dalk word die blinknuwe Braamfontein die lekker alternatief waarop almal al jare wag.