Agter al die groot trendnuus skuil nie net die ontsagwekkende doyenne van die wêreld se toekomstige hoog- en laagwatergetye nie, maar ook ’n fyngevatte vrou van inbors met die naam Lidewij Edelkoort.
En dit maak nie saak of sy dink aan wat Annie Hall in 1975 gedra het, parfuums by belastingvrye winkels probeer, gek is oor die somer of praat oor hoe vigs kreatiwiteit laat sneuwel het nie – Li leef voort in haar eie feëverhaal en hou nooit op droom en ontleed nie.
Daniel Scheffler, wat tyd saam met Li deurgebring het tydens haar besoek aan vanjaar se Design Indaba, het nie belang gestel in nog ’n voorspelling oor trends, kleure of materiale nie. Dis haar skoonheid en gewoonheid, haar soektog na menslikheid, wat tot hom gespreek het.
VISI: Van watter flieks hou jy?
Ek fliek meestal op vliegtuie. Ek het verlede jaar meer as 90 reise onderneem en kry dit só reg om absoluut alles te sien. Die kykervaring is baie anders vanweë die intense direkte en moeilike omstandighede. Ek hou wel daarvan om flieks te koop wat ek meer as een keer kan kyk, soos Annie Hall, The Sound of Music (almal is mal daaroor en daardie gehuil aan die einde!) en Out of Africa.
Wat het jy van Meryl Streep gedink by vanjaar se Oscars?
Ek was mal daaroor dat sy soos die goue beeldjie aangetrek het! Goddelike Lanvin.
Stem jy saam dat Annie Hall vandag steeds relevant is?
Beslis. Kyk maar na die modes wat lyk soos iets wat jy by jou kêreld geleen het, die huldeblyk aan vroue, en ook die humor in die dialoog.
Kyk jy televisie?
Ek is mal oor reekse – dis die hedendaagse flieks. Ons bou sulke intieme verhoudings op met die karakters wat ons week ná week in TV-reekse sien. Ek koop veral versamelstelle en kyk ’n hele klomp episodes op ’n keer, byvoorbeeld Lost, Dexter of die Tudors. Ek dink wel ons het meer dokumentêre programme nodig – daar is eenvoudig nie genoeg om te ervaar nie. Ek is veral mal oor enigiets wat handel oor die natuur of die BBC-reeks met sir David Attenborough… daardie stem! Kletsprogramme is vrot – ek dink nie ’n mens moet onder druk geplaas word om binne ’n sekonde – selfs ’n nano-sekonde – te sê wat ’n mens moet sê nie. Die enigste uitsondering is Bill Maher in die VSA – die een kritiese stem in die politiek en samelewing.
Geniet jy dit om te lees?
Boeke lees ek net in die somer omdat ek dan genoeg tyd het om dit in een sitting deur te lees. Gedurende die jaar lees ek ’n magdom verslae en koerante vir my werk, soms ook ’n kort roman soos Jayne Mansfield deur die Franse skrywer Simon Liberati. Maar ja, ek is mal daaroor om boeke te lees. As daar een boek is waaroor ek absoluut mal was, is dit Agaat deur die Suid-Afrikaanse skrywer Marlene van Niekerk. Dit betrek die geofisieke omgewing, daar’s ongelooflike spanning, karakters wat in die fynste lae ontvou, iets romanties, en ’n pioniersbenadering tot styl en ontwerp. In die somer raak ek dus amper bulimies van al die gelees. Vir my skoolprogramme geniet ek dit ook om meer oor opvoedkunde en geesteswetenskappe te lees. Ek is besig om die Grimm-broers se sprokies te herontdek. Ek dink ons onthou dalk die stories, maar vergeet die spesifieke besonderhede.
Wat drink jy graag?
Koffie in die oggend. Ek hou van my ou espresso-pot soos die Italianers dit gebruik. Ek het ’n Nespresso-masjien present gekry, maar dit het binne ’n week gebreek. Baie teleurstellend, George. Deur die dag drink ek graag vonkelwater en tee. Maar ek hou ook van iets alkoholies en geniet vodka, wyn en sjampanje.
Vertel ons van jou eetgewoontes.
Ek is nie ’n groter eter nie. Ek dink as samelewing het ons reeds genoeg verorber. Vir my is kleiner happies die volgende verskuiwing in die koswêreld. Ek hou daarvan om gesond te eet – brood vir ontbyt en ’n slaai vir middagete. Saans eet ek ’n gekookte maaltyd, maar ek vermy meestal voor- en nagereg.
Hoe slaap jy?
In die middel van die bed met my katte rondom my. Adam en Eve. Maar Adam is verlede week dood, en daarom is dit nou net ek en Eve. Omdat ek so baie reis, is ek permanent vlugvoos… dit het ’n groot invloed op my slaappatroon. Ek raak altyd vroeg wakker om te dink, te lees, die nuus te kyk.
Hoe verloop ’n gemiddelde dag?
