15 On Orange Hotel

PHOTOS: Micky Hoyle | PRODUCTION: Sumien Brink | WORDS: Alma Viviers


’n Begeerte om ’n reeks onvergeetlike ruimtelike momente te skep… dís waaroor die luukse nuwe 15 On Orange-hotel in Kaapstad gaan.

Ek kan skaars die begeerte bedwing om aan alles om my te raak. Selfs met my derde besoek aan 15 On Orange, wanneer ek met die twee stelle trappe opstap na die ontvangstoonbank toe, is dit asof ek my vingers impulsief wil uitstrek om oor die Willowlamp-kandelaar van drie verdiepings streel. Tog is dié sensoriese ervaring nie die enigste een wat jou laat terugdink aan jou ma se streng vermaning “kyk met jou oë en nie met jou hande nie”, want hier word jy omring deur ’n magdom van dinge wat jou vingerpunte verlei – van tekstuurryke muurpapier tot weelderige materiaalstowwe.

My ander sintuie werk ook oortyd. Die glimmende minimalistiese interieur het helder akstente van cerisepienk, toffieappelrooi, kobaltblou en lemmetjiegeel. Wanneer ek verby die Cassis-fyngebaktafel in die Cinnamon Café stap, begin my mond water by die blote gedagte aan ’n fyn makrolletjie wat op die tong smelt. Intussen loop die musiek – spesiaal uitgesoekte lounge, liggies gegeur met tipiese Afrikaklanke – reguit van my ore na my voete. Soos een opgewonde gas in die verbygaan opmerk: “Dis ’n sintuiglike orgasme dié!”

By die polsende hart van dit alles is ’n skeur vol lig – ’n atrium van sewe verdiepings met die hotel rondom dit opgerig. Derick Henstra, direkteur van dhk-argitekte, sê dít is die heel belangrikste argitektoniese kenmerk van die gebou. “Die binne-atrium – of galleria – is die gom wat die hele gebou en al sy funksies bind.”

Die atrium is ook waar die oorblywende deel van die ou NG Sinodesaal (die res is platgeslaan) en die nuwe deel bymekaar kom. Selfs van buite af lyk die atrium soos ’n deurskynende glasskeur in ’n andersins glimmende swart glastoring.

“Uit ’n erfenisoogpunt moes ons iets van die ou gebou behou,” verduidelik Derick. “Al was die ou seremoniële ingang na die Sinodesaal dalk meer noemenswaardig, wou die verkeersowerheid nie ’n porte-cochère aan Oranjestraat toelaat nie. Die noordoostelike fasade het egter reeds die gebou se hoofingang gehuisves, en dit kon ons weer gebruik. Hierdie fasade is ook ’n goeie weerspieëling van die omvang en argitektoniese taal van die oorspronklike gebou.”

n Reeks ruimtelike momente

Dis egter nie net die fasade wat behoue gebly het nie, maar ook ’n hele struktuur-rooster, wat uiteindelik die diepte van die kamers én die res van die nuwe gebou se struktuur bepaal het.

Binne dié gepoleerde binneruimte met sy lineêre vlakke het Jeremy Stewart, kreatiewe projekkoördineerder van Source Brand Interior-argitekte, ’n reeks ruimtelike momente ontwerp wat die verskillende funksies defineer. Die sitkamer, ontbytgedeelte, Cinnamon Café, Savour-fynkosrestaurant en Murano-kroeg lê ingeryg op ’n verhewe vlak aan die een kant van die atrium. Hoewel al die eetplekke oopplan is en met mekaar verbind is, het elkeen sy eie identiteit en estetika.

Die visuele tema wat alles saambind, is ’n konsep wat Jeremy “The Great Indoors” noem. Aangesien dit ’n ware stadshotel is sonder ’n gemanikuurde tuin, het hy gekies om subtiele verwysings na die geografie, kultuur en veral die natuur te maak deur binnenshuise elemente soos verdelers, teksture en patrone. ’n Waterval van wit Perspex en glas breek deur die hoëglans swart boks van die Ontvangs. Haldane Martin se Songololo-rusbank lê gekrul oor ’n spesiaal gemaakte tapyt met ’n Versace-agtige patroon vol inheemse diere en insekte. Woude vol fraiingwerk word gebruik om verskillende ruimtes te onthul en versluier. Heinings Perspex-stawe baken tafelgedeeltes af en kettings hang soos wilgerbome in ’n sirkel om die sakedeel.

Dieselfde visuele temas loop oor van die openbare na die private gedeeltes, maar is effens getemper in die suites. Dié is ruim – 80 m2 – en in die interieurs word verder na die natuur verwys deur kunswerke, objets en spesiaal gemaakte muurpapier met blare- en takmotiewe.

Die hotel se elegante voorkoms word deur die puik diens geëwenaar – van die concièrges en portiere tot ontvangsmense en kelners: Dit wil voorkom of die personeel baie trots is op hulle werk en hulle werkplek. Hulle straal selfvertroue en entoesiasme uit en sorg dat elke gas een van die groot luukses van die lewe ervaar: om volkome te ontspan met die wete dat in elkeen van jou behoeftes voldoen sal word – met die grootste bekwaamheid en grasie.

Niks in hierdie hotel is generies of selfs te verwag nie – dit is ’n wêreld van sy eie wat al die sintuie bevredig. (Jammer dus, Ma, ek weet Ma het my mooi maniere geleer, maar by 15 on Orange móét ’n mens net met jou hande ook kyk.)

•15 On Orange-hotel, hoek van Oranjestraat en Grey’s Pass, Tuine, Kaapstad www.15onorange.com

• Dhk-argitekte 021 421 6803, www.dhk.co.za

• Source Interior Brand-argitekte 021 418 1929, www.sourceiba.co.za 

V&A met Chaim Cohen, stigter en uitvoerende hoof van die Newcity-groep

Waarom spesifiek dié terrein ontwikkel?

Dis ’n gesogte ligging vir topsakelui, maar ook vir pendelaars en plesiersoekers (van Kaapstad se mooiste strande is skaars 7 km hiervandaan én dis op die voorstoep van Langstraat se polsende naglewe). Omdat dit so na aan die Kompanjiestuin, die Parlement en die Hooggeregshof is, is dit ideaal vir Kaaps-gebaseerde regeringsamptenare en regslui, en boonop is die hotel ’n gerieflike bymekaarkomplek vir enigiemand wat op soek is na elegante restaurante, vermaak en ontspanning.

Waarom het jy winkels ingesluit op straatvlak?

My plan was om vir die fynproewer dieselfde luukse straatinkopie-ervaring te gee as in Milaan, Parys of Los Angeles. Trouens, ek beskou ons winkelkomponent by 15 on Orange as die begin van Kaapstad se eie Rodeo Drive, met nog sulke ontwikkelings af in Victoriastraat, al die pad tot by die St. George-wandelhal.

Waarom is die een fasade van die NG Kerk se Sinodesaal behou?

Dit sou jammer wees om die indrukwekkende fasade-elemente van die oorspronklike gebou geheel en al te verloor. Deur die ou fasade tot sy ou glorie te herstel en dit deel te maak van ’n heeltemal nuwe interieur was ’n opwindende uitdaging en ’n groot mylpaal.

• Die Newcity-groep is die eienaar-ontwikkelaar van die 15 On Orange-hotel.