Terug na die natuur

WOORDE Lisa Johnston


Read in English.

Haar verhuising uit die stad het die ontwerper Claire Regnard geïnspireer om haar werk meer “organies” te benader. Lisa Johnston het ’n draai gemaak met die bekendstelling van haar nuwe produkreeks vir 2013.

Toe Claire Regnard die geleentheid kry om ’n winkel oop te maak by die bestaande Ilovani-meubeltoonkamer in The Heath – ’n winkelsentrum langs die N2 net wes van Plettenbergbaai – het sy terstond haar deure in die stad gesluit en afgesit see toe.

Claire was voorheen gebaseer in Johannesburg, waar sy ’n naam vir haarself gemaak het met haar onderneming Amoeba, wat in binne- en buitedekor van lasergesnyde metaal gespesialiseer het. Sy het ook spesiale stukke op bestelling vervaardig, soos haar nege boom-beeldhouwerke wat in Jutastraat in Braamfontein pryk.

Ná haar aankoms in Plett het Claire ’n winkel saam met Lisa Murray begin en die Ilovani-meubeltoonkamer stadig verander in wat nou bekend staan as amoeba@ilovani. Claire se skeppende repertoire het intussen uitgebrei en sluit nou meubels asook organiese en herwinde materiale in.

“Die afgelope jaar het ek daarop gefokus om amoeba@ilovani in orde te kry en my in my nuwe gemeenskap en skeppende ruimte in te grawe. Die toonkamer het heelwat gegroei wat karakter betref en lyk fantasties… dit is regtig oorlopens toe vol met ’n hele jaar se kreatiewe impulse,” sê sy. “Ons is soveel meer ontspanne, en ons kliënte is in hulle noppies. Hulle waardeer regtig wat ons skep en voel dat ons leefstyl – en dus ook ons produkte – om skoonheid wentel. Ons is nie meer deel van die mal mallemeule en komplekse lewe wat ’n mens in die stad leef nie.”

Hierdie soektog na skoonheid in ’n natuurlike omgewing het Claire se uitkyk oor ontwerp heeltemal verander. Haar kreatiwiteit het as’t ware kleintjies gekry, al maak sy steeds lasergesnyde items, wat insluit muurkuns, skerms, teeligkershouers vir die muur, hake en beligting, en spesiale stukke op bestelling, soos die werk wat sy vir die Knysna-munisipaliteit gedoen het.

Pleks daarvan om bome uit lasergesnyde staal te vervaardig, gebruik amoeba@ilovani nou bome om ander produkte te maak. Dit sluit in ’n reeks klein items wat van herwinde eikehoutvate en stukkie inheemse afval-hardehout vervaardug word – enigiets van snyplanke en kombuisware tot buitemeubels, kershouers en wynrakke.

Hulle ontwerp en vervaardig ook groter huishoudelike items soos tafels en rakeenhede van Wes-Kaapse hardehout- en indringer-houtsoorte.

’n Ander afdeling van die onderneming is toegewy aan die ontwerp en bedryf van ’n projek om kandelare uit herwinde wyn- en bierbottels te maak. Die skerwe herwinde glas word saam met stringe glaskrale geryg om hangligte te ontwerp wat elegant na benede tuimel.

Om by te bly met die aanvraag, asook die maatskappy se betrokkenheid by Source-SA en die internasionale geskenkskou in New York, het Claire nou die bedryf en bestuur van die Ilovani/Limited Editions-werkswinkel oorgeneem.

“Dit beteken ek het nou vier baie vaardige houtwerkers wat ek bestuur en oor toesig hou. Ek is dus nou ’n werker en ’n bestuurder en ’n ontwerper van houtmeubels en allerhande ander goeters,” glimlag sy.

Besoek amoeba@ilovani by The Heath, net langs die N2, by Plettenbergbaai. Tel. 082 301 5685, 044 532 7899, amoebaconcepts.co.za