FOTO’S: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjies | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly
Die Pretoriase argitek Thomas Gouws sorg vir ’n unieke vermenging van oud en nuut in hierdie dramatiese dog eenvoudige huis.
Alles gaan oor die lig, verklaar Thomas Gouws. ’n Mens hoef een van sy jongste ontwerpe net een kyk te gee om te verstaan waarom Thomas sê die argitekte van Brasiliaanse Modernisme in die jare vyftig en sestig het die grootste invloed op sy werk gehad.
Soos ander voor hom – Norman Eaton, Helmut Stauch en Karel Jooste – is Thomas se ambisie om “poëtiese, moderne meesterstukke te ontwerp wat elegant en sensitief is, en toepaslik vir die klimaat”.
“Hierdie argitekte het die strak, beperkende vroeë Modernisme versag met kleur en tekstuur in die vorm van innoverende materiaal,” sê hy.
As jy opry na Huis Steyn in die windverwaaide Serengeti-gholf-en-natuurlandgoed oos van Johannesburg, word jy begroet deur ’n eenvoudige boks met sterk lyne, maar ook warm hout- en klipteksture wat heeltemal tuis is in die Hoëveldse landskap.
Maar dis eers as jy binne is dat die vierkantige boks sy ware, meer dramatiese kleure wys. Die ontwerp word oorheers deur wat sekerlik die grootste houthortjies in die ganse wêreld moet wees. As die luike oop is (wanneer die weer dit toelaat), verander die huis in ’n luukse dubbelvolume stoep, en as jy dit toemaak (wanneer die wind of gholfspelers dalk pla), sorg die spikkellig wat deur die houtlatte binnekom, dat die huis steeds lig en warm voel.
Dieselfde luike word ook gebruik om die binnehof (waar die swembad is) toe te maak en skep só ’n gesofistikeerde binnenshuise onthaalruimte wat heeltyd met lig gevul is.
Dit is energiedoeltreffendheid op sy eenvoudigste, hoewel die huis ook spog met ander groen eienskappe, soos ’n verdampingskoelstelsel, sonkrag-geisers en ’n ondervloerse verhittingstelsel wat met water werk.
Hout, klip en vlekvrye staal
Die basiese kleurpalet is neutraal met hope hout, klip en vlekvrye staal. Op die vloere sorg Quartz Carpet vir ’n koel en sensuele verbinding tussen die binne- en buiteleefruimtes, en die slim gebruik van vlekvryestaalplate sorg dat nie ’n enkele elektriese draad rondom die televisies sigbaar is nie.
Die huis volg ’n basiese H-vorm, en die twee binnehowe wat só geskep word, word afgeskerm sodat dit as’t ware die buiteleefruimtes van die interieur vorm.
In die slaapkamers en badkamers word die eenvoudige ontwerp effens verfraai met kleur. Elkeen van dié vertrekke het ’n kleurtema in byna kinderlike eenvoud, wat ook die eienaar se passie vir die naïewe kuns van Paul du Toit en Norman Catherine weerspieël.
Die huis is terselfdertyd die perfekte tuiste vir die eienaar, Cilliers Steyn, se lieflike versameling Sandveld-antiekmeubels, met baie stukke wat só oud is dat dit nie meer gebruik kan word nie. ’n Slim plan was om die kosbare antieke houtstoele – hopeloos te kosbaar om op te sit! – hoog teen ’n dubbelvolume muur uit te stal en die linnekas sommer in die muur aan die bopunt van die trappe in te bou.
Thomas se vrou, Sureen, het die uitdaging aanvaar om ’n balans te handhaaf tussen mnr. Steyn se passie vir antiekmeubels en sy vrou, Colleen, se liefde vir moderne goed. Vaartbelynde moderne buitelugmeubels soos die Tokyo-reeks van Spazio en ’n vierkantige buite-eettafel wat Thomas self ontwerp het, vorm ’n mooi kontras met die ou meubelstukke.
Die appelgroen kombuis gaan soomloos oor in die buitelugkroeg, kompleet met ’n kroegtoonbank en -stoele, en jy hoef net een trappie ondertoe te gee en jy is buite.
Huis Steyn is ’n studie in eenvoud en doeltreffendheid, ’n tuiste wat die ongelooflikste binne-buite-leefstyl bied waarna soveel mense in Gauteng smag.
Thomas Gouws Architects & Interiors: www.tgarchitects.co.za, 012 460 9867
Serengeti-gholf-en-natuurlandgoed: www.serengeti.co.za, 0861 396 396

