Lesse vir 2014

Daar is groot opgewondenheid omtrent die stad Kaapstad wat as Wêreld-ontwerphoofstad vir 2014  aangewys is, maar tóg betree ons onbekende terrein. Die World Design Capital het maar eers 2008 tot stand gekom en behalwe die stad Kaapstad, is nog net drie ander stede met die titel vereer.  

Ja, ons kan beslis leer by die vorige wenners van hierdie gesogte titel, maar daar bestaan nie so iets soos ’n na-aap metode waarmee die gasheerstad met sekerheid sukses sal behaal nie. Al was daar ook ’n wenresep, sou dit tog nie die uniekheid van elke stad tot haar volle reg laat kom nie. Net soos wat Helsinki en Seoul se benaderings tot ontwerp, stadsbeplanning en argitektuur uiteenlopend is, is Kaapstad en sy eiesoortig probleme, nóg minder vergelykbaar met die voorloper-stede.

Dit is belangrik om te onthou die titlel van Wêreld-ontwerphoofstad vir 2014 nie slegs Tafelberg en die stadskom (heelwaarskynlik die mees Eurosentriese area in die land) verteenwoordig nie.
Die bod-organiseerders het deurentyd beklemtoon dat die voordele van hierdie titel baie verder as die Wes-Kaap se grense strek. Dáárom moet die Afrika-identiteit ’n sleutelkomponent in alle 2014 projekte en -geleenthede wees.

Tweedens is dit noodsaaklik om in die oploop na 2014, die ontwerpagenda met sosiale transformasie in ons land te versmelt aangesien die gevolge van ons verlede steeds sigbaar is. Kaapstad het nou die kans om te bewys dat ontwerp hierdie sosiale kwessies kan aanspreek.  Met die fondse en opslae wat hierdie titel ons in die sak bring, moet Kaapstad juis aanhou om vars, energieke ontwerp-projekte en -geleenthede te skep. Deur kritiese te kyk na probleem areas en klem te lê op ontwerpsuksesse, sal 2014 die potensiaal hê om nie net die stad se landskap te verander nie, maar ook die lewens van haar inwoners te verryk.

Des nie teenstaande kan Kaapstad beslis by vorige wenners aanklop vir idees en Helsinki maak dit sommer maklik. 20+12 Design Stories from Helsinki, ’n lieflike hardebandboek wat saamgesel is deur Katja Hagelstam, Piëtke Visser en Eva Lamppu, gee ons ’n blik op die wenstad. Die boek bevat 20 onderhoude met Helsinki se kulturele toonaangewers waarin die leser die stad se verskillende woonbuurte, studios en tuistes kan betree. Die boek bevat 12 inspirerende artikels en kyk ook na onderwerpe soos straatkuns en stadsbeplanning om só die karakter van Helsinki vas te vang.

20+12 Design Stories from Helsinki ontgin die potensiaal van die stad en deel met ons ’n hele paar verskuilde ontwerpskatte: genoeg bewyse waarom hierdie stad die 2012-titel verdien. Die boek is ongetwyfeld ’n uitstekende bemarkingsitem en vorm ook deel van die aanloop tot volgende jaar, wanneer Helsinki die troon inneem. Kaapstad, neem kennis hiervan.