WOORDE Nechama Brodie
Van armbande verkwansel op Kaapse strande tot die bekendstelling van haar eie juweliersversameling by die New Yorkse en Paryse Modeweek… die Suid-Afrikaanse juweliersontwerper Zoja Mihic is stilletjies besig om vir haarself ’n stewige deel van die luukse mark op te eis. Nechama Brodie het met haar gesels.
Die mense wat bekend is met Zoja Mihic se kontrasryke delikate en bonkige versierings, kan haar kenmerkende ontwerpe ’n myl ver uitken: vergulde silwer ringe, oorbelle en halssnoere, gewoonlik afgerond met een die ruwe reënboogkleur edelstene wat sy met die hand uitgesoek – van chrisopraas, ametis en turkoois tot geelkwarts (sitrien) en peridoot.
Deesdae pendel Zoja tussen Parys (waar sy gestudeer het), New York (waarheen sy onlangs verhuis het) en Indië (waar sy ’n werkswinkel het), maar maak ook gereeld ’n draai in haar geboorteland waar sy – spits julle ore, inkopieslawe! – gereeld spesiale boetiekverkopings in Johannesburg en Kaapstad hou. Sy het uit New York met VISI aan die gesels geraak.
Ons hoor jy was maar 17 jaar oud toe jy jou onderneming letterlik op die strand begin het. Hoe het dit gebeur?
Ek het op ’n dag vir myself ’n paar armbande met krale gemaak. Ek het dit as ’n stel gedra, en oral waar ek gegaan het wou die mense weet waar ek dit gekoop het. Op daardie ouderdom wou ek natuurlik nie hê enigiemand anders moet dieselfde ding as ek besit nie, so ek het gesê dit was ’n geskenk of ek het dit oorsee gekoop. Intussen het al die krale op die rak van ’n kralewinkel in Melville gestaan… Ek het terselfdertyd met my eerste jaar op universiteit begin en in die ekonomieklas van die vraag-aanbod-verhouding gehoor. ’n Lig het vir my opgegaan: Ek het geweet daar was ’n vraag, en skielik besef ék moes die aanbod verskaf. Ek het R800 by my broer geleen en al die kralewinkel se voorraad gekoop. Toe het ek en my ma baie nagte tot laat gesit en die armbande gemaak vir ’n vakansie wat ek en ’n paar van my beste vriendinne na die Kaap beplan het. My vriende het die armbande gedra, en dit was nie lank nie, of ek het sommer op my strandhanddoek daarvan begin verkoop. Al die armbande het ’n baas gekry, ek het geld gemaak, pret gehad én die lening terugbetaal. Dit is hoe alles begin het.
Vertel ons meer oor die ontwerp- en vervaardigingsproses. Wat lei jou wanneer jy ’n nuwe versameling skep?
Ek pak elke jaar twee nuwe versamelings aan – vir lente-somer en herfs-winter – en ontwerp al die stukke self. Die skeppende element is die deel wat ek die meeste geniet, maar in terme van die onderneming is dit ongelukkig ook die deel wat die minste van my aandag en energie verg. Die juweliersware word in Suid-Afrika en in my klein werkswinkel in Indië gemaak. Ek gaan twee tot drie keer per jaar Indië toe om die edelstene te soek en uit te kies. Wanneer ’n mens edelstene kies, moet jy weet waarna jy kyk en baie duidelik wees oor waarna jy op soek is. Alles anders is vir my totaal intuïtief. Wanneer ek ’n nuwe versameling begin, met al die edelstene voor my uitgestrooi in die kleurpalet wat ek vir die spesifieke seisoen gekies het, moet ek skoenlappers in my maag voel. As daar nie vlinders is nie, weet ek daar is iets verkeerd met die keuse wat ek gemaak het.
Jy werk meestal met vergulde silwer eerder as fyngoud. Is dit ’n estetiese of kommersiële keuse?
