Die Lebone II-kollege in Phokeng, Noordwes, wat deur Activate Architects in samewerking met Afritects ontwerp is, en die Vele Sekondêre Skool in Limpopo, ’n ontwerp van East Coast Architects, het gesamentlik die hoofprys gewen by die AfriSam-SAIA-toekennings vir volhoubare argitektuur.
Met die skoolhandboek-skandaal wat net nie wil einde kry nie, is dit ’n gawe troos om te weet ons argitekte doen steeds hulle bes om uitstekende skole te bou. Nog skole het eervolle vermelding gekry by die toekennings: Die Hoërskool Elkanah House aan die Kaapse Weskus, wat deur Richard Dobson Architects ontwerp is; en ’n kartonherwinningsprojek in eThekwini, KZN.
Die Vele Sekondêre Skool is deels deur Oprah Winfrey geborg en is die eindresultaat van ’n lang proses om ’n vervalle landelike opleidingsfasiliteit in ’n grensverskuiwende Suid-Afrikaanse gemeenskapshulpbron te verander waar leer en onderwys ’n belangrike deel van die natuurlike en kulturele erfenis vorm.
Voordat daar met die ontwerpproses vir Vele begin is, het toekomstige leerders kameras gekry en is opgelei om die gebied af te neem – ook die roetes wat hulle gebruik om by die skool uit te kom. Só is verskeie gevare geïdentifiseer – onder meer luiperds, bobbejane en slange! – asook spesiale plekke in die landskap. Hulle foto’s het as inspirasie gedien vir die skoolontwerp en die keuse van boumateriale.
Die skool het ’n digitale weerstasie geïnstalleer om doeltreffende sonkrag- en reënwaterstrategieë in te stel. Wetenskaplaboratoriums en IT-sentrums vorm ook deel van die ontwerp en die leerders is opgelei om as gidse te werk in die wildreservate in die omgewing. Die gebruik van plaaslike hulpbronne – hoofsaaklik klip- en betonkonstruksie – het nie net die koolstofvoetspoor verklein nie, maar ook ’n belegging in die plaaslike ekonomie gemaak.
Die Lebone II-kollege, wat in opdrag van Kgosi Lebone II van die koninklike Bafokeng-volk gemaak is, is gegrond op ’n totaal nuwe onderwysmodel wat verblyf, boerdery en alternatiewe opleidingsmetodes insluit. Die doel met Activate Architects se deurskynende struktuur is om opleiding te “deïnstitusionaliseer” en groepe “dorpstrukture” te vorm met ’n sentrale binnehof in die buitelug en gefiltreerde lug soos dié wat ’n mens onder bome aantref.
Die ontwikkeling is ontwerp om die uitdagendste aspekte van die kampus – die groot sportvelde en burgerlike geboue – in ’n ou sandgroef te posisioneer en om die hele terrein van die sandgroef en die onmiddellike omgewing te rehabiliteer. Die heringestelde stormwaterstelsel vorm ’n moeras-landskap en ’n waterbestuurstelsel op die kampus.
Loer na die agt wenners van die Corobrik-SAIA-uitnemendheidstoekennings.