FOTOS: Dook | WOORDE: Dook & Annemarie Meintjes
Die afgelope 11 jaar al neem Dook vir VISI nuwe wildslodges af. Harde werk – of so dink hy. Hy het eerstehands gesien hoe Suider-Afrika se lodges met hulle internasionaal bekende styl toeneem – van die Waterberg tot Ngorongoro. Hier wys hy vir ons ’n paar hoogtepunte.
Ek dink ons kan vroue bedank vir die afgelope dekade se beduidende toename in ontwerperslodges. Kom ons wees nou maar eerlik: Die meeste mans – ek inkluis – hou van ’n eenvoudiger soort safari. Met net ’n stukkie dun seil tussen jou en die snuffelende hiënias – en ’n grafie waarmee jy badkamer maak – het ’n mens ’n soort oertrots as die vuiligheid op jou lyf opbou: ’n Mens verkneukel jou skoon in die stofwolke as jy met jou vuiste teen jou bors hamer.
Aan die ander kant kan ’n mens met veiligheid sê vir die meeste vroue, ook die een met wie ek getroud is, is daar drie basiese dinge wat ’n vakansie maak of breek: ’n Hut, ’n warm bad en ’n haardroër. Nie dat ons mans eintlik daaroor kla nie…
Vir VISI het ek baie lodges afgeneem, en ek het agtergekom my gunstelinge is dié wat ontwerp is deur ’n argitek wat weet hoe om vir manlike én vroulike smake voorsiening te maak.
Neem nou maar die werk van Silvio Rech en sy vennoot Lesley Carstens, wat die trend van “oorspronklik uit Afrika” in lodge-ontwerp begin het met die Makalali- private wildslodge in Limpopo – dis as ’t ware ’n Afrika-dorpie. Die golwende kleisteenmure en lae, effens ruwe strooidak sorg vir ’n donker, atmosfeerryke en sexy gevoel. Dis ’n plek waar mans soos die koning van ’n stam en vroue soos ’n koningin voel. (Wie sal nou nié so voel as jy toegang het tot ’n handgemaakte versonke bad met plek vir drie ekstra hoofmanne nie?)
Vir my is die Ngorongorokrater Lodge in Tanzanië egter dié duo se heel beste skepping. Die unieke voorkoms, geïnspireer deur die modder-en-stokhuise van die Masai, pas perfek in by die ongelooflike ligging aan die rand van ’n oeroue vulkaan. Die enorme slaapkamers is soos iets uit ’n Afrika-fantasieboek. Aparte modderhutte op houtstelte spog met ’n piesangbasdak, en binne kry jy swaar hardehout-panele uit Zanzibar wat deur houtsneekunstenaars versier is. Die sitkamer het ’n stemmige dog terselfdertyd ook grandiose koepeldak, amper soos in ’n katedraal. Chris Browne se interieurs versterk die droom: Met dieprooi systowwe, ryk fluweel en rooi rose word die atmosfeer van ’n harem uit die tyd van die slawehandel verkry.
Waar Silvio bekend is daarvoor dat hy sy ontwerpe losweg op ’n servet en papier begin en dit dan later op die terrein afrond deur met ’n stok die buitelyne van elke gebou op die grond te trek – soms gaan bly hy selfs daar om seker te maak die visie in sy kop is reg – teken die argitek Nicholas Plewman altyd reg van die begin af sy idees sorgvuldig op papier.
By die ingang van Marataba in die Waterberg het Nick klipmure gebou wat ’n mens aan die ruïnes van Groot-Zimbabwe herinner. Spatsels graniet maak weer hulle verskyning in die hooflodge en slaapkamers, wat “tentsuites” genoem word (dié naam is vir mans en vroue ewe aanloklik…). Elkeen van hierdie weelderige ruimtes is soos ’n Bedoeïene-arena op ’n houtplatform. Twee derdes van die sirkelmure is solied, terwyl die ander derde van seil is – sodat die vrou veilig kan voel en die man ywerig kan luister watter wilde diere by die ritssluiter kom snuffel. In sy Okavango-projekte het Nicholas wéér seil gebruik vir die Xaranna-tentsafarikamp, terwyl hout met seilskerms in die susterkamp, die Xudum-deltalodge, gebruik is.
Nog een van Nicholas se ontwerpe, The Homestead by die Phinda- private natuurreservaat in KwaZulu-Natal, lyk dalk op ’n afstand soos enige gewone strooidakplaashuis, maar as jy dit van nader bekyk, sien jy dis ’n enorme vierslaapkamerhuis met strak lyne. Die gebruik van skanskorwe vir die binne- en buitemure, plus die boma in ’n halwe sirkel, sorg vir ’n ruwe, manlike tekstuur. Chris Browne was ook hier hard aan die werk, waar hy ’n unieke Afrika- kontemporêre stempel op die lodge afgedruk het deur topgehalte Suid-Afrikaanse meubels en materiaalstowwe te gebruik.
Die enigste probleem nadat ’n mens al hierdie weelde ervaar het, is dat die vroue nou ’n vierde vereiste begin kry: ’n spa. Maar ek is nie so seker of mans sal toelaat dat hulle in die naam van weelde met modder besmeer word nie – ’n mens kry dit mos heeltemal gratis (en heeltemal op jou eie) as jy gaan kamp.