Leesgoed, kooigoed

WOORDE: Michelle Coburn


Is jy besig om jou kombuis op te knap? Het jy ’n bietjie tuin-inspirasie nodig? Lees dan gerus verder…

New Technologies (Phaidon, R430)

Die derde volume van die Design Classics-reeks spog met die laaste 333 ontwerpe van die top 999-produkte wat ons lewe die afgelope 40 jaar geslyp het. Sommige, so uiteenlopend as die Boeing 747 en die Pritt-gomstafi e, is deur mense in die ontwerpbinnekringe gekies oor hulle belang of omdat hulle onveranderd gebly het, terwyl ander, soos die iPod, as klassieke stukke van die toekoms beskou word. Die kombinasie van liefl ike foto’s en interessante feite maak New Technologies ’n lekker koffi etafel-en-feiteboek.

Ecological Design (TeNeues, R300)

In ’n era waar produkontwerpers voor die uitdaging gestel word om fantastiese ontwerp met omgewingsbewustheid te kombineer, bring dié boek 60 ontwerpe byeen wat aan eko-vereistes voldoen. Net soos met die ander boeke in die reeks is hier nie sprake van gedetailleerde inligting nie, maar dis genoeg om jou nuuskierigheid te prikkel as jy verdere ondersoek wil instel. Ecological Design wys hoe kreatief ons kan wees met wat ons reeds het – van ’n sonkrag-ryhuis tot huisware uit ou boeke.

Beautiful Outdoors Deur Nicola Hadfi eld (Random House Struik, R320)

Die stigter van Decorex, Nicola Hadfi eld, glo ons tuin is net so ’n uitdrukking van ons individuele styl as ons huis. Dis trouens lewende vertrekke wat asemhaal en voortdurend vertroetel moet word. Etlike van die private tuine in die boek behoort aan binnehuisontwerpers wat in VISI verskyn het, onder wie Krysia Back en Anne York. Beautiful Outdoors is nie ’n praktiese gids nie, maar wys inspirerende plaaslike buiteruimtes van droomhuise en tophotelle

Kitchen Design (TeNeues, R335)

As jy idees vir ’n nuwe kombuis soek, is dié boek, met sy ontwerpe deur 10 van Europa se voorste vervaardigers, net die ding. Verskillende afdelings oor klassieke en moderne kombuise wys hoe om die meeste uit dié multifunksionele ruimte te put. Kitchen Design, met fantastiese ontwerpe soos die werkblaaie van Team 7 waarvan die hoogte elektries verstel kan word, is suiwer visuele inspirasie.