Ontwerpe wat nie hou nie

“Ek ontwerp kak.” Só beskryf Marije Vogelzang, die Nederlandse kosontwerper en gasredakteur van die “Design: Digest” uitgawe, haar ontwerpe.

Natuurlik beskryf sy nie die kwaliteit van haar werk nie. Marije praat net van haar benadering tot ontwerp: dit is nie langduring nie en sy verkies dit so. Marije, wat produkontwerp onderleiding van tendensvoorspeller Li Edelkoort studeer, is wêreldbekend vir haar unieke benadering tot kos, eet en ontwerp.

“Ek voel meer verbind tot die ontwerpwêreld,” sê sy. Dít is juis waarom sy die ideale kandidaat is om die Design Indaba tydskrif se nuutste uitgawe onder kreatiewe oë te neem.

“Dit maak sin om kos as die onderwerp en medium vir ontwerp te gekies het. Die wêreld het nog nooit soveel skisofrenie op hierdie gebied gesien nie,” merk sy op. Haar waarneming kan nie meer in die kol wees nie – aan die een kant is daar ’n groeiende tendens van organiese en “slow” kos, maar aan die ander kant gaan die gemorskos-industrie van krag tot krag.  Marije se eie werk daag ons persepsies oor kos uit met innoverende maniere om die ritueel van kos maak en eet te ervaar.

Verskeie ander kenners en bekendes verskyn in die nuutste Design Indaba publikasie. Die lys sluit sjefs Ferran Adriá en Rene Redzepi, MoMA kurator Paola Antonelli, voedsel-aktivis Marion Nestle, stadsbeplanner Carolyn Steel, gedrags-ekonomis Brian Wansink, innoveerder Homaru Canto en ontwerper Martí Guixé in.

Geen kostydskrif sal kompleet wees sonder ’n goeie ou kosgeveg nie. In hierdie “Food Fight” debat laat waai 40 ontwerpers, denkers en aktiviste met hulle opinie oor die stand van sake in vandag se koswêreld. Lesers word genooi om hul stemme dik te maak by designindaba.com.

Behalwe “Design: Digest” het Marije onlangs die uitgebreide weergawe van haar boek “Eat Love”, ’n geheuespeletjie met die naam “You are What You Eat” en ’n nuwe kookboek, “Broodtrommelbook” uitgegee.

“Wat my werk betref, hoop ek om te wys dat die kombinasie van kos en kreatiwiteit jou verder as mooi vormpies gaan bring… in my skeppings moet die smaak ’n storie vertel. Dit hoef nie ’n luuksheid te wees nie, maar moet altyd lekker smaak.”

Vir Marije is kos reeds deur die natuur vervolmaak en dáárom sien sy haarself nie as kosontwerper nie, maar eerder as eet-ontwerper. Deur te fokus op die aksie ‘om te eet’, is haar ontwerpe geïnspireer deur die oorsprong van kos en die voorbereiding, etiket, geskiedenis en kultuur daarvan.
 
So bedek sy wortelgroente in klei en bak dit oor ’n vuur (die gas kan dan besluit om óf die klei te breek en dit te eet óf dit as ornament te hou). Verder nooi sy mense om uit die hande van sigeuners te eet, terwyl hulle hul lewensstories vertel. Marije se kos gaan oor baie meer as net basiese oorlewing. Alhoewel haar ontwerpe geen spoor laat nie, is die ervarings en aangrypende boodskape oor kos en ons verhoudinge daarmee blywend.

Vir meer inligting: www.designindaba.com, www.marijevogelzang.nl