Mario Dieckow

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


In hierdie era van massaproduksie hunker ons weer na die tyd toe enigiets van meubels tot glas en bier deur kundige mense met die hand gemaak is. “Ambag” gaan een van 2011 se gonswoorde wees, en daarom het VISI by die skrynwerker Mario Dieckow gaan uitvind wat handgemaakte stukke so spesiaal maak.

Wanneer ek by die ou skuur in Noordhoek, Kaap- stad, instap, is Mario besig met ’n deur van 3 m. Oral tussen die enorme stapels planke hang die bedwelmende geur van hout. Hy het wenge, ’n houtsoort inheems aan Afrika, gebruik vir die deur, wat deel is van ’n groot bestelling uit Ghana.

Ons begin dadelik klets oor hout: “Ek gebruik meestal hout wat uit Kanada en Europa ingevoer word,” sê hy. “Suid-Afrika het nie die kommersiële woude om goeie hardehout te kweek nie. Die meeste plantasies bestaan uit dennehout of bloekom en natuurlike woude is bekans uitgeroei.”

Mario erken dadelik volhoubaarheid is ’n tame- letjie. “Jy moet eerstens dubbel seker maak oor jou houtverskaffer, en as jou kliënt op ’n baie skaars houtsoort aandring, kan jy altyd ’n alternatiefvoorstel,” sê hy. “My filosofie is om so min as moontlik te vermors, maar iets te maak wat sal hou.”

Hy glo fabrieke wat massas goedkoop houtmeubels maak, moet die skuld kry vir die oormatige verbruik van hout, en beslis nie ambagsmanne nie. Bome wat te jonk afgekap word of hout wat voor gebruik nie behoorlik gedroog word nie, lei tot swak meubels wat skeeftrek.

“Hout is ’n ‘lewende’ materiaal wat moet asemhaal. Dit kan vog absorbeer, dit beweeg en dit krimp,” sê hy. “ ’n Mens moet dié eienskappe in gedagte hou as jy ’n meubelstuk ontwerp en maak.”

’n Meester-ambagsman

Mario is as vakleerling in Duitsland opgelei en het die eerste keer na Suid-Afrika gekom om die binneruim van ’n boot te bou. Terwyl hy hier was, het hy aan branderry verslaaf geraak en besluit om hom in Noordhoek te vestig. Deesdae is hy die eienaar van ’n suksesvolle werkswinkel wat onlangs opdragwerke voltooi het vir die nuwe Tokara Olive Shed asook vier van die stadions wat vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi gebou is.

Ons gaan drink koffie by die Foodbarn-deli ’n entjie weg en loop ’n ander skryn-werker, Tim Wolf, raak. “Tim kom ook van Duitsland af,” verduidelik Mario. “Hy was wat hulle ’n ‘journeyman’ noem – iemand wat ’n dagloon ontvang.”

Tim verduidelik ambagte soos skrynwer-kerskap word in Duitsland deur gildes be- heer. Spesifieke opleidingstradisies word gevolg en vaardighede deur meester-ambagsmanne aan vakleerlinge oorgedra. Wanneer ’n vakleerling sy opleiding voltooi het, gaan reis hy drie jaar om uit te vind wat hy met sy ambag kan bereik. Eers ná hierdie tydperk as dagloner lê hy van sy werk aan die gilde voor. As dit goedgekeur word, kwalifiseer hy as ’n meester-ambagsman wat sy eie onafhanklike werkswinkel mag besit.

“Dié tradisie waarborg werk van gehalte,” sê hy. “In Suid-Afrika is nie baie opleiding vir skrynwerkers beskikbaar nie en die kursusse is baie basies.”

Tegnologie speel ook ’n rol in die verlies aan handvaardighede omdat onopgeleide skrynwerkers gerekenariseerde numeriese beheer (CNC – “Computer Numerical Control”) en rekenaarondersteunde ver-vaardiging (CAM – “Computer Aided Manufacture”) kan gebruik. “Tegnologiese vooruitgang is nie noodwendig ’n slegte ding nie, maar dit beteken dikwels die jonger geslag kan dinge net op een manier maak. Wat verlore gaan, is die tekens dat ’n regte mens aan die stukke gewerk het.”

En dit is hier waar die knoop lê: Die eint-like waarde van handgemaakte produkte is die kennis, tyd en geduld wat die ambags-man insit.

• Mario Dieckow 021 789 1520, 076 169 2900