‘n Plek om te leef

FOTOS: Mark Wiliams | PRODUKSIE: Tina-Marie Malherbe | WOORDE: Alma Viviers


Marguerite Macdonald se kombuis in haar gesinshuis in Bishopscourt, Kaapstad, is ’n plek waar geëet, gedrink, gedeel, gesels, gelag en gesing word.

Dis ’n grys Mei-oggend in Kaapstad wanneer ek die eerste keer die huis van Marguerite Macdonald, eienaar van die bekende Mavromac-materiaalfirma, besoek. Jy stap deur die enorme voordeur en voel vir ’n oomblik soos Alice in Wonderland wat pas die towerdrankie weggeslaan het: Jy word letterlik verdwerg. Dan stap ek aan deur die knus sitkamergedeelte na die kombuis toe: So ’n plek het ek in my dag des lewens nog nie ervaar nie.

Die hoogte – amper soos in ’n katedraal – dwing ’n mens om op te kyk, waar ’n ry houtkappe dig opmekaar ingeryg lê oor die lang, reghoekige ruimte wat die kombuis, eetgedeelte, informele sitkamer, kaggel en klavier huisves. Uit die hoofvertrek loop ’n opwaskamer, planttafel en televisiekamer. Alles hier is oorgroot – die eiland met sy marmerblad, die lang eetkamertafel en – die indrukwekkendste van alles – die Alexander Calder-geïnspireerde sweefkunswerk.

“Ek hou nie van tingerig nie, ek verkies sterk; ek hou nie van maer nie, ek hou van vet,” sê sy. “Die skaal van die ruimte het dit vereis.” Maar Marguerite erken die kombuis is uiteindelik groter as wat sy haar ooit voorgestel het in die beplanningsfase. “Om dit reg te kry was ’n skrikwekkende taak. Dit het gevoel of ons in die ruimte kan verdrink – ek wou hê dit moes groot én warm lyk, maar ons sou nooit daardie intimiteit kon bewerkstellig nie.” Tog, selfs op hierdie effense grou dag, is dit duidelik dat die resultaat van haar ruimtelike beplanning – om vertrekke binne die vertrek te skep – ’n gerieflike ruimte is waar ’n mens vinnig tuis voel.

Ons sit om die eiland in die kombuis terwyl sy vertel hoe sy die ruimte, trouens die hele huis, beplan het. Die gesin – sy, haar man, Dugald, en hulle twee volwasse seuns – woon al 14 jaar op die eiendom. “Maar die ou huis was hopeloos verkeerd vir die terrein,” verduidelik Marguerite. Daarom het hulle dit platgeslaan en van nuuts af ’n huis begin skep wat nie net ’n pronkstuk is nie, maar ’n plek waarin hulle werklik kan leef.

Marguerite wou, getrou aan haar Zimbabwiese herkoms, ’n Afrika-huis skep. “Iets tussen die ou koloniale Zimbabwiese huis, die soort waarin ek grootgeword het, en ’n huis op die Keniaanse hoogland,” sê sy. “Ek wou dieselfde gevoel ’n trappie hoër neem.”

’n Weerspieëling van haar persoonlikheid

Sy erken ruiterlik sy is obsessief as dit kom by detail en proporsies, en Marguerite was nie net betrokke by die voorkoms en gevoel nie, maar ook met elke enkele ontwerpelement. Sy wys na die dikte van die eiland se marmerblad: “Ek is baie gesteld op proporsies,” sê sy. “As iets 1 cm te dik of te breed is, steek dit my dwars in die krop.”

Ontwerp en argitektuur is twee dinge waaroor sy hartstogtelik voel, maar dis wanneer sy oor kos gesels dat sy nou éérs aan die gang kom. “Ek is mal oor kosmaak en ek’s mal oor eet. Ek wil altyd net vir mense kosgee,” lag sy. “Ek het maar nog altyd ’n liefde gehad vir fantastiese kos, want ek het in ’n gesin grootgeword waar kos waardeer is.”

Marguerite is ewe gemaklik om in ’n voorskoot iets op te tower vir haar seuns se vriende wat ’n draai maak om sokker in die tuin te speel, as wat sy is om ’n saketransaksie te beklink. Terwyl ons gesels, kap sy op behendige wyse pietersielie vir die pasta wat sy vir middagete maak, verkneukel haar daarin om ryp vye oop te breek en dit fyn velletjies vars Parmaham toe te draai.

Hoewel sy nooit in Italië gewoon het nie, het Marguerite al die afgelope 35 jaar ’n sterk verbintenis met dié land, veral met die dorp Parma – eers deur haar man se rugbydae en later deur sy onderneming.

Nog ’n sterk invloed is Frankryk, waar sy gewoon het as deel van haar Frans-kursus aan die Universiteit van Edinburg. Sy onthou nog hoe haar huismaats vir haar ’n Moulinex-voedselverwerker present gegee het om haar aan te moedig met die kosmakery. (Sy het hom vandag nog.) “Al hou ek baie van die Franse kookkuns, verkies ek die minder gesofistikeerde Italiaanse kos – smaaklike, hartlike geregte met eerlike geure.”

Marguerite se kookkuns is baie soos haar kombuis, en sekerlik ’n weerspieëling van haar persoonlikheid. Sonder tierlantyntjies dog goed deurdag en tot barstens toe vol oorvloedige geure.

• Mavromac, 011 444 1584, 021 797 4739 www.thegatehouse.co.za