Ek is vroeg uit die vere – teen 5 vm. –en dan lees ek graag. Die lekkerste is om in my pajamas te bly en van die huis af te werk voor ek in die middel van die dag kantoor toe gaan. Ek was altyd ’n naguil wat tot ounag gerinkink, mans verorber en saam met vriende gaan dans het, maar nou staan ek saam met die hoenders op. In die somer gaan stap ek in die tuin, want vroegdag is my kosbaarste oomblik. Ek is ’n bietjie soos ’n kat.
Hoe wil jy eendag doodgaan?
Bewustelik. Miskien weens ouderdom of ’n progressiewe siekte. Ek wil die afstandelikheid van die liggaam ervaar. Die bevryding van die gees sal wees soos ’n vlieër wat opstyg – solank ek die kans het om te groet.
Waarvoor is jy die liefste?
Werk. Dit is my passie en my stokperdjie.
Wat haat jy die meeste?
Nie veel nie. Met ’n stuk lewe agter die blad was daar weliswaar botsings met ’n paar mense. Die gees van my moeder hou op my skouer wag en wil vergewe word omdat sy so ’n swak ma was… daarom het ek op algemene amnestie besluit sodat sy seker kan wees sy is ook vergewe. Dit is baie bevrydend. Om te haat is ’n totale mors van tyd.
Wat is jou gunstelingstad?
Daar is baie stede waaroor ek regtig gaande is. Tokio, Stockholm, New York, Kaapstad.
Waar besit jy huise?
Normandië, Parys en New York.
Is jy godsdienstig?
Nee. Ek is ’n nie-spirituele spiritualis. Ek word aangetrek deur water, wuiwende gras en spoelklippe.
Mediteer jy?
Op die vliegtuig. Ek is van nature net stil.
Is daar ’n geliefde in jou lewe?
Ek het ’n langtermyn-metgesel, Anton, wat ’n beroerte gehad het. Dit het die dinamika van ons verhouding verander. Ons verhouding is een van sorg-en-liefde, of liefde-en-sorg.
Verkies jy mans of vroue?
Mans is nie meer my stokperdjie nie. Ek vind dit moeilik om interessante mans van my ouderdom te ontmoet – daarom hou ek baie meer van jonger mans. In die algemeen dink ek vroue ontwikkel meer. Mans is besig om hulleself te bevry, wat beteken daar is groei en hoop. Maar ek kom uit die feministiese era, waar rabbedoes die botoon gevoer het, en wat dit seker meer regverdig gemaak het. Mans het 100% man geword en vroue 100% vrou, wat hulle totaal afgesluit het. Toe al die kreatiewe gay mans in die jare tagtig aan vigs dood is, het die heteroseksuele kreatiewe mans skielik oorgevat en die loskopdolla teruggebring. Dit het feminisme in ’n sekere sin weer teruggesit tot waar dit begin het.
Wat is jou menslikste eienskappe?
Ek dink ek is gaaf. Taamlik vrygewig en glad nie ’n skinderbek-soort persoon nie. Ek is ook baie optimisties en nie sinies nie.
Vertel my meer oor jou familie.
Ek het nie kinders nie, maar ek gebruik my moederinstink vir my studente en personeel. Ek is ’n middelkind met twee susters. Ek sien hulle baie selde, maar elke jaar op my ma se verjaardag hou ons ’n susterdag en doen iets spesiaals. As middelkind en swartskaap is ek toegelaat om te doen wat ek wil, en ek was mal daaroor.
Hoe was jy as kind?
Ek was ’n maklike kind – altyd op my eie planeet. Ek het in my verbeelding geleef. Die ongelooflikste ding wat my ouers gedoen het, was om my nie na voorskoolse klasse te stuur nie. Ek was dus tot op sesjarige ouderdom heeltemal vry om te fantaseer en in die somer hutte en tente te bou. Dit was die jare vyftig en ons het daardie tyd nie juis verwysings gehad soos vandag nie. Ek moes eenvoudig lugkastele bou.
En hoe was jou studentejare?
My selfverwesenliking het op kunsskool plaasgevind. Dit het my talent na vore gebring om byna dadelik met kreatiewe oplossings vorendag te kom vir enigiets in die lewe. Dit het my ook gedefinieer en ontwerp en veral die sterk geloof in myself bevestig wat van kleins af daar was.
Doen jy oefening?
Nie regtig nie. Ek hou daarvan om in die see te swem en gaan stap graag.
Dra jy parfuum?
Soms. Maar weens die sekerheid by lughawens loop ek nie meer met bottels parfuum rond nie. Ek maak wel ’n draai by die belastingvrye winkels op lughawens en toets alles!
Bestuur jy?
Nee, ek het nooit leer motor bestuur nie. Ek is ook ’n gevaar op ’n fiets omdat my gedagtes dikwels elders is.
Lees meer oor Li Edelkoort en haar werk by www.trendtablet.com

