WOORDE Adéle de Lange FOTO’S Ingrid Smit
Eau-La-La Art & Trends Café in Pretoria is nie net ’n oordadige ode aan kreatiwiteit nie, maar ook ’n trots Suid-Afrikaanse bymekaarkomplek vir die begrippe aweregs, retro, modern, onkonvensioneel en fabelagtig.
Die geroeste blou DKW buite met ’n vriendelik bulderende “eau-la-la” op sy sykant is die eerste teken dat besoekers aan Pretoria se jongste kreatiewe polspunt nooit minder as die onverwagse moet verwag nie.
Want sodra ’n mens oor die drumpel van Garsfonteinweg 59 in Menlyn tree, steek jy onwillekeurig in jou spore vas. Jou brein het tyd nodig om die magdom beeldskone goeters op die vloer en teen die mure – letterlik in iedere hoekie en gaatjie van die winkel – in te drink. In dié wilde, wonderlike mengsel van oordaad wink iets vir iedereen – jong, oud, aweregs, retro, modern, kitsch…
Eau-La-La is die breinkind van die eienaar, Ingrid Smit, ’n kunstenaar en interieur- en grafiese ontwerper, wat met ’n tipiese kunstenaarshand die ruimte soos ’n kurator benader het: Skitterende handgemaakte Lady Peculiar-juweliersware nestel in antieke glas-uitstalkaste; delikate teestelle, wat met die hand geverf is deur die kunstenaar Anne-carien Goosen, bring hulde aan inheemse Suid-Afrikaanse fauna en flora; retro-medisynekabinette met teelepels vir handvatsels vrolik sekere hoekies op; terwyl bonkige Babes in the Woods-strooikussings met wilde grafiese ontwerpe in die jongste kleurtrends meeding om ’n plek op die oorgroot sofa waar handgestikte sagte speelgoed van alle groottes en kleure rinkink.
Die kafeegedeelte wat tans opgeknap word is net die plek om aan te klop vir iets te ete en te drinke tussendeur al die snuffelkopies. Die volmaakte ligging op die hoek van Grasfontein en Delyweg, reg op die rand van Waterkloof, maak dit ’n gewilde byeenkomplek vir verbygangers en sakelui wat vir ’n wyle van die kwaai pas van die stadslewe wil ontsnap.
Eau-La-La spesialiseer in korporatiewe en residensiële interieurontwerp. Die reuse-verskeidenheid dekoritems wat te sien is, bied ook die ideale geleentheid om met die intrapslag uit te vind waarvan kliënte hou en waarvan nie. “Dit lyk nooit hier dieselfde nie. Die voorkoms en gevoel van ons uitstalruimte verander amper weekliks wanneer nuwe voorraad afgelewer word,” sê Ingrid.
Maar wat die kern vorm van alles by Eau-La-La is Ingrid se passie om vars kreatiewe talent te ondersteun en te koester. “Ons wil ’n katalisator wees vir nuwe kunstenaars om ’n vastrapplek in die mark te kry. Ons wil ’n plek wees waar kunstenaars, kliënte, vriende en verskaffers mekaar kan ontmoet, aan die gesels raak en geïnspireer word.”
Een ding staan soos ’n paal bo water: Eau-La-La ondergaan weliswaar een keer per week ’n mooimaak-en-regruksessie, maar bly in sy hart dieselfde: ’n plek waar ’n mens kan luier, ontspan en die skeppende talente van ander kan bewonder.
Eau-la-la Art & Trends Café, Cape Connection, Garsfonteinweg 59, Waterkloof, Pretoria, 012 346 3135, www.eau-la-la.co.za