Inwonende kunstenaar

FOTOS: Micky Hoyle | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


Wildehoek, die nuwe tuiste van die kunstenaar Wilma Cruise en haar man, John, in Noordhoek, Kaapstad, is ’n plek waar hulle hulle passie vir kuns, dressage en die natuur kan uitleef.

Wilma Cruise, ’n gebore en getoë Johannesburger, is ietwat verbaas om haar deesdae in die Kaap te bevind. “Ek het altyd die Moederstad geháát,” sê sy. “As ek my voete hier gesit het, het ek heeltemal kloustrofobies gevoel.”

Dis nie net die berge wat haar ongemaklik gemaak het nie, maar ook die sluimerende konserwatiewe opvattings wat tot die bynaam Slaapstad aanleiding gegee het. “Kaapstad het sedert 1994 beslis verander. Dis ’n baie meer kosmopolitaanse stad en samelewing… meer oop en liberaal.”

Dit was die oneindige verkeersknope en lugbesoedeling in Johannesburg wat die Cruises na ’n meer landelike bestaan en uiteindelik Kaapstad laat uitwyk het.

“Om die perde se omhalwe het ons reeds 13 jaar gelede Midrand toe getrek. Dit was toe nog ’n baie landelike omgewing, maar die nimmereindige meenthuisontwikkelings het dit in ’n apokaliptiese landskap verander,” sê Wilma. “Erwe van 5 ha wat aanvanklik ’n huis met twee voertuie gehad het, is skielik gebruik vir meenthuiskomplekse met 72 eenhede en twee voertuie per eenheid.”

Wilma, wat nog altyd oor ’n plaas en kleinskaalse boerdery gedroom het, het na geskikte eiendomme begin soek – van die Oos-Kaap en die Karoo tot die Waterberg. “Maar ons moes ook die werklikheid in gedagte hou: John was nie van plan om te begin lande ploeg nie; ons hou van mense om ons en ’n Woolies om die hoek; en John wou nog altyd naby die see woon.”

Stad én see

Die De Goede Hoop-landgoed in Noordhoek in die Kaapse Skiereiland was die perfekte oplossing. Die omgewing is landelik, maar hulle is nietemin naby al die plesiere van die stad én die see. Die erf van 5 ha lê weggesteek in ’n hoek van dié perderuiterlandgoed, en Wilma se drie perde – Coromine, Gregor en Rio – kon ’n skaduryke weikamp kry én daar is oorgenoeg paadjies om soggens te gaan ry.

Haar droom was om in ’n plaasstylskuur te woon, en om dié droom van “radikale eenvoud” te verwesenlik het sy die hulp van die Kaapstadse argitek en stedelike ontwerper Martin Kruger ingeroep.

“Ek het Martin letterlik op die internet ontdek nadat ’n vriend aanbeveel het ek kyk na sy werk,” vertel sy.

“Ek het van sy ontwerpe gehou en nadat ek die ongelooflike afwerkings by sy Nieuwe Sion-opstal in Franschhoek gesien het, het ek geweet hy is die regte keuse. As beeldhouer is jy pynlik bewus van hoe materiale by mekaar aansluit, en jy weet ’n argitek is goed wanneer hy dieselfde aanvoeling het.”

Die estetiese voorskrifte van De Goede Hoop het vereis dat die huis in die Kaaps-Hollandse styl moet wees, en Wilma was veral beïndruk met Martin se mooi kontemporêre interpretasie van hierdie boustyl.

“Kaaps-Hollands is eintlik die verkeerde benaming,” sê Martin. “As jy na plekke soos Boschendal en Groot-Constantia kyk, kan jy duidelik die invloed van byvoorbeeld Italië sien. Ek verkies om van die Kaapse styl te praat, wat verwys na die elemente van dié volksboustyl soos ’n witgekalkte buitekant, dik mure, ruimtelike beplanning en die inrig van ’n werf.”