Silwer en vergulde stukke was die perfekte “speelterrein” om te leer, te ontdek en te eksperimenteer. Ek wou ook juweliersware maak wat nie vir mense te intimiderend is om te dra nie. Die idee was om die gaping tussen kostuumjuwele en ontwerpersjuwele te oorbrug… die spreekwoord is immers “dis nie alles goud wat blink nie”! Wanneer die tyd ryp is, sal ek ’n onwerpersversameling van fyngoud probeer – ek glo dit is waarvoor ek myself gereed maak.
Jou plaaslike boetiekverkopings is baie gewild en jy het ook al aan Anthropologie juweliersware verskaf. Hoekom is daar nog nie ’n Zoja-winkel nie?
Ek het dit al oorweeg om ’n winkel oop te maak, maar die idee het nog nie vrugte afgewerp nie. ’n Winkel behels allerlei beperkings wat nie tans inpas by my leefstyl tussen drie vastelande nie. Tot dusver was my fokus om nuwe oorsese markte te ontgin deur my versamelings twee keer per jaar by die modeweek in New York en Parys te wys. My juweliersware word in talle lande – van die VSA tot Japan – verkoop. Iewers in die toekoms sal daar wel ’n Zoja-winkel oopmaak, maar die tydsberekening en die plek moet perfek wees. Ek is mal oor die idee van ’n eie winkel omdat ek daar ’n “wêreld” vir die handelsmerk kan skep, ’n plek waar mense ’n gevoel kan kry van die volledige versameling en ook die essensie daarvan kan ervaar.
Ons wil jou natuurlik “besit” as ’n Suid-Afrikaanse handelsmerk, maar jy is stelselmatig besig om jou teenwoordigheid internasionaal te versterk. Watter rol speel jou status as wêreldburger in jou ontwerpe?
My juweliersware word in talle lande verkoop, meestal in onafhanklike winkels wat verskeie handelsmerke aanhou, of in juwelierswinkels. Ek is taamlik kieskeurig oor die winkels omdat ek voel my versameling moet goed inpas by die verskeidenheid wat die spesifieke winkel verkoop.
Elke mark het sy eie voorkeure – my fyner, kleiner stukke verkoop uitstekend in Japan, die sydraad-armbande vaar baie goed in Latyns-Amerikaanse lande, terwyl die groter, bonkiger stukke weer aanklank vind in Amerika. Ek neem al hierdie dinge in ag wanneer ek ’n nuwe versameling ontwerp. Ek volg ’n taamlik eiesoortige benadering wanneer ek ’n nuwe versameling aanpak – vir my is dit nie ’n totaal skeppende proses nie. Ek is nie ’n opgeleide juweliersontwerper nie en het ’n MBA in Frankryk gedoen. Die denkpatrone wat ek daar geleer het, speel ’n groot rol in my besluite en sorg vir ’n goeie balans.
Vertel ons meer oor jou jongste versameling.
My mees onlangse reeks is ’n spel met kleur en kontras wat deur ’n denkbeeldige geheime tuin geïnspireer is: Dis fauna-en-flora-juwele – van blomme en besies tot slange en ander kriewelgoed. Daar is ook ’n paar ongewone meng-en-pas-kombinasies wat die halfedelstene betref om die bui van die herfs-winterseisoen te weerspieël.
Watter ander planne voer jy vanjaar in die mou?
Ek wil graag ’n klein versameling in fyngoud aanpak – my eerste. Ek beplan dit reeds geruime tyd, en is baie opgewonde om dít wat in my kop broei, in stukke te verander wat ek self begeer en sal wil dra. Hopelik voel ander mense dieselfde! Ek beplan ook om ’n versameling vir mans te begin – dit sal ’n heeltemal aparte reeks wees wat geen verband met my huidige versamelings het nie. Daar is mense wat vir my sê ek het ’n aanvoeling vir mansjuweliersware en ek aanvaar dit as ’n groot kompliment, want dit is een van die moeilikste dinge om reg te kry.
Om meer uit te vind oor Zoja se spesiale Suid-Afrikaanse boetiekverkopings, stuur e-pos na info@zojajewels.com