Teater van drome

FOTOS: Merwelene van der Merwe | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly


Ter viering van haar klerereeks se 10de verjaardag het die modeontwerper Vesselina Pentcheva haar tot ’n geesgenoot gewend om haar kreatiewe ruimte in Johannesburg ’n dramatiese nuwe baadjie te gee.

Tiende Laan in Parktown-Noord is ’n taamlike entjie van Bulgarye se ysige, woudbedekte heuwels af. Maar vir die modeontwerper Vesselina Pentcheva, wat 17 jaar gelede na Suid-Afrika verhuis het, was die kreatiewe ruimte wat sy in die kelder van die gesin se huis laat bou het, die perfekte brug tussen die ou en nuwe wêreld wat haar soveel inspirasie bied.

Vesselina, ’n selferkende romantikus, sê haar stemmingsvolle en moderne werkruimte is in só ’n intieme en persoonlike omgewing omskep dat sy heel dikwels nie die tekstuurryke, lewendige plek wil verlaat nie.

Eers was dit net een van daardie aardige, onpraktiese dele wat ontstaan wanneer ’n huis teen ’n helling gebou word, maar nou is dit ’n elegante ateljee wat deur ’n muur van deure in die tuin oorspoel – dus kan die honde en Vesselina se twee jong dogters, Milla en Bella, kom en gaan soos hulle lus het.

Die jaar 2010 is ’n grote wees vir dié ontwerper: Die jaar het weggespring met die Audi Johannesburgse Modeweek, waar sy haar Herfs-Winter-versameling onthul en haar tot twee modevertonings per jaar verbind het. Sy het ook haar eie pasklaarreeks bekend gestel en ’n reeks trourokke ontwerp wat jy van die rak af koop. Boonop het sy haar ontwerpateljee ’n nuwe identiteit gegee, en deesdae is die Bulgaarse kroon in aardse kleure ’n ikoniese vergestalting van haar tipiese klassiek-kontemporêre voorkoms. Maar dis die transformasie van haar ateljee deur die leefstylontwerper Astrid van der Heim wat 2010 as Vesselina se jaar van vernuwing verseël het.

Die twee vroue het mekaar geken en vind so sterk aanklank by mekaar dat Vesselina gevoel het dis nie nodig om vir haar te sê wat sy moet doen nie. Sy beskryf haarself as ’n outydse, sentimentele siel en wou hê Astrid se idees moet ’n verrassing wees. Sy het geweet die verbintenis tussen hulle is só heg dat die resultate perfek sou wees. Astrid, wat dankbaar voel oor die vertroue wat Vesselina in haar het, glo sterk daaraan om haar kliënte te leer ken en uit te vind hoe hulle kop werk sodat sy kan seker maak hulle behoeftes word weerspieël in die ruimtes wat sy skep.

In hierdie geval het Astrid geweet Vesselina se erfenis is vir haar belangrik, maar sy wou ook in ’n omgewing werk wat by haar leefstyl as kontemporêre modeontwerper, vrou, hopelose romantikus en moeder sou pas. Die resultaat is ’n plek wat stylvol dog prettig is, een wat maklik met die res van die huis saamgesels, maar tog ook mooi apart staan. “Terwyl ek toegekyk het hoe dit alles gebeur, het ek besef ek is verlief op elke enkele dingetjie. Party dae was ek só gelukkig ek het gehuil,” onthou Vesselina.

“Ek is mal oor die balans en harmonie: die donker en helder dinge, die moderne en die oue – dis nogal romanties.” Die ontwerp begin nog lank voor die deure van die ateljee: By die straatingang kry besoekers ’n voorsmaak van die kleurryke fees binne wanneer hulle die grys-en-rooigestreepte hek oopstoot. ’n Paadjie met ’n effens helling lei gaste tot by die fontein, ’n presiese replika van die een waarin Vesselina as kind gespeel het.

Astrid se visie vir die ateljee was om ’n teaterruimte te ontwerp sonder om uit die oog te verloor wat die funksie daarvan is: ’n werkplek. Sy het geweet Vesselina het in ’n klassieke Europese omgewing grootgeword – sy het teen die ouderdom van 10 jaar elke Verdi-opera gesien, in ’n fluweelrok – en wou dié erfenis inspan om diepte te verleen aan die blink, moderne agtergrond. Die resultaat is ’n harmonieuse mengsel van modulêre lyne en weelderige afwerkings.

“Ek het geweet die ruimte het drama nodig. Daarom wou ek aanvanklik ’n swart vloer hê, maar toe besluit ek dit sal te erg wees,” verduidelik Astrid. “Deur die vloer, mure en plafon in dieselfde ryk grys kleur te verf het ek ’n eenvormige agtergrond geskep waarop ’n mens kon voortbou.” Toe sy die ateljee se ongewone plafon van golfplaat-vormwerk ontdek, het sy besluit om dié tekstuur te wys deur dit ook grys te verf. Dramatiese spatsels kleur in edelsteen-skakerings is toe bygevoeg, saam met ryk fluweel- en brokaat-elemente – en uiteindelik is ’n ateljee geskep wat Vesselina se warm persoonlikheid deeglik weerspieël.

Binne is ’n winkelgedeelte waar Vesselina se ontwerpe verkoop word, ’n dramatiese vertoonkas vir trourokke, plus die aanpasgeriewe met sy vergulde spieëls en fluweelgordyne. Verhoogligte bo dra by tot die effek en die badkamer, wat 100% pienk is, is ’n speelse fantasie.

Buite, sê die modeontwerper, wil sy op die geplaveide piazza onder die bome intieme modevertonings hou. Slegs helderpienk blomme en waterlelies is in die binnehof en visdammetjie aangeplant sodat ’n mens in die somer ’n kleureskouspel sal hê. Welkom by Vesselina Pentcheva se teater van drome.

• Vesselina Pentcheva 011 442 7501, 082 377 4365, vesselina@vesselina.co.za, www.vesselina.co.za

• Astrid van der Heim 072 477 4400, vdhinteriorsintcc@vodamail.co.za