Versameling lang geboue

Wildehoek se versameling lang geboue met ’n skuurvorm – die hoofhuis, ateljee, personeelkwartiere en stalle – lyk soos ’n klein dorpie tussen die enorme dennebome teen Chapmanspiek se hange.

Die geboue is op ’n reeks platforms teen die steilte gebou en al die mure is rof gepleister en wit geverf. Die ingangsportaal is een van die treffendste elemente in die rangskikking. Hierdie galery van 14 m spog aan albei punte met ’n gewelfde plafon van rooi klompjestene en dien nie net as ingang tot die huis nie, maar verbind ook die meer private skuur (met die slaapkamers, studeerkamer en biblioteek) en die “openbare” skuur met die kombuis en eet- en leefruimtes.

Die ruimtes tussen die geboue, waar baie van Wilma of vriende soos Guy du Toit se beeldhouwerke ’n tuiste gevind het, is eweneens belangrik en is spesifiek ontwerp om as oorgangs- én funksionele ruimte te dien.

Die skure en die werf, sowel as die gebruik van klompjestene en gewelfde plafonne, is bekende elemente in Martin se ontwerpe. Dit is ’n styl wat hy in ’n reeks skuurhuise ontwikkel het – eers South Winds by die Kleinrivierstrandmeer, toe Nieuwe Sion en nou by Wildehoek – en waarmee hy kontekstuele ruimteskepping en die Kaapse volksboustyl ondersoek.

Die kliënt en argitek beskryf al twee die ontwerpproses as ’n verfrissende ervaring: “Wilma het die proses gedryf; sy het ’n ongelooflike energie gebring,” onthou Martin. “Dit het regtig gevoel of ek deel was van die ontwerpspan; Martin het my by elke stap van die proses betrek,” sê Wilma. “Daar het ook nie in enige fase van die ontwerp- en bouproses konflik ontstaan nie.”

Trouens, die enigste twisappeltjie noudat Wilma ingetrek het, is of sy ontslae moet raak van die ou sitkamerstel van donkerblou leer op die stoep. “Ek is mal daaroor, en wat Martin nie verstaan nie, is dat ek drie honde het wat kom en gaan soos hulle wil. Ek gaan definitief nie ’n sitkamerstel van wit doek koop nie, al weet ek dit gaan perfek werk,” protesteer sy.

‘n Proses van sewe jaar

Hulle gemaklike werkverhouding beteken nie alles het van begin tot einde klopdisselboom verloop nie.

Eers moes hulle die estetiese komitee oortuig om hulle minder letterlike vertolking van Kaaps-Hollands goed te keur. Toe die bouers kort daarna die slote vir die fondament begin grawe, het hulle ’n ondergrondse rivier ontdek… dit het uiteindelik beteken die huis moes 25 m van die oorspronklike plek af gebou word. En soos die (on)geluk dit wou hê, is die bouwerk afgehandel in die natste Kaapse winter in 56 jaar!

Die hele proses – van erfkoop tot die dag dat die Cruises kon intrek – het sewe jaar geduur. Wilma was in ’n stadium gereed om die handdoek in te gooi, maar haar deursettingsvermoë en geduld het uiteindelik vrugte afgewerp. Om die wilde, onstuimige rit te gedenk het Wilma die plek Wildehoek gedoop.

“My vreugde, my absolute vreugde, is om soggens hier wakker te word, te gaan swem, te gaan perdry, dan die hele dag in die ateljee deur te bring, saans met die honde te gaan stap, ’n glas wyn te geniet en dan te gaan slaap. Dit is net absoluut fantasties om hier te wees.”

Hierdie artikel – plus verskeie ander foto’s – verskyn in VISI 53, wat nou te koop is.

• Martin Kruger Associates: 021 418 0342, www.martin-kruger.com

• Wilma Cruise: www.wilmacruise.com, wcruise@global.co.za