WOORDE: Jacquie Myburgh Chemaly | FOTO’S: Brett Rubin | PRODUKSIE: Klara van Wyngaarden
Bruce Cowie en Qz Zhang-Cowie leef volgens die mantra “Design is a Good Idea” – en VISI stem volmondig saam.
Hoe het julle ontmoet en hoe het Design is a Good Idea ontstaan?
BRUCE: Qz het by ’n ontwerpblog en -tydskrif in New York gewerk toe ek die Design is a Good Idea (DIAGI)-blog en -webwerf begin het. Sy het my ’n Facebook-vriend gemaak omdat sy ’n paar vrae oor my ontwerp- en illustrasiewerk wou vra, en ons het goeie vriende geword. Qz het by my in Suid- Afrika kom kuier en uiteindelik drie maande hier gebly – in dié tyd het ons ook besluit om te trou. Ons ontmoeting het toevallig saamgeval met die opening van die DIAGIwinkel, en Qz het my met die ontwerp en die dekor gehelp. Van toe af werk ons saam.
Is daar ontwerp-families hier of oorsee wat julle bewonder?
BRUCE: Ek is mal oor Katy en Adriaan van Dokter and Misses. Charles en Ray Eames is my vanselfsprekende internasionale keuse.
QZ: My goeie vriende Graphicairlines, ’n briljante ontwerpspan-en-paartjie, wat saamwoon en -werk in Hongkong.
Hou julle ooit op met werk?
BRUCE: Nie eintlik nie… selfs as ons nie regtig “werk” nie, is ons altyd op die uitkyk vir goeie ontwerp en dinge wat ons inspireer. Ons het nog altyd baie goed saamgewerk, het dieselfde belangstellings en is op dieselfde planeet as dit kom by ontwerp en kuns.
QZ: Op ’n manier is dit asof ek en Bruce aan mekaar geplak is, maar ons het nie dieselfde werkmetode nie. Ek moet altyd iewers in die dag ’n blaaskans vat om te ontspan en vir ’n paar uur onproduktief te wees.
Waar kom die naam vandaan?
BRUCE: In my eerste jaar as ontwerpstudent het een van die stigters van die ikoniese lettergietery Emigre ’n lesing kom aanbied. Een van die skyfies in haar aanbieding was die woorde “Design is a good idea”. Ek het baie van die humoristiese dubbele betekenis van die frase gehou, en gevoel dit is die regte naam vir die handelsmerk.
Kan julle in detail verduidelik watter soort werk julle doen?
BRUCE: In die ontwerpwêreld hoef daar nie beperkings te wees nie. Ons gunstelingprojekte is dié wat ons toelaat om by alle aspekte van die ontwerpproses betrokke te wees – van name uitdink regdeur tot by interieur- en omgewingsontwerp.
QZ: Ek doen navorsing en soek verwysings vir die projekte waaraan ons werk.
Op watter van julle projekte is julle die trotsste?
BRUCE: Ek is veral trots op een van DIAGI se eerste skeppings: ál die promosiemateriaal vir die internasionale Promax-BDA Broadcast Design-toekennings in 2008. Ek skat ons winkel is ons suksesvolste projek – ons het nie die fantastiese positiewe reaksie verwag nie!
QZ: Toe ek by Victionary in Hongkong gewerk het, het ek met ’n hele paar idees vir boeke vorendag gekom waaroor my baas mal was. Die boeke het baie goed verkoop en ek is steeds baie trots hierop.
Wat is jou droom-ontwerpprojek?
BRUCE: Ek sal graag ’n hotel of lugdiens wil ontwerp, om elke aspek van ’n handelsmerk uit te dink – van die identiteit tot die gedrukte materiaal, die verskillende aanwysings (“signage”), die dekor…
QZ: Ek sal “pop-up”-winkels wil ontwerp – ek kom die heeltyd met nuwe idees vorendag.
Vertel ons van julle winkel-enkantoor en die glasboks…
BRUCE: Die glasboks was hier toe ons ingetrek het, maar dit was besig om uitmekaar te val. Ons het ’n werkplek in die winkel nodig gehad, en het die glasboks as kantoor ingerig.
Hoekom word julle deesdae die “Muji-mense” genoem?
BRUCE: Ek dink mense is net bly omdat die ikoniese handelsmerk uiteindelik in Suid- Afrika beskikbaar is. Ons wou baie graag Muji-produkte in ons winkel aanhou, maar dit was moeilik om met die hoofkantoor in Japan te onderhandel. Ons het die Mujiprodukte wat ons verkoop, in die VSA gekry.
Julle is mal oor boeke en tydskrifte. Wat is julle gunstelinge?
BRUCE: My gunstelingtydskrif is IdN (International Designers Network) – Qz het voorheen daar gewerk en het nie ’n slegte woord oor hulle te sê nie. Dis ’n baie “gekonsentreerde” tydskrif wat altyd propvol inspirasie is. Ek is ook mal oor die uitgewers Gestalten, Victionary en Actar se boeke.
QZ: My gunstelinge is dié waarop ek self gewerk het – Point East en Colour Mania deur Victionary. Maar as ek ’n boek of ’n tydskrif koop, is dit altyd die inhoud en die skryfwerk wat my aandag trek.
Gunsteling-ontwerp wat jy besit?
BRUCE: Ek bewonder die kunstenaar Kaws (Brian Donnelly), en het ’n skaflike versameling van sy speelgoed en beeldhouwerke.
QZ: Buiten my skoenversameling… die beperkte uitgawe “clutch and lipsticks” wat Marcel Wanders vir MAC ontwerp het.
En die een wat jy nié besit nie?
BRUCE: Ek sal moor vir een van daardie beroemde Horse-ligte wat die meisies van Front Design vir Marcel Wanders se maatskappy Moooi ontwerp het.
QZ: Ek wil elke stuk hê wat Alexander McQueen ooit ontwerp het, veral die skoene!
Waar doen julle inkopies?
BRUCE: Ons koop baie aanlyn, maar ook by tweedehandswinkels en rommelwerwe.
Gunsteling-blog/webwerf/gebruiksprogram?
BRUCE: Notcot. Dit is die omvattendste en inspirendste ontwerp-hulpbron wat ons ken.
QZ: Behalwe vir Notcot geniet ek ook Design Milk en Yatzer.
Wie is die interessantste mens wat julle volg op Twitter?
BRUCE: Nie een van ons gebruik Twitter nie… ons verkies Facebook. Die interessantste persoon wat ek op Facebook volg, is Ian Anderson van The Designers Republic.
• Design is a Good Idea: 011 726 7878, www.designisagoodidea.com