Stokperd spog met spesiale stukke

Lees die artikel in Engels.

Monya Eastman was eens op ’n tyd ’n korporatiewe meisie, “vasgevang in ’n kantoor waar ek elke dag gedroom het ek maak mooi goed”. Terwyl sy besig was om haar eie huis op te knap het die kans om te ontsnap hom voorgedoen. Sy was gefrustreerd omdat sy nie in die winkels die soort meubels kon kry waarna sy op soek was nie, en het dus ’n paar sketse gemaak en iemand gevra om haar idees te verwesenlik. En dit is hoe Stokperd begin het.

Wat Stokperd uniek maak, is dat Monya na jou huis sal kom om ’n idee aan te pas volgens jou beskikbare ruimte, spesifieke funksionele vereistes, die soort hout wat jy verkies en jou algemene estetiese voorkeure sodat jy uiteindelik ’n meubelstuk kry wat presies op maat gemaak is. Jy kan ook items bestel uit die bestaande reeks wat volgens jou spesifikasies en met die hout van jou keuse gemaak word.

Ons het by Monya gaan aanklop en haar ’n paar vrae oor haar nuwe onderneming gevra: 

VISI: Hoe het die idee vir Stokperd ontstaan?

Monya: Ek het heelwat idees gehad oor die soort meubels wat ek vir ons huis wou hê, maar ek kon dit nooit in die winkels opspoor nie. Selfs wanneer ek die slag van iets gehou het, was dit net te groot of te klein. Ek het besluit om eerder my eie goed te laat maak, en dit is hoe Stokperd gebore is.

Hoe het jy die oorgang van kantoorwerker na meubelontwerper gemaak? Is dit iets wat jy nog altyd wou doen?

Dit het gevoel of ek in die korporatiewe wêreld verlore raak in al die vergaderings, aankoopreise en beoordelings van produkreekse. Ek het geruime tyd al gevoel ek moet ’n regte vaardigheid slyp, iets met my hande doen. Dit was nie noodwendig meubels nie – meubels was maar net een van die eerste dinge wat ’n werklikheid geword het. Ek kon net sowel ’n juwelier of ’n boer geword het… trouens, miskien probeer ek albei nog eendag!

Waar kry jy die idees vir jou ontwerpe; is daar ’n primêre bron van inspirasie?

Die idees ontstaan meestal uit ’n wesenlike behoefte, byvoorbeeld die badkamer wat geen bêreplek vir handdoeke het nie en hoe ek dié probleem gaan oplos. As ek eers oor die behoefte gedink het, kom die estetiese elemente na vore. Ek glo ontwerp verbeter ’n mens se lewe en moenie net om mooi se onthalwe mooi wees nie.

Hoe werk die dinkskrumproses tussen jou en die kliënt?

Die meeste van my kliënte het reeds ’n goeie idee van wat hulle wil hê, en sukkel net soos ek om dit in die winkel te kry, of hulle sukkel met moeilike ruimtes waar konvensionele groottes nie werk nie. Op die eerste vergadering bekyk ons die ruimte van nader, ons meet dit uit, pak tydskrifte uit om ruimtes af te baken, gesels oor hout en materiale, en dan maak ek ’n eerste skets. Die bestaande reeks is ook baie gewild onder kliënte, en talle bestel stukke wat dan gemaak word volgens hulle voorkeure wat grootte en hout betref.

Werk jy tans slegs met hout, of is daar ook ander materiale wat jy graag gebruik?

Ek het al ’n boekrak en koffietafel gemaak van ’n kombinasie van sagte staal en hout, en ek beplan tans stukke wat van ’n mengsel van hout en Formica gemaak word.

Soek die meeste van jou kliënte standaard-meubelstukke – tafels, stoele en rakke – of kry jy soms meer uitdagende versoeke?

Die versoeke wissel van die basiese stukke tot rakeenhede, beddens met bêreplek, kopstukke en boekrakke, maar die vreemdste versoek was van ’n Nigeriese priester wat wou weet of ek ’n houtaltaar vir sy kerk kon maak!

Wat is jou toekomsplanne vir Stokperd?

Ek sal graag die reeks verder wil uitbrei met meubelstukke wat mooi, funksioneel en maklik aanpasbaar is. Ek kry ook ’n klomp versoeke uit Johannesburg en Durban, en daarom het ek gesorg dat ek nou makliker in die res van Suid-Afrika kan aflewer. Ek het selfs al uit Denemarke en die VSA navrae gehad, maar in hierdie stadium moet daardie deel van die wêreld nog ’n bietjie wag. Ek wil ook graag ’n reeks bedlinne en slaapdrag begin, weer eens omdat ek nie wat ek soek in die winkels kan kry nie, en stadigaan dinge byvoeg sonder om fokus te verloor. O, en ek sal graag ook binnenshuise tuine, lewende mure en planthouers vir klein ruimtes wil ontwerp – ek is juis tans besig om ’n paar idees te verfyn!

Meer inligting en kontakbesonderhede: www.stokperd.co.za

Een gelukkige VISI-leser kan drie Zed-rakke (foto bo) in ’n afwerking van natuurlike hout wen met die komplimente van VISI en Stokperd. Stuur ’n e-pos met “Stokperd-kompetisie” in die onderwerplyn na web@visi.co.za om ’n kans te staan om die prys te wen.

VISI-lesers kry in Augustus ook 20% afslag indien hulle enige van die bestaande ontwerpe op die webwerf bestel, en 10% afslag indien hulle spesiaal ontwerpte stukke bestel. Sê net aan Monya jy het van Stokperd op VISI.co.za gehoor om jou afslag te kry.