Magiese moderne plaas

FOTO’s: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Laurian Brown


Met haar inspirerende restourasie van een van die oudste landgoedere in die wynland het Karen Roos ’n nuwe soort landelike toevlugsoord geskep.

Karen Roos is geseën met ’n seldsame gawe om in ’n enkele prentjie ’n hele wêreld op te roep.

Haar styl – ’n viering van oud en modern, tydloos en modieus – kom neer op visuele algebra: Daar word diskreet (maar soms ook meedoënloos) “afgetrek” en elders weer subtiel (en verrassend) bygetel. Sy het hierdie intuïtiewe “formule” vervolmaak in haar loopbaan as suksesvolle mode- en dekorredakteur, later in haar eie huis en tuin in Kaapstad, en nou weer by Babylonstoren.

Dié lieflike landgoed met sy ryke geskiedenis is steeds ’n werkende plaas, maar deesdae ook ’n unieke landelike toevlugsoord. Die manjifieke tuin verskaf nie net vars produkte aan die restaurant op die plaas nie – gaste in die vyfster-kothuissuites het ook die luukse om hulle eie vrugte en groente te gaan pluk.

Babylonstoren is ’n toonbeeld van integriteit. Die historiese plaaswerf met sy mooi ou geboue en geometriese ruimtes is een van die besbewaardes in die Kaap. Die pakkamers, hoender-en-duiwehok (met ’n gewel!), wynkelder, perdestalle en werkswinkels wat rondom die H-vormige plaasopstal gerangskik is, bied ’n roerende insig in die selfversorgende bestaan van weleer.

Daar is olienhout- en eikebome wat waarskynlik net so oud is soos die plaas, en anderkant die werfringmuur vloei ’n stroompie al die pad uit Simonsberg wat al meer as 300 jaar die plaas lawe.

Elke ruimte ‘n tydlose klein wêreld

Die jare wat Karen in Nederland gewoon het, het haar fyn oog en waardering vir vakmanskap verder opgeskerp. “Ek bewonder Nederlandse vakmanne wat hulle werk steeds ‘ambachtelijk’ – nougeset – aanpak. Die Nederlanders hou nie van blink nie en waardeer eerder die essensie van dinge.”

Die restourasie van die plaashuis en -geboue is in dieselfde gees aangepak. Die gedagte was nie om die verlede slaafs na te volg nie, maar eerder op te roep: Die oorspronklike materiale en gevoel is in ere herstel en toe gekombineer met elemente uit die 21ste eeu.

Eenvoudige, moderne meubelstukke en detail wat nie ’n voet verkeerd sit nie – van oud tot modern tot tong-in-die-kies – sorg dat elke ruimte ’n tydlose klein wêreld vorm, maar een wat ’n mens wil gebruik en geniet en, bowenal, deel.

Die gewelskuur in die voorhof is omtower in ’n spierwit veeldoelige ateljee – perfek vir fotografie, dans of joga.

Tussen die ou eikeen olienhoutbome is ’n reeks landhuisies vir gaste gebou: Daar is 14 suites waarvan 7 hulle eie kombuis het. In dié kothuise word die 18de eeuse buitekant soomloos deel van die 21ste eeu: Uit die een muur van elke suite groei ’n moderne glasboks met kooken aansitplek en ’n lieflike tuinuitsig.

Sober dog luuks

Die interieurs is toepaslik sober dog uiters luuks. Basiese moderne stukke, antiekware en stylvolle detail – byvoorbeeld ’n Magis Puppy, seildoekhangkas en Xavier-hoedestaander – word saam ingespan.

Karen se hand is oral te sien, maar sy benadruk die herontwaking is ’n spanpoging waarby ’n klomp mense betrokke is, veral Babylonstoren se toegewyde personeel.

Die jare in Holland het ook ’n ander  passie in Karen na vore gebring. “Ons het daar die eerste keer ernstig begin tuinmaak en dis waar my belangstelling in plante vandaan kom. Die kombinasie van lang somerdae en vrugbare grond dwing ’n mens om die meeste van die plek te maak.”

As werkende plaas is die grond van Babylonstoren verdeel tussen vrugteboorde en wingerde. Die Simonsberg is een van die vrugbaarste terroirs in die Kaap en die nuwe wynkelder staan reeds reg vir 2011 se oes. Tog vorm die manjifieke formele vrugte-en-groentetuin die nuwe hart van die plaas – dié agt akker is ’n toonbeeld van oorvloed, geskiedenis en goeie tuinboupraktyk.

Jan van Riebeeck se beroemde voorradetuin – die hoofrede vir die vestiging van die Nederlandse verversingspos aan die Kaap in 1652 – het as inspirasie gedien, maar daar word ook speels na die hangende tuine van Babilon verwys. Patrice Tarravella, wat die beroemde Middeleeuse monniketuin by Le Prieuré d’Orsan in Frankryk herskep het, was ’n ander bron van inspirasie.

Plat-op-die-aarde leefstyl

Dis hier waar gaste weer op die lekkerste denkbare manier hulle voete plat op die aarde kan kry deur nie net die oorvloed van die tuin te bewonder nie, maar ook te pluk wat hulle nodig het.

Nog ’n baie verleidelike opsie is die ou koeistalle wat in ’n koel melkwit restaurant, Babel, verander is. Hier sorg die veelbekroonde stilis en Woolworthskoskonsultant Maranda Engelbrecht vir ’n spyskaart in ’n nuwe styl wat fokus op die vars produkte uit die tuin en die streek.

“Ons wil hê besoekers moet weer in voeling kom met die aarde,” sê Karen. “Ons hoop hulle sal die berge om hulle net soveel geniet soos die personeel, die organiese vrugte en groente pluk, ’n potjie pétanque speel, in die plaasdam swem, vir ’n uur in die spa ontspan, iets vars en eenvoudigs  in die restaurant eet, die kegelvormige Babylonstorenkop gaan uitklim, skemertyd ’n glas wyn van die Simonsberg-streek drink, uiteindelik in kraakvars linne afsit droomland toe… Min of meer.”

• Babylonstoren: 021 863 3852, www.babylonstoren.com