Paul Smith se Olimpiese seëls

Die Britse ontwerper sir Paul Smith het weliswaar nooit sy droom verwesenlik om ’n professionele baan-en padwedrenjaer te word nie, maar hy het darem die geleentheid gekry om ’n bydrae tot Britse sport te lewer deur die posseëls vir vanjaar se Olimpiese Spele te ontwerp.

Die sewe seëls, wat deur die poskantoor van die Isle of Man bekend gestel is, weerspieël nie net Paul Smith se passie vir sport nie, maar sal ook ’n herinnering wees van vanjaar se Spele lank nadat die medaljes toegeken is.

Paul Smith het heeltemal toevallig by die modewêreld betrokke geraak. Hy het daaroor gedroom om ’n professionele fietsjaer te word, tot hy op 17-jarige ouderdom in ’n ernstige fietsongeluk was. Ná drie maande in die hospitaal moes hy noodgedwonge sy loopbaanplanne heroorweeg en hy het besluit om iets meer skeppends te probeer. Ná ’n reeks aand- en kleremakersklasse het hy in 1970 ’n piepklein winkeltjie in Nottingham geopen, en in 1976 sy eerste mansversameling bekend gestel.

Vandag is daar 17 Paul Smith-winkels in Brittanje, en die handelsmerk word in meer as 66 lande wêreldwyd verkoop. Hoewel Paul nou al sy energie in modes stort, is hy steeds ’n groot aanhanger van verskeie sportbyeenkomste. “Dit is ’n groot eer om gevra te word om hierdie seëls te ontwerp. Ek het probeer om dit so positief en kleurrykas moontlik te maak met ’n sterk grafiese ontwerpstyl,” sê Paul.

Seëlversamelaars, sportliefhebbers en ontwerpers sal almal ewe opgewonde wees oor die nuwe seëls wat die derde Olimpiese Spele in Londen gedenk.

Ons was in die wolke toe ons ons eie koevert met ’n seël en stempel van die Isle of Man ontvang het. Nou hoop ons net ons kry nog ’n brief uit Brittanje gedurende hierdie wêreldklas byeenkoms…

Meer inligting: www.paulsmith.co.uk,www.london2012.com