
WOORDE Nadine Botha FOTO Jan Ras
Nadat die Kaapse argitek Jürgen Kieslich ’n klein woonstelblok in Woodstock gekoop het, het hy die gebou se energieverbruik omgewingsvriendeliker gemaak. ’n Paar jaar later weet hy alles is nie altyd so koste- en planeetvriendelik as wat die groen brigade ons wil wysmaak nie. Hy deel die tien lesse wat hy geleer het.
1. Begin met die basiese dinge
Isolering is die goedkoopste manier om jou blyplek se temperatuur – en elektrisiteitrekening – matig te hou. Isoleer die dak, mure en vloer; meer as 40% van hitte ontsnap deur ongeïsoleerde mure en dakke. “Wanneer dít eers gedoen is, hoef jy nie eens weer daaraan te dink nie,” sê Jürgen.
Nog 20% van hitte ontsnap deur vensters en hier is dubbele glas die beste isoleerder. “Selfs die kleinste elektriese hittebron werk tot ses keer beter met dubbele glas en verseëlde vensters,” verduidelik Jürgen. Dit is miskien duur, maar dit beskerm jou ook teen die fel somerson én dien as klankbuffer.
2. Kies beproefde stelsels
Jürgen het ’n splinternuwe loodgieterstelsel van plastiek geïnstalleer, wat beloof het om supergroen te wees. Al die beloftes is inderdaad nagekom, maar toe onderhoudwerk ’n paar jaar later nodig was, het hy besef die Suid-Afrikaanse mark het nie vat gekry aan die stelsel nie en niemand kon dit herstel nie. Sy raad? Werk met gevestigde tegnologie, produkte en maatskappye.
3. Hou dit eenvoudig
Hoewel ’n mens soms jou oë moet toeknyp en ’n nuwe ding probeer, glo Jürgen hoe eenvoudiger die oplossing, hoe beter die moontlikheid dat dit gaan werk. “As dit klink of dit dinge ingewikkelder gaan maak – dié stelsel is nodig om daardie een aan die gang te hou wat weer hierdie een gaan meet – kan jy maar bekommerd wees. Dit sal onderhoud en heelwat tegniese vernuf verg, wat jou duur te staan kan kom as jy dit nie self kan doen nie.”
4. ’n Plan vir warm water
“Warm water maak die grootste elektrisiteitbesparings moontlik,” volgens Jürgen. Hy het egter geleer dat sonverhittingstelsels minder doeltreffend is in woonstelblokke of enige gebou waar die panele ver van die watertenk is. As jy nie die panele en tenk naby mekaar kan installeer nie, installeer liefs ’n warmwaterpomp (en sodra jy hoor jy het ook ’n ekstra dit of dat nodig, lees weer les 3). Jürgen het binne ’n jaar 30% tot 40% aan elektrisiteit bespaar danksy die pomp, en dit kos ’n derde van ’n sonverhittingstelsel.
5. Verhit van onder
Jürgen kan nie uitgepraat raak oor die voordele van ondervloerverhitting wat met waterpype werk nie, veral as jy een van daardie gewilde maar bibberkoue sementvloere het – dis nou wanneer jy eers ’n kostedoeltreffende bron van warm water het. So ’n stelsel kan jou verhittingsrekening met tot 60% verminder. Dit verhoog die vloer se temperatuur tot sowat 23 ºC, wat die byt uit die vloer haal sonder om dit te warm te maak. Elektriese ondervloerverhitting verbruik weer geweldig baie elektrisiteit. Dit veroorsaak lugstrominge wat stof laat dwarrel en vermors heelwat krag omdat die warm lug opstyg en by die plafon beland. “Dis soos die verskil tussen ’n gas- en elektriese oond. Ondervloerverhitting deur water is eenvoudig vogtiger en koeler,” sê Jürgen.
6. Ja vir ’n eko-swembad
Om ’n natuurlike of eko-swembad in stand te hou is nie ’n chemie-eksperiment nie, maar meer soos om ’n tuin netjies te hou. Ja, dis herfs, maar as jy jou swembad in ’n eko-poel wil omskep, neem dit drie tot ses maande om die plante en waterplante te vestig, daarom is die herfs of winter ’n goeie tyd vir dié oorskakeling. In ’n eko-swembad word plante en gruis as filters gebruik, en die sysagte water is iets wat jy aan jou vel moet voel om dit te kan glo. Dit kan ’n uitdaging wees in ’n klein ruimte, en Jürgen eksperimenteer tans met ’n vertikale tuin (foto bo) om die swembadwater in sy binnehof te filtreer.
7. Plant ’n boom of drie
Jou tuin en die omgewing kan sonlig met behulp van bome op strategiese plekke beheer. Jürgen het ’n ry populierbome aan die westekant van sy woonstelblok geplant. In die somer werk dit soos ’n reuse-hortjie wat die son afkeer, maar in die winter, wanneer die son welkom is, is dié bome sonder blare.
8. Grootte maak saak
Hoe groter die huis, hoe meer materiale, onderhoud, verhitting en skoonmaakwerk het jy – en dít raak nie goedkoper nie. “Ek probeer mense oortuig om in kleiner huise te woon,” vertel Jürgen entoesiasties. “Maak liewer die gemeenskaplike vertrek groter en hou ander vertrekke kleiner. Skep veeldoelige vertrekke: Het jy regtig ’n aparte sitkamer, TV-kamer en speelkamer nodig?”
9. Oes reënwater
Jürgen erken dat die opgaar van reënwater nie baie goed werk in Kaapstad nie, tensy jy ’n yslike, goedkoop bergplek het vir die winter en ’n klein tuintjie wat jy in die somer moet natgooi. In somerreënvalstreke soos Johannesburg is dit egter ’n absolute moet.
10. Wat van sonkrag?
As jy in ’n kleiner huis bly en die kontant het, installeer ’n sonkragstelsel. Jürgen waarsku egter dat sonkrag nie die mas opkom met ’n hoë elektrisiteitverbruik nie. “’n Paneel kan meestal net vir ’n yskas, ’n paar rekenaars, gloeilampe en die laai van selfone en kameras krag voorsien,” sê hy. “Sodra jy ’n wasmasjien, tuimeldroër, skottelgoedwasser, swembadpomp en televisie byvoeg, moet jy besin oor hoe nodig jy regtig dié toestelle het,” sê hy.