Verplaasbare plaas

WOORDE Claire Jowell


Read in English.

Is dit ’n skeepsvraghouer? Miskien ’n kweekhuis? Dis sowaar albei. Of is dit altemit ’n “UFO”? Nee, hulle noem dit ’n “UFU”, oftewel “Urban Farming Unit”, wat nie net superkoel is nie, maar ook ’n sosiale gewete het. Kyk die video om uit te vind waarom almal by VISI een begeer.

Die meeste mense op Moeder Aarde woon tans in stede, en gevolglik tel “volhoubare stedelike vernuwing” en “voedselsekerheid” tans onder die grootste en noodsaaklikste onderwerpe wat op die ontwerpwêreld se lippe boer. Hierdie video wys die oprigting- en ontwikkelingsproses van Damien Chivialle se Urban Farming Unit (UFU), ’n boerdery-eksperiment vir stede wat jy letterlik op die sypaadjie kan staanmaak.

Die UFU bestaan uit ’n standaard-skeepsvraghouer met ’n kweekhuis op sy dak; kortom: ’n gemeenskaplike tuin wat bo die grond groei. Dié omgewingsvriendelike tuin span allerlei groei-tegnologie soos hidroponika en mikrometanasie in om die grootste moontlike oes in ’n klein ruimte te verseker. Die water sirkuleer deur die stelsel, en die mis van die vis (wat ook in die vraghouer woon) word afgebreek sodat die plante die minerale kan opneem. Uiteindelik beland die water weer in die visdam. Slim verby.

Sedert 2010 is vier UFU’s opgerig in onderskeidelik Zürich, Berlyn en onlangs ook in Leuven, België. Ons dink daar hoort ook een in ons buurt. Sommer vandag nog.

20footurbanfarm.blogspot.com