Die ontwerpargitekte vir die projek om die Kaapstadse konferensiesentrum (Kiks) uit te brei en oor die volgende drie jaar te verdubbel, is pas aangewys. Nadat 19 argitekspanne van reg oor die wêreld voorleggings gedoen het, het ’n trio van Kaapstadse argitekte uiteindelik met die louere weggestap danksy hulle voortreflike ontwerp en hulle ervaring met grootskaalse munisipale projekte.
Piet Bakker van Stauch Vorster-argitekte, Mokena Makeka van Makeka Design Lab en Anya van der Merwe van Van der Merwe Miszewki-argitekte het die uitdaging aanvaar vir die ontwerp van die Kiks2, wat sal bestaan uit 10 000 m2 handelsruimte, ’n hospitaal, hotel en kantoorblok. Die projek, wat na verwagting teen Junie 2015 voltooi sal wees, vorm deel van die Kiks se plan om teen 2020 as die beste langafstand- internasionale konferensiesentrum bekend te staan.
Die sentrum, wat tans ’n groot verskeidenheid geleenthede aanbied – van kleinskaalse maatskappyvergaderings tot groot saamtrekke soos die Design Indaba – sal ná voltooiing van die tweede fase verskeie groot saamtrekke gelyktydig kan aanbied wat meer toeriste en sakelui na die stad sal lok.
Die uitbreiding is in pas met die mandaat van die Kiks om beduidende ekonomiese voordele vir die Moederstad en die Wes-Kaap in te hou. Werkskepping sal styg van die huidige 7 000 poste tot sowat 10 000 per jaar, en die stad as geheel sal ’n hupstoot kry met groter getalle plaaslike en internasionale toeriste.
Die argitektoniese konsep agter die ontwerp, getitel “6211”, gebruik die DNS-kode van die unieke biodiversiteit in die Kaapse blommeryk as inspirasie. Die DNS-konsep, wat op amper elke vlak van die gebou – van die dak tot die mure en matte – geïnkorporeer word, sal help om die dubbelvlak-gebou te laat funksioneer as ’n lewende kunswerk en ’n opvoedkundige ruimte wat menslikheid beklemtoon en vier.
Die argitekte se bedoeling met die groot sentrale foyer en veelvlakkige terrasse is om ’n ligte, oop gevoel aan die Kiks2 te verleen. Buigsaamheid is ook van uiterste belang, en die sentrum sal soomloos as een gebou moet funksioneer, maar ook as twee, wanneer nodig. Wanneer die projek voltooi is, sal die Kiks die middelpunt vorm van ’n stedelike, voetgangervriendelike polspunt wat Kaapstad sal help om sy plek as volwaardige wêreldklas-stad vol te staan.
Meer inligting: www.cticc.co.za

