WOORDE: Alma Viviers
Met ons besoek aan die Saatchi-galery het die Clock Clock, ’n meesterstuk wat deel gevorm het van die Connectors-tentoonstelling van die Phillips de Pury & Company-galery, my asem weggeslaan.
Volgens die gids is “connectors” ontwerpers wat ’n visuele woordeskat gebruik om emosie aan die mees funksionele voorwerpe te verleen. Die Sweed-se kunstenaars Bastian Bischoff en Per Emanuelsson het dit perfek reggekry met Clock Clock, wat bestaan uit 24 analooghorlosies wat só gestapel is dat die bewegende wysers in lyn gebring word om die tyd digitaal te wys.
Die twee werk onder die naam Humans Since 1982 (die jaar waarin al twee gebore is) en dit het hulle 18 maande geneem om die analoog-na-digitaal-woordeskat te ontwikkel waarmee die stuk werk. Hoewel dit klaar ’n wonderwerk in die kleine is, is jy omtrent sprakeloos as jy eers die choreografie tussen die minute sien.

