Minimalistiese kus-kuns

FOTO’S: Dennis Gilbert, View | WOORDE: Jacquie Myburgh Chemaly


Die argitek Stephania Kallos, ’n boorling van Kaapstad, en haar vennoot, Abigail Turin, het hierdie huise met hulle beeldhoukwaliteite in Punta del Este, Uruguay, ontwerp om die meeste te maak van die uitsig en die binne-buite-leefstyl. 

Stephania Kallos, ’n gebore en getoë Kapenaar, is deesdae van Brittanje tot aan die Amerikaanse weskus as Modernistiese ontwerpmeester bekend. Maar wat haar en haar vennoot, Abigail Turin, se naam op almal se lippe gaan sit, is hulle bekroonde ontwerpe in die Uruguaanse stralerjakkersoord Punta del Este wat ons hier wys.

Die argitekspaar werk in Londen en San Francisco, maar die KallosTurin-styl is reeds onmiskenbaar: Daar is absoluut niks oorbodigs aan die skoon lyne en lenige eenvoud wat die twee reeds volledig hulle eie gemaak het nie.

Stephania, wat Suid-Afrika in 1996 ná haar studie verlaat het, sou aanvanklik net ’n tydjie in Londen deurbring, maar nou keer sy net vakansies terug na haar geboorteland toe. Sy sou baie graag iets in Kaapstad wou ontwerp, maar is tans te besig om die reputasie van haar trans-atlantiese praktyk te vestig en die Uruguaanse ontwikkeling te voltooi wat verlede jaar een van die gesogste argitektuurpryse, dié van die Royal Institute of British Architects, gewen het.

Die Villalagos-ontwikkeling aan die kus van Uruguay, naby die gewilde Punta del Este-oord (die sogenaamde Plet van Brasilië en Uruguay) het ’n spoggerige toonvenster geword vir KallosTurin se eiesoortige gebruiksklaar-argitektuur. Die duo lewer egter ’n volledige reeks ontwerpdienste en behartig ook interieur- en meubelontwerp indien ’n kliënt dit benodig.

Terwyl Stephania en Abigail oor die “voorkoms” van die Villalagoslandgoed getob het, het hulle besluit dit moet glad nie soos ’n gholfbaanontwikkeling lyk waar huise die unieke en dikwels ongerepte landskap ontsier nie. (Die ontwikkelaar is ’n Britse groep en tot dusver spog vyf van die “chacras” – of kleinhoewes – met ’n huis.)

Stelsel van stawe

Die twee argitekte het uiteindelik op ’n stelsel van “stawe” besluit, met elke huis wat uit ’n ander kombinasie van langwerpige vorms bestaan wat soos beeldhouwerke in die wilde landskap lyk.

“Ons was bekommerd oor die natuurskoon en het die landskap as ons belangrikste verwysingsbron gebruik… ons het besef ’n meer abstrakte ontwerp sal die kleinste impak op die landskap hê.”

Die vlakke en vorms het bra min met tradisionele huise in gemeen; dis eerder konseptuele kunswerke wat die natuurlike omgewing – van die mere en plantegroei tot die voëllewe – met respek behandel. Die opdraande gedeelte van die Colibri-huis wat op hierdie bladsye gewys word, is ’n eenverdieping-struktuur wat bestaan uit drie stawe wat op die helling verby mekaar skuif, maar soos die landskap wegsak in die suide, word dit twee verdiepings.

’n Hooffokus van al die huise wat tot dusver gebou is, is die skepping van binnehowe en buitelugruimtes, sodat daar altyd ’n plek is waar een van die belangrikste elemente van die Uruguaanse leefstyl – die “parilla”, oftewel braai – geniet kan word.

Die “parilla” laat ’n eenvoudige Suid-Afrikaanse braai skoon vaal lyk. Die Uruguane gebruik ’n stelsel wat bestaan uit twee roosters met ’n hok tussenin waarin die hout tot kole gebrand en dan volgens die sjef se vereistes onder die roosters ingeskuif word (die Uruguane gebruik slegs hout as hulle braai). Die roosters werk met ’n katrolstelsel wat dit op en af laat beweeg.

“Dit is die fokus van elke huis en ons het elkeen se parilla spesiaal laat maak,” sê Stephania.

Eiesoortige eenvoud

Een van die treffendste kenmerke van die Colibri-huis is hoe dit inskakel by die private meer en drywende paviljoen – ’n gastehuis waaroor ’n mens maar net kan droom. Dit is ’n duidelike verwysing na Stephania se gunstelinggebou, Mies van der Rohe se Barcelonapaviljoen, maar met die KallosTurin-span se eiesoortige eenvoud.

Stephania is ’n onbeskaamde minimalis, en beskou Moderne meesters soos Mies van der Rohe en Adolf Loos as haar grootste bron van inspirasie. Haar eerste werk in Londen was boonop by die opregte minimalis Claudio Silvestrin, terwyl sy haar binneargitektuurvaardighede geslyp het by nog ’n minimalis, David Chipperfield-argitekte, net mooi toe hulle besig was om Dolce & Gabbana se winkels reg oor die wêreld te ontwerp.

“Ons verkies om ’n palet van eenvoudige materiale te gebruik, maar om dan die beste in daardie materiale na vore te bring,” verduidelik sy.

Tog kry die KallosTurin-duo dit reg om sweempies aweregse prêt in te werk, wat help om die eenvoudige lyne van hulle minimalistiese ontwerpe te beklemtoon. In Colibri, een van die eerste huise wat by Villalagos gebou is, is dit die verrassende skulpranddetail wat deur ’n hotel in Capri geïnspireer is en wat die reguit lyne op een van die buitemure breek.

Hoewel KallosTurin se ontwerpe deur van die wêreld se bekendste minimaliste geïnspireer is, kry hulle dit reg om ook hulle eie meesterlike ontwerptaal te skep: Ons noem dit sielvolle eenvoud.  

KallosTurin: 00 44 207 229 5840, www.kallosturin.com, info@kallosturin.com

Villalagos: www.villalagos.com.uy