FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes en Klara van Wyngaarden | WOORDE: Alma Viviers
Die TriBeCa Coffee Company se nuwe fabriek in die Highway Business Park aan Centurion se Ou Johannesburgpad is die volmaakte voorbeeld van sinergie tussen kliënt en argitek.
In die vaal see van sinkbedekte siersteenpakhuise en fabrieke waaruit Centurion se eindelose sakepark-ontwikkelings bestaan, maak ’n swart fabriek op ’n rooibaksteenvoetstuk dadelik ’n indruk. Die gebou met sy goue bokkie wat in die lug pronk, is ’n treffende en ongewone nuwe tuiste vir die TriBeCa Coffee Company.
TriBeCa het in 1996 begin as ’n beskeie klein koffietoonbank in Pretoria se midde-stad, maar het intussen gegroei tot die amp- telike koffieverskaffer vir Woolworths. Hier-die suksesverhaal het gelei tot die aankoop van dié terrein in 2006. Die doel was om ’n nuwe hoofkantoor en roosterfabriek te bou sodat alles onder een dak kan plaasvind.
Die twee eienaars, Dale Mazon en Martin Fitzgerald, het ’n duidelike visie gehad van wat hulle in die gebou wou hê – esteties én funksioneel – maar ook wat hulle in ’n argitek gesoek het: “Ons wou iemand hê wat opgelei is in die Moderne era,” sê Martin. “Ek hou veral van die werk van Gawie Fagan, maar ook van dié van wyle Revel Fox en Gideon Lichtenburg – al drie het argitektuur anders benader as die kontemporêre argitekte.”
Dale verduidelik dat hulle esteties op soek was na ’n moderne, vaartbelynde voorkoms vir die fabriek wat terselfdertyd die romantiek van TriBeCa se status as koffiehandelaar sou behou. In die argitek Henk Bakker het Dale en Martin iemand gevind wat dieselfde as hulle dink.
“Martin en Dale wou net die beste van die gebou én van my hê,” onthou Henk. “Ek was eers skepties oor die onreëlmatige vorm van die terrein en steil helling. Ek het selfs voorgestel hulle moet ’n ander terrein kry, maar toe ek ’n tweede keer kyk, het die idees begin vorm aanneem.” Henk het ’n stilistiese reaksie verwerp. Hy verduidelik dat die ontwerpproses dikwels nie ’n voorneme of skielike vonk van inspirasie is nie, maar eerder ’n subtiele reaktiewe proses.
Henk het, heel letterlik, die grense verskuif deur die boulynbeperkings te laat verslap sodat hy die meeste uit die terrein kon haal. Aanvanklik het hy ’n gebou beplan wat die ongewone vorm van die terrein volg, maar dit het ’n spul skerp hoeke afgegee, wat Henk toe rond gemaak het – met onverwagse resultate. Interessant genoeg het die vorm van ’n koffieboontjie op die plan na vore getree.
“Ek glo ’n goeie ontwerp vloei dikwels uit spesifieke beperkings: die terrein, die omgewing en die opdrag self,” sê Henk. “Die proses is dikwels traumaties, wat my laat dink aan Michelangelo se ‘pyn’. Om ’n oplossing soos dié te kry kan as ‘ekstase’ beskou word, iets wat ook ervaar word wanneer die gebou begin vorm aanneem.”
Voorts is die plan gedikteer deur die funksionele vereistes van die roosteraanleg en kantoorruimte. Henk glo vas in die Mo-derne argitek Mies van der Rohe se siening dat vorm uit funksie vloei. Hy voel ook elke gebou het ’n estetiese funksie – ’n plig om ’n inspirerende en aangename ruimtelike ervaring tot stand te bring.
Die uiteindelike gebou nooi die besoeker binne deur ’n groen glas-ingang – ’n sagte wond in die donker pantser van die buite-kant. Binne loop ’n glasgang waardeur ’n mens die proelaboratorium, raadskamer en barista-koffiekroeg aan al twee kante kan sien. ’n Gemaklike staaltrap loop op na die eerste verdieping met sy kantore; hier is ’n mens die heeltyd bewus van die rooster- aanleg onder jou. Dit sorg vir ’n sterk gevoel dat alles verbind is.
Die kliënt én argitek glo al twee vas die sukses van die projek is te danke aan die reaktiewe en samewerkende aard van die ontwerp- en bouproses. Dis ’n eerlike struktuur wat ’n viering is van die funksie, die terrein en die konteks. En dit verskaf nie net plesier aan diegene wat dit gebruik en besoek nie, maar ook aan die motoriste wat op die Ou Johannesburgpad verbyflits.
• TriBeCa Coffee Company, Ou Johannesburgpad, Centurion, 012 661 9303, martin@tribeca.co.za
• Henk Bakker 012 362 3333, henkbakker@iburst.co.za

