Ontwerpbestemming: 03 Desmond

Read in English.

03 Desmond in Kramerville is Johannesburg se jongste ontwerpbestemming waar van Suid-Afrika se top-ontwerpershandelsmerke hulle nou tuismaak. VISI het ’n draai gemaak om ons gunstelinge uit te soek. Kan iemand nou net asseblief ’n restaurant op die dak oopmaak…

Nap en geniet. Suid-Afrika se antwoord op Armani-huisware bly die toppunt van gedempte styl. Daar is eenvoudig nie ’n beter plek om ’n nuwe geurkers, oorgooideken, glasvaas of enige ander sjiek basiese stuk aan te skaf nie.

Fabcote vir mure en nog wat. Moenie net by muurpapier vassteek nie: Daar is niks meer luuks as materiaal om ’n vaal muur op te kikker nie. Fabcote spog met enigiets van 3D-materiale tot egte bladgoud – voel is glo.

Ontdek die Egyptian Cotton Studio. Uiteindelik kan jy beddegoed van Egiptiese katoen – in veel meer as net wit – aanskaf sonder om jou bankbestuurder die stuipe te gee! Gaan bederf jouself by dié luukse winkel, en loer veral na die spogreeks wat enige tyd by Frette kan kers vashou.

Ora se buitelewe-wonder. Nes ’n mens dink buitelewemeubels kan nie ’n aks opwindender nie, oorrompel ORA ’n mens met hoëdigtheid-skuimstofmeubels wat met rubber bedek is en soos beton lyk. Ons wil onmiddellik hierdie swembad-chaise longue hê!

Wunders kom weer. Een van Kaapstad se mees geliefde meubelwinkels keer terug na die Goudstad met ’n lieflike versameling meubels. Ons is mal oor die dramatiese nuwe winkel wat ook ’n wonderlike inspirasiebron vir muurbedekkings is. Ons groot gunsteling is Wunders se rusbankstelle van linne met die some aan die buitekant.

Mal oor Mud. ’n Mud-kandelaar is een van daardie ikoniese ontwerpergoed wat elke huis verdien. Boonop is dit nou in Johannesburg te koop op die dak van 03 Desmond – een van die allerlieflikste plekke wat die afgelope klomp jaar sy deure geopen het.

Egg is hier! Egg Design is Durban se beroemdste ontwerphandelsmerk – en waarskynlik ook ons grootste uitvoerder – en nou kry Gautengse koopslawe hulle beurt. Die toonkamer is groot en opwindend met ’n geheime vertrek vol slim platverpakte meubels vir kinderkamers. Ons is gaande oor hierdie skommelstoel en voetstoel van dennelaaghout en grys vilt.

Span uit onder die Oggie-boom. Oggie wen sonder twyfel die prys vir die beste toonkamer by 03 Desmond. Hulle het ’n massiewe kremetartboom binne-in die winkel gebou – iets wat jou dadelik kalmeer. En wie droom dan nie van ’n pragtige Oggie-eikehoutvloer nie?

Fabelagtige vondste by The Fabric House. Wie is dan nié gaande oor ingevoerde en ontwerpermateriale en afwerkings nie? Die slim Heather Lund-Truter raap al die afvalstukke by die peperduur plekke op en verkoop dit aan ons vir ’n appel en ’n ei. Respek!

Een, twee, 03cubed. Drie van Kaapstad se koelste handelsmerke – Modern Home Company, Beauty Fires en Fibre Designs – het kragte saamgesnoer en ’n toonkamer by 03 Desmond geopen. Ons is mal oor die huidige kleurontploffing daar en het ’n ogie op ’n draagbare mini-vuurmaakplek. Ja, jy moet dit sien om dit te waardeer!

Magiese materiale van Tessa Sonik. Ons is in die wolke oor Tessa Sonik se nuwe toonkamer digby Sandton. Ons huidige gunstelinge is Tessa se keur van helder skakerings – daar is ’n geel wat ons eenvoudig nie kan vergeet nie.

Indiese idees by Tin Table. Ons is dolverlief op die aweregse Indiese versamelgoed van Tin Table, wat by 44 Stanley gebore is. Die pryse is goed en elke keer as jy besoek aflê, wag daar iets nuuts wat die aandag trek. Hoe klink ’n ou Indiese tandartsstoel?

www.kramerville.co.za

Hulle was nog nie daar teen die tyd dat ons ons foto’s geneem het nie, maar een van VISI se gunstelinge, Tonic, gaan blykbaar ook 03 Desmond toe trek – iets wat Kramerville beslis die ontwerp-polspunt van Johannesburg sal maak.