Design Indaba het bekend gemaak wat die tien mooiste, betowerendste ontwerpe is wat die afgelope jaar in Suid-Afrika geskep is. ’n Groep dinamiese mense uit plaaslike ontwerpkringe, onder wie VISI se redakteur, Jacquie Myburgh, is genooi om hulle Beeldskoonste Voorwerp van 2012 te nomineer.
Die toekenning Mooiste Voorwerp in SA (MBOISA) bied jaarliks aan Suid-Afrikaners die kans om weer bestekopname te doen van wat skoonheid behels. Hoewel sommige dit as ’n kwessie van smaak beskou en ander meen hulle kan dit op die daad herken, gaan skoonheid oor veel meer as bloot visuele sensasie wanneer ontwerp-kriteria soos maatskaplike betekenis, ekonomiese impak, bruikbaarheid, volhoubaarheid en selfs humor in die prentjie kom.
Al die MBOISA-finaliste sal te sien wees by die Design Indaba-ekspo, wat van Vrydag 2 Maart tot Sondag 4 Maart by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) oop is vir die publiek. Die publiek kan per SMS en op die Design Indaba-webwerf stem vir hulle gunsteling, en sal uiteindelik bepaal wie op Sondag 4 Maart by die DStv-arena by die Kiks as die wenner aangewys word.
Hier, in geen spesifieke volgorde nie, is die 2012-finaliste vir die Mooiste Voorwerp in Suid-Afrika:
Die //Hapo-museum
Dié projek, wat deur Office of Collaborative Architects – GAPP Architects + Urban Designers, Mashabane Rose Associates en MMA Architects – voltooi is, is deur Kojo Baffoe, redakteur van die tydskrif Destiny Man genomineer.
Die //Hapo-museum, wat genoem is na die San-woord vir “droom”, vorm die hoofingang na die Vryheidspark in Pretoria. Die konsep het gelei tot groot klipvormagtige ruimtes, wat op hulle beurt weer die kleiner binneruimtes bevat waar stories vertel word. Die “klippe” is aan die voet van Salvokop-heuwel geplant, amper soos ’n dagsoom rotse. Die koperbedekte mure en dak sal uiteindelik groen word van die roes om by die kleur van die natuurlike landskap in te skakel. Die binneruimtes van die museum laat ’n mens aan grotte dink, met natuurlike lig wat ’n dramatiese gevoel verleen aan die groot volumes en “dagsoom”-vorm van die geboue.
Voël-nekstuk
Hierdie ontwerp deur die juweliersontwerper Eric Loubser is deur Chris Roper, redakteur van die Mail & Guardian se webwerf, genomineer. Die ontwerp is ’n vertolking van ’n swem voëls wat om die draer se nek sweef, asof húlle as ’t ware die halssnoer vashou. Die ontwerp is geïnspireer deur ’n Victoriaanse estetika en gemaak van 9 karaat-goud, silwer, rooskwarts, hematiet en robyne. Dit is veerlig, maar ook substansieel; mooi en vroulik, maar met iets donkers wat daaragter skuil; haarfyn vervaardig, maar met ’n deurmekaar, saamgeflanste voorkoms.
Consol Solar Jar
VISI.co.za sal hierdie ontwerp deur Ockert van Heerden en John Bexley herken wat deur Gregor Naudé, redakteur van die tydskrif Enjin, genomineer is. ’n Eenliter-Consol-inmaakfles vorm ’n mooi dog praktiese omhulsel vir ’n alternatiewe ligbron wat ’n mens as “gebottelde sonskyn” kan beskryf. Die sonkragaangedrewe LED-ligte werk met sonlig, wat deur ’n sonkragpaneel op die deksel vasgevang word.
Frail Flower-papierbeeldhouwerk
Hierdie kunswerk deur Rebecca Jones is deur Laureen Rossouw, redakteur van Elle Decoration, genomineer. Die stuk is ’n weerspieëling van die onbestendigheid van die wêreld. Sy gebruik papier omdat dit ’n alledaagse medium is wat vir ’n onbepaalde tydperk sal hou, al is dit in werklikheid baie broos. Die plante wat sy uitbeeld, is nie ware botaniese monsters nie, maar dis so ingewikkeld en haarfyn gemaak dat elke beeldhouwerk lyk asof dit lewe. Die plante se skaduwees vergroot en beklemtoon hulle lineêre gevoel.
Visskubberok
Milisuthando Bongela, stigter van die MissMilliB-modeblog, het dié skepping genomineer wat deel gevorm het van die modeontwerper Suzaan Heyns se 2012-herfs-winterversameling. “True Colours” dink na oor die tweeledigheid van die menslike natuