Gedruk in 3D

WOORDE Nadine Botha


Read in English.

Verbeel jou: ’n Hele huis, in 3D gedruk. Onmoontlik? Wat van gewere, juwele, rokke, portrette, ligte en ’n verskeidenheid van dekoritems? Lees verder om meer uit te vind oor die wêreld van ontwerp se nuutste gier.

Die eerste skoot is gevuur – die eerste ooit uit ’n pistool wat op ’n driedimensionele rekenaardrukker gemaak is!

Cody Wilson, ’n 25-jarige regstudent van Texas, het agt maande daaraan gewerk en op Sondag 5 Mei vanjaar het die wêreld se eerste pistool wat heeltemal van plastiek gemaak is, gewys: 3D-drukkery is hier.

Die Amerikaanse regering was dadelik bekommerd. Aangesien plastiek nie deur sekuriteitskandeerders opgespoor kan word nie, het die regering binne enkele ure sterk teen veiligheid gewaarsku. Wilson het ’n video op YouTube geplaas en ook die bloudruk van hoe om jou eie pistool te maak. In twee dae is dit 100 000 keer afgelaai en die Amerikaanse owerhede het hom beveel om dit af te haal.

Maar toe was die “koeël” reeds deur die kerk!

How werk dit?

3D-drukkers is nog ’n nuutjie vir die meeste mense. Dis soortgelyk aan ’n 2D-drukker wat ons ken, maar met ’n vertikale dimensie daarby. Dit skep dan lae materiaal, meestal van nylon. Soos die pixels in papierdrukwerk is die lae oneindig klein, tussen 0,1 en 0,05 mm. Die drukker se resolusie bepaal die hoeveelheid detail wat dit aan ’n voorwerp kan gee.

Dis nie heeltemal nuwe tegnologie nie, aangesien dit sedert die 1980’s in nywerheidsvervaardiging gebruik is om prototipes te skep. In die 1990’s is dit ook deur lugvaart, mediese en ander presisie-nywerhede ingespan. Maar in 2000 het ’n vooraanstaande Britse ontwerper Ron Arad op die moontlikheid gewys dat die tegnologie gebruik kan word om produkte (soos die bril hieronder) te maak, nie net prototipes nie. Hy het juwele ontwerp om dit te bewys, waarna tong in die kies verwys is as: “Not Made by Hand, Not Made in China.”

Doen dit self

Die keerpunt was in 2007 toe die idee van ’n persoonlike 3D-drukker-fabriek werklikheid geword het met die eerste RepRap-drukker, wat sy eie onderdele in 3D kon druk!

Daar’s nou ook die MakerBot-drukker. Dit is nog taamlik klein en druk in lae-resolusie, maar 3D-drukwinkels soos Shapeways wil hoë-resolu­sie­drukkers algemeen beskikbaar maak.

Die vraag is wat ’n mens nou eintlik gaan druk. Tot nou was die keuses maar lig in die broek: ’n paar ontwerpersligte, kerse, juwele en 3D-knoppies vir Nike-sokkerstewels (regs onder) Nokia het dit ook onlangs moontlik gemaak om nommer­pas 3D-houers (regs) vir sy Lumia 820 uit te druk.

Belangriker is die mediese gebruike in inplantings, prosteses en beenvervanging. In laboratoriums word ook gekyk na drukkers wat menslike weefsel en dus organe kan “maak”.

En nou is daar ook vuurwapens. Soos Cody Wilson aan Forbes-tydskrif gesê het: “Oral waar ’n rekenaar en internet-verbinding is, is die belofte van ’n vuurwapen. Dis nogal skrikwekkend, maar dis wat ons wil wys moontlik is.”

Daar is darem een troos: Plastiekpistole het wel metaalkoeëls nodig, wat nog geensins op ’n rekenaardrukker gemaak kan word nie!

’n 3D-huis?!

Selfs voor die vuurwapen was daar ’n wedloop tussen drie afsonderlike spanne om te kyk wie eerste kon wees met die mees ambisieuse projek tot dusver – ’n 3D-gedrukte huis!

Die Nederlandse onderneming Universe Architecture werk aan ’n aaneenlopende, lusvormige tweeverdieping-huis wat in sandsteen op ’n perseel gedruk kan word. Die Britse argitekfirma Softkill Design dink aan ’n struktuur wat soos been kan groei en in plastiekdele in ’n fabriek gedruk en dan opgerig word.

Maar die Nederlandse argiteksfirma, DUS-argitekte, is voor in die wedloop. Hulle is reeds besig met hulle gragtehuis (onder), wat vertrek vir vertrek gedruk word. Die drukker wat hiervoor gebruik word, is ’n skeepsvraghouer wat in ’n 3D-drukker omskep is – en nou bekend staan as die KamerMaker.

Die KamerMaker druk seksies van sowat 3,5 m op ’n slag wat met staalkabels inmekaarkliek soos LEGO-blokkies. Volgens die BBC sal die fasade van die gragtehuis teen die einde van die jaar voltooi wees, maar dit sal nog ’n paar jaar duur om die hele huis te voltooi. Geld is die probleem, aangesien die projek nog eksperimenteel is. (In ’n tong-in-die-kies poging om geld in te samel, verkoop DUS-argitekte 3D-gedrukte sjampanjeglase op hulle webwerf!)

Die tweede Nederlandse gebou wat gedruk gaan word, die sogenaamde Landskap­huis, is dalk kommersieel meer lewensvatbaar, al soek hulle ook nog geld. Universe Architecture het die hulp van die Italiaanse ingenieur Enrico Dini ingeroep, wat die wêreld se grootste 3D-drukker, die D-Shape, ontwerp het. Dis so groot soos ’n pakskuur en gebruik ’n chemiese reaksie om sand in sintetiese sandsteen te verander.

Dini het reeds in 2009 die eerste bruikbare 3D-struktuur waarin iemand sou kon woon, geskep – ’n pawiljoen van 3 m hoog – en in 2010 het hy ’n ruwe eenvertrek-hut gebou, met ’n kombuiswasbak, werkoppervlak en ’n bed ingesluit.

Dini en Universe Architecture se Land­skap­huis sal nie volledig in 3D gedruk word nie, soos hulle mededingers graag uitwys. Die drukker sal ’n hol 3D-dop druk, wat dan gevul word met beton om dit te versterk.

Softkill Design se voorgenome huis, Protohouse 2.0, lyk soos ’n deurmekaar voëlnes, maar dis in nuwe estetika vir nuwe tegnologie waar ware vernuwing lê. Protohouse 2.0 is geskoei op die veselagtige struktuur van been en is ’n chaos van plastiekvesels, party net 7 mm dun.

Die KamerMaker-span beplan om hulle gragtehuis volledig te meubileer, van die kombuis tot die solder tot klerekaste in die slaapkamers. Al veroorsaak die 3D-gier ’n revolusie waarin jy jou boekrak direk uit ’n katalogus bestel (sonder om deur doeane te gaan) sodat jy dit by die huis kan uitdruk, lê die hele storie dalk nog ’n paar dekades ver.

3D-rokkies wil sy dra

Die Paryse Modeweek het vanjaar gegons oor die Neder­landse ontwerper Iris van Herpen wat haar hele reeks in 3D gedruk het, en in Manhattan het burlesk-danser Dita Von Teese gepronk in ’n 3D-gedrukte rok ontwerp deur Michael Schmidt en gemaak deur argitek Francis Bitonti.

Op eie bodem was 3D-gedrukte seepampoentjie-agtige stekels promi­nent in mode-ontwerper Gert-Johan Coetzee se Lente/Somer 2013-reeks, wat by die SA Modeweek bekend gestel is.

Oor 3D-drukwerk sê hy: “Ek kon ligte, buigbare stukke ontwerp met stekels so lank soos wat ek hulle wou hê.” Dié stekels, wat bedoel was om ’n konseptuele reeks te wees, het by die Samas kop uit­gesteek toe TV-persoonlikheid Jennifer Su een van sy aandrokke met stekels op die skouer gedra het.

3D-Fotohokkie

’n Mini-jy was die konsep van Masashi Kawamura, stigter van PARTY, ’n kreatiewe “laboratorium” in Tokio en New York. Die idee kom van ’n Japanse fees waartydens gesinne foto’s van hulle kinders in tradisionele drag neem. Dié geverfde 3D-gedrukte moderne “gesinsfoto’s” is ’n stap verder.

Ontwerp dit self

3D-tegnologie is veral nuttig vir jong opkomende ontwerpers wat voor in die koor wil wees.

Die Pretoriase ontwerper Michaella Janse van Vuuren het die eerste keer daarmee kennis gemaak toe sy postdoktorale werk in elektriese ingenieurswese oor mediese inplantings gedoen het. Haar kreatiwiteit is dadelik geprikkel, veral deur die ingewikkelde verstrengelde strukture.

Haar etiket, Nomili, en haar eerste reeks juweliersware en dekor-items toon haar fassinasie met komplekse organiese vorms gegrond op wiskundige modelle. Ligte uit hierdie reeks is beskikbaar by MGX, ’n Belgiese handelsmerk wat hom toespits op 3D-drukontwerpe.

Haar nuwer werk, wat mitiese dierevorms en ingewikkelde detail bevat, sal jy in ontwerpgallerye vind – soos onlangs in New York en Doebai.

“Die meeste mense het nie die tyd om hulle eie ontwerpe te maak nie,” sê Michaella. “Hulle verkies om ’n reeks te sien wat geskep is deur mense wat die tyd en talent daarvoor het.”

Sy sien uit na ’n toekoms waar die koerier oorbodig geword het en produkte en voorwerpe oor die internet gestuur kan word.

Tog ontstaan baie vrae, soos tydens die digitale musiek-revolusie gevra is oor intellektuele goederereg. Hoe gaan die ontwerper keer dat ’n klomp uitdrukke van sy ontwerp gemaak word? Wat van produkte meng – neem die tuit van een teepot en die handvatsel van ’n ander een? Hoeveel van ’n produk kan jy leen voordat jy moet betaal? Wat van sensuur op potensieel skadelike inligting, soos die ontwerpe vir ’n vuurwapen?

Dis die soort vrae wat gevra gaan word noudat die eerste 3D-vuurwapen hier is. Dis egter nie ’n nuwe uitdaging nie: Met elke vordering in tegnologie en wetenskap is die moontlikheid daar dat die innovasie misbruik kan word. Maar op ’n manier, deur ’n mengsel van kompromie, regulering en beheer, kry ons gewoonlik ’n werkbare oplossing.

Een ding is seker: Die koeël wat daardie Sondag afgevuur is, het nie mis óf dood geskiet nie. Drukwerk is beslis nie dood nie – dit word net 3D.  

Die artikel het oorspronklik in Rapport Mytyd verskyn. 

Lees nog Afrikaanse artikels oor ontwerp.