FOTO’S Lien Botha WOORDE Haydn Ellis
Oor die naweek verruil die Kaapstadse argitek Haydn Ellis sy stadslewe en minimalistiese huis vir ‘n “aweregse toevlugsoord” op Kleinmond.
Toe ons klein gîte (Frans vir ’n landelike wegkruipplekkie) nog maar ’n baba was, het ons dit “Vrydag” genoem. Dié naam is sinoniem met alles wat dit vir ons beteken. Dis ’n naweekwegbreekplek waarna ons telkens uitsien ná die veeleisende stad; die lig aan die einde van wat soms na ’n tonnel voel; ’n plek wat gaan oor óns lewe en óns tyd.
Ons sou dit ook die “spookhuis” kon noem – toe ons intrek, was die reaksie van die plaaslike mense baie amusant – maar die huis is nou heelwat sagter en ons het gedink ons hou sake eerder vriendelik.
Toe ek in 2001 op die eiendom afkom, was dit liefde met die eerste oogopslag. Ek het die 120m na die onderpunt van die tuin gestap, deur ’n verwaarloosde boskasie waarin alles eenvoudig wild geraak het. Dit was fantasties: ’n lowerryke toevlugsoord in ’n voorstedelike straat, ’n grasgroen hemel, nóg fraai nóg kosbaar, in ’n see van eksieperfeksie klein landskappies.
Ook die geboue is nie fraai of kosbaar nie: ’n dubbelgarage wat in ’n eenvoudige kothuis omskep is, met ’n toilet en pakkamer in ’n buitegeboutjie. Ons het geen begroting gehad nie, en het toe net die strukture uitgeruk en met mekaar verbind. Ons het die hele ding in die kleure van rum-en-rosyntjie en bittersjokolade geverf, en ’n woud van struike en bome geplant.
Die binnekant is iets waaraan ons gedurig werk – dis dalk presies die teenoorgestelde van my monochromatiese, minimalistiese Kaapstadse huis; die teenpool van die deurdagte, fyn afgewerkte ontwerpe wat kenmerkend is van my praktyk se werk.
Vrydag huisves ’n mengelmoes van meubels, objets en kuns. Sommige daarvan sleep ek al sedert my studentedae saam met my. Dis ’n eklektiese mengsel, maar elke stuk het ’n geskiedenis en vorm deel van ’n storie – my woord vir dinge wat saam konsert hou. Dis soms spitsvondig, dikwels kru, maar altyd speels.
Ek verafsku ’n deurmekaar, volgestopte plek en gee voor dat sentiment my koud laat. Dít wat hierdie interieur geword het, is dus vir my ’n skok en ’n verrassing. Dit verander die heeltyd en word stiller; as ek hier gewoon het, was dit ’n gans ander storie.
Vir my is ’n “vakansiehuis” ’n plek wat heel anders is as die ruimte waar jy werk, en niks onderskei Vrydag méér van my stadsbestaan as sy tuin nie. Dis ’n bron van eindelose vreugde en frustrasie: Ek word nederig gehou deur die tyd wat plante neem om wortel te skiet, deur die feit dat hulle ewe dikwels vergaan as floreer. Dis betowerend om te kyk hoe ’n tuin groei.
Insekte, voëls en ander diere rond dié towerkoninkryk af. Oor die jare was ek ook gasheer vir bobbejane, slange en spinnekoppe, skilpaaie en paddas, tallose klein voëltjies, ’n uil, ’n valk en ’n ratel wat Eeny, Meeny, Miny en Mo (ons goudvisse) se einde was.
Die aronskelke word die heeltyd deur ’n enorme ystervark geplunder, en daar’s ’n tarentaal wat ons Narcissus gedoop het – dié kan net nie verby ons glasdeur stap sonder om na sy eie weerkaatsing te pik nie. Hy is ook soggens ons wekker.
Kampsbaai van die Overberg
Sedert ek op Vrydag afgekom het, noem ek Kleinmond graag die Kampsbaai van die Overberg. Die dorp is die tuiste van ongerepte strande, die naasgrootste riviermonding in die land (dis ook waar Suid-Afrika se enigste wilde vleilandperde voorkom), en ’n ongelooflike uitgestrekte reeks fynbosbedekte berge. Dis ’n enklave omring deur dié manjifieke elemente – dus kan die dorp nie onbepaald uitbrei nie.
Die gebied se erfenis is net so dramaties soos die omgewing waarin dit lê. Dis oeroud, soos die 2,000 jaar oue Khoisanviswippe of die “Drosters van Kleinmond” – die vlugteling-slawe wat in die 18de eeu by Drostersgat rondgehang het. Hulle was heel moontlik die heel eerste georganiseerde misdaadeenheid in Suid-Afrika.
Die onlangse geskiedenis is ewe kleurryk: Nadat die boer Piet Rademeyer die laaste luiperd in die Kogelberg geskiet het, het ’n plaaslike inwoner sy boodskap met spuitverf in Hoofweg uitbasuin: “Save the leopard, shoot Rademeyer.”
Ons huis is waansinnig, aweregs, vol herinneringe en betekenis. Dis ’n skouspelagtige plek om vriende te onthaal, maar ook ’n toevlugsoord waaroor ek verbete waak.
Hier is onverwagte gaste – ons noem hulle “The Knitting Club” – en die lui van my selfoon onwelkom, maar dis waar ek sal aftree en waar ek langnaweke steel; waar ek nie net van ’n gemeenskap ontsnap nie, maar ook een aangryp. Dis waar my hart lê.
Dank Vader vir Vrydag.
Ellis & Associates-argitekte 021 422 2824

