Werk en speel saam

WOORDE Malibongwe Tyilo FOTO’S Sydelle Willow Smith


Read in English

Vir professionele kreatiewe mense, soos talle van ons lesers, is ’n blinkgepoetste konvensionele kantoor allermins die volmaakte werkplek. Dikwels is die ligging, bure, interessantheid en egtheid belangriker maatstawwe om te verseker die werkomgewing bly inspirerend. VISI het ’n draai gemaak by Side Street Studios in Woodstock om uit te vind wat van die stad se beste ontwerpers en kunstenaars hierheen lok.

Die opgang van Albert Road in Woodstock as dié plek vir ontwerpers, ambagslui en makers van mooigoed om te werk, eet en koop is al ou nuus. Jy het waarskynlik al gehoor van die Woodstock Foundry, die onafhanklike ontwerperwinkels en Superette by die Woodstock Exchange, ensovoorts… En tog is daar altyd nuwe plekke wat hulle deure open, die meeste van hulle uniek genoeg om ons dadelik ons aandag te trek en maar weer Albertweg met sy mal verkeer en hipsters op enkelratfietse te trotseer. Die ontwikkeling van Side Street Studios is nog so ’n gebeurtenis.

Side Street Studios het in wese die tuiste geword van die ontwerpers wat die Woodstock Industrial Centre verlaat het toe dié gebou begin het met sy transformasie tot die Woodstock Exchange. Die ontwikkeling is geleë op die hoek van Stasie- en Albertweg, net ’n blok verderaan, en het op “organiese” wyse ondersteuners gelok nog voordat die restourasiewerk en naamsverandering afgehandel was: Gevierde kunstenaars soos Barend de Wet, Stuart Bird en Faith47 het hulle intrek geneem, tesame met ontwerpers soos Kraftisan en Thingking. (Laasgenoemde het ’n voet in albei kampe met ’n toonkamer in die Woodstock Exchange en ’n werkswinkel in Side Street Studios.)

In sy nuwe, skoner inkarnasie is Side Street Studios nou ook die tuiste van ’n versameling ruimtes wat die algemene publiek uitnooi om deel te neem, te kyk, dalk ’n boek, koffie of kunswerk te koop, of selfs aan ’n warm, sweterige capoeira-klas deel te neem.

Van die straat af is die eerste ding wat ’n mens opval ’n reusagtige helderkleurige muurskildery deur die kunstenaar Oscar San Biguel van Madrid. Dit pas mooi in by die graffitikultuur van die omgewing, maar bring ook ’n vars estetiese aanslag. Dis allermins die laaste ding wat die oog vang, want sodra jy die gebou se binnehof betree, wag daar nog muurkunswerke.

Terwyl jy ’n draai maak, kan jy gerus inloer by die There Be Light-ateljee, die tuiste van die konseptuele kunstenaar Nix Davies. Dit is ’n “immer veranderende ruimte met die vermoë om enigiets te wees wat jy jou kan voorstel dit moet wees”: Dit het al diens gedoen as ’n galery, werkswinkel, lesingsaal, bioskoop, kombuis, kleuterskool en restaurant, en Nix is altyd byderhand om te help om die verskillende projekte in die ruimte te verwesenlik.

Dit gaan egter nie net oor die permanente strukture nie. Side Street Studios het ook al gasheer gespeel vir “pop-up”-winkels, weeklikse saamtrekke en eenmalige tentoonstellings wat die ruimte telkens op vars maniere gebruik. Die Moederstad se Yang Zhao het dit al gebruik om haar al hoe gewilder dim sum-aande, Beijing Opera, aan te bied, terwyl die fotograaf Max Mogale se tentoonstelling van verskillende kunstenaars se werk die mure en gange op al die verdiepings van die gebou gebruik het.

Die mees onlangse semi-permanente aanbieding is Busk Tuesdays, waar drie opkomende kunstenaars – musikante, digters en kunstenaars – genooi word om in ’n “rou, onbevange” omgewing op te tree. Toegang is gratis en die gaste word aangemoedig om die musiek finansieel te ondersteun.

Dit is Side Street Studios se oop benadering tot kreatiwiteit wat ons telkens teruglok – dít en die belofte dat ons elke keer wanneer ons daar ’n draai maak, behalwe die interessante gebou, kuns en mense ook iets nuuts en inspirerends sal raakloop.

Side Street Studios, Albertweg 48, Woodstock, info@sidestreet.co.za.

Koop VISI 66 The Office om ander inspirerende werkruimtes te sien wat ons ontdek het.