Kragtige transformasie

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes | WOORDE: Alma Viviers


Die afgelope 80 jaar het Turbine Hall voortdurend by die veranderende Johannesburg aangepas. Ná die jongste gedaanteverwisseling is dit die splinternuwe kantoor van AngloGold Ashanti, waar konferensies en ander groot geleenthede gehou word.

Die verhaal van Turbine Hall is so verweef met dié van Newtown en Johannesburg dat foto’s alleen dit nie kan vertel nie. Aan die buitewyke van die Goudstad se sentrale sakedistrik het Turbine Hall vroeg in die 20ste eeu van steenmakery tot spoorweg-opstelwerf ontwikkel. Dit was die tuiste van werkersklasmense uit alle bevolkingsgroepe, maar die eerste gedwonge verskuiwings in 1906 het die landskap dramaties verander.

’n Nuwe varsproduktemark, meule, slag- pale en die Jeppe-kragstasie is opgerig en die gebied is tot Newtown herdoop. Die krag- stasie, die laaste en grootste van drie stoom-aangedrewe kragstasies in Johannesburg, is tussen 1927 en 1934 gebou en uitgebrei om in die stad se groeiende elektrisiteitsbehoeftes te voorsien. Teen 1961 is dit uit diens gestel en die mark verskuif.

Ingrypende veranderings is aan die krag- stasie aangebring. Die turbines sou wel nog in noodgevalle krag aan die stad gee, maar ruimte is gelaat vir moontlike ontwikkeling.

Hoewel die turbines tot in 2000 op aktiewe bystand was, het die beplande ontwikkeling van die res van die struktuur nooit plaasgevind nie, wat ’n hindernis in die groter herlewing van die sentrale sakegebied was. Die ikoniese gebou het ’n verlate tuiste vir haweloses geword, en later het Blue IQ dit in ’n venue omskep waar ondergrondse raves en avant-garde-modeskoue gehou is. Dis moelik om te glo as jy vandag na Turbine Hall kyk, die glimmende nuwe hoofkantoor van AngloGold Ashanti, wat ook ’n opwindende nuwe sentrum vir kon-ferensies en ander groot geleenthede is.

Die hoofargitek van dié ontwikkeling deur Tiber Projects, Guy Steenekamp van TPS.P-argitekte, verduidelik hul bewarings- benadering as volg: “Dit sou onverantwoor-delik, byna krimineel, wees om nié hierdie rigting in te slaan nie. Maar ten einde die kantore en vereiste parkeerplekke te huisves, moes ons die noordelike stoomkamer op-offer, die suidelike stoomkamer uitmekaar haal en ’n deel daarvan weer opbou, en letterlik ’n nuwe gebou binne ’n gebou skep.”

’n Belangrike aspek van die ontwerp was die ongelooflike volumes van die oorspronklike strukture. “Hoewel ons gaande was oor die volume binne, gaan dit nie net daaroor om groot, oop ruimtes te skep nie,” sê Guy. “Groot volumes is geneig om maar aan die vervelige kant te wees. In die Tate Modern in Londen, ook ’n ou kragstasie, is die enor-me eentonige volume geneig om ’n mens te oorweldig en disoriënteer.”

Hy sê selfs toe die oorspronklike struktuur van Turbine Hall verlate en halfpad vernietig was, het dit nog altyd ’n gevoel van gelaagde ruimtes gegee. Daarom wou die argitekte dié aspek deel van hulle ontwerp maak en dit versterk.

Die keuse van materiale en detail is bepaal deur wat daar reeds was. Bakstene, staal en beton is gebruik, maar die argitekte was deurentyd bewus daarvan dat hulle tussen die oue en die nuwe wou onderskei. Die oorspronklike strukturele elemente, soos die kruisverspanning en skuinsbalke, is dus ook hervertolk.

Kuns vorm ’n belangrike deel van die nuwe gebou. ’n Beeldhouwerk – van sagte staal wat met laser gesny is – van ’n grafiek wat die styging en daling van die goudprys aandui, loop al langs die sentrale ruimte. Guy se pa, John Steenekamp, het ’n groot collage gemaak wat bestaan uit elemente van stukkies van die bestaande gebou wat platgeslaan en toe herbou is. Buite bring nog een van John se beeldhouwerke hulde aan die arbeid van die mynwerkers.

Op ’n stedelike vlak sorg die gebou vir ’n harde rand of buitegrens vir Jeppestraat, wat uitloop op ’n sagte groen openbare park. Turbine Hall reageer ook in terme van skaal op die omliggende geboue.

“Hierdie is ’n unieke deel van die stad. Dis essensieel ’n nywerheidsgebied in ’n stad, en die ding van nywerheidsgebiede is dat dit nie gaan oor homogene argitektuur nie,” sê Guy. “Dit gaan eerder oor lae, en geboue wat met die tyd organies groei. Ons het gevoel dit is belangrik om daardie gevoel te behou.”

Guy gee toe: Ná sy werk aan dié projek, wat sekerlik net een keer in ’n leeftyd oor ’n mens se pad kom, het hy ’n meer volhoubare werkswyse ontwikkel. “Ek was altyd een van daardie vermetele argitekte wat daaraan geglo het om geboue plat te slaan,” erken hy. “Maar nadat ek aan dié projek gewerk het, glo ek in die waarde van bestaande strukture en stedelike materiaal. Ons bewys onsself ’n geweldige onguns wanneer ons die waarde van ons erfenis misken.”

Hoewel dié ontwerp al uit vele oorde lof toegeswaai is, sal die ware maatstaf vir sukses wees om te kyk of dit nog 80 jaar van konstante vloei kan deurstaan, want dis wat dié polsende stad vereis.

• TPS.P-argitekte 011 646 8602, www.tpsp.co.za

• The Forum, Turbine Hall 011 575 3888, www.theforum.co.za