Sake van die hart

FOTOS: Daniel Snyders | PRODUKSIE: Sumien Brink | WOORDE: Jocelyn Warrington


Dit was liefde met die eerste oogopslag, en in vele opsigte verbeelding wat oor gesonde verstand geseevier het, toe die binnehuisontwerper Tanya Sturgeon die piepklein Victoriaanse villa in die skadu van Tafelberg raakgesien het.

Dis Plato wat gesê het, elkeen wat deur liefde aangeraak word, word ’n digter. En daar’s sekerlik poësie in die liriese manier waarop die binneversierder Tanya Sturgeon haar Kaapse huis ingerig het – hoe elke unieke stuk sy individuele stem behou terwyl dit saamsing met die res in ’n ode aan haar intense liefdesverhouding met haar tuiste.

Dit het dié materiaalontwerper, nou die eienaar van ’n dekor-emporium, net drie weke geneem om hier aan die hange van Tamboerskloof nes te skop. “Die vorige eienaars het kort nadat ek ingetrek het, ingeloer – en kon hulle oë nie glo nie,” sê sy en erken ruiterlik dat die rede vir haar vinnige skuif deels as gevolg van ’n vroeëre swak keuse vir ’n woonplek was. “Ek het van Johannesburg af getrek na ’n huis in die suidelike voorstede wat regtig nie by my leefstyl of persoonlikheid – en my goeters – gepas het nie.”

Die tyd wat dit elke dag geneem het om na die Kaapse stadskom te pendel, waar sy saam met haar susterskind, Amanda Fellows, die binnehuis-ontwerp-en-dekorwinkel T&Co. besit, het haar uiteindelik laat besluit om ’n huurder vir haar splinternuwe huis te kry. Die dag waarop die huurders moes intrek, het nader gekom en Tanya het geen heenkome gehad nie – daarom het sy toe maar haar kosbare besittings in bokse gepak en skuiling gaan soek by haar mede-leefstylslaaf Gail Behr.

Maar toe sy ’n paar maande later die oulike gerestoureerde villa in een van die stad se oudste woonbuurte raaksien, was die argetipiese loftplafonne en broekiekant-stoep genoeg om haar te verlei. Die papiere was binne drie dae geteken.

‘n Passievolle liefdesverhouding

Tanya is nou heeltemal tuis in haar nuwe huis: Die mure is geverf, die skilderye opgehang; die bykomstighede is uit bokse gegrawe; die versamelstukke is liefderik herstel en weer deel van ’n reeks weloorwoë stillewes op tafelblaaie en in bestaande nisse wat lyk asof dit spesiaal daarvoor gemaak is.

Terugskouend, beskryf Tanya, wat duidelik haar hart verloor het, die proses as ’n passievolle liefdesverhouding. Sy erken skamerig: Op dae dat sy veronderstel was om in veilingsale en pakhuise vol antiekware rond te snuffel om voorraad te kry vir haar sjiek interieurwinkel, was sy in ’n omhelsing met haar nuwe tuiste, besig om op die skilderdoek te borduur met ’n unieke stempel wat spruit uit ’n hoogs verfynde ontwerpgevoeligheid en jare se ervaring in die materiaal- en dekorbedryf.

“Die kern van binneversiering is ’n proses van laagvorming, ’n manier om dinge saam te sit wat komposisiegewys saamwerk en ruimtes met diepte skep – ruimtes wat outentiek en visueel interessant is,” sê Tanya wie se kenmerkende skermkandelare en weldadige sagte meubilering getuig van haar liefde vir versierings. “Lampskerms en strooikussings is soos juweliersware of ’n paar goeie hoëhakskoene – dit rond die uitrusting af.”

Oud en nuut vermeng

Nog ’n kenmerk van Tanya se styl is ’n onbeskaamde vermenging van oud en nuut, van genres wat oënskynlik onversoenbaar is: “Dis soos skilder – ’n mens vra nie ‘Werk blou en rooi saam?’ nie. Eerder: ‘Is hulle wat toonaard betref, in harmonie; hoeveel van elk is gebruik; is hulle met dieselfde artistieke gevoeligheid gekombineer?’ ”

G’n wonder dus dat Tanya se eie huis ’n teatrale mengsel is van fuchsia met motiewe, luukse karmosynrooi Draylon, ametisblou, saffier en bottel- groen fluweel en glimmende grysbruin sy en linne – alles in dieselfde toonaard geharmonieer deur ’n inkagtige houtskool-agtergrond op party plekke en staalgrys by ander.

Skilderye, afdrukke en foto’s – van ’n enorme Kentridge-iris in die eetkamer tot haar susterkind Emily Fellows se landskappe met droë bosse in die gang en Beezy Bailey se houtskoolportret van haar seun Daniel in die slaapkamer – pryk teen die mure in ’n losbandige oorvloed van kleure en style.

Bykomstighede – baie daarvan uit haar winkel – het sentimentele waarde en staan gemaklik op tafels en in kabinette met ’n glasvoorkant. In die kweekhuisstyl-badkamer – ’n liggevulde fokuspunt wat uit die weelderige hoofslaapkamer loop – staan ’n fraai Victoriaanse pootjiesbad wat heeltemal tuis is saam met ’n Marie Antoinette-dekstoel. Dié is geklee in tuisgeskepte weelde, wat lyk soos ’n uitgerafelde korset.

In die eetkamer met sy komvenster word arms vol verweerde eetgerei in sinkbakke uitgestal op die dun, donkergebeitste tafel. Rondom staan ’n konsortium van stoele wat nie bymekaar pas nie – volmaak onperfek.

Terwyl alles lyk asof dit foutloos – eintlik ietwat spitsvondig – gestileer is, sê Tanya sy’t nog nie ophou speel nie. “Die eet- en woonvertrek is al klaar geskuif, en ek is steeds besig om dingetjies op ander plekke te probeer.”

Maar, só lui die spreekwoord, wanneer dit by die liefde kom, is een plus een alles, en twee minus een niks nie. In dié sommetjie lê die resep vir sukses baie beslis in die intuïsie van die hart.

• T&Co., Eenheid 78, Victoria Junction (ingang Ebenezerweg), Groenpunt, Kaapstad 087 808 7064/5, www.tandco.co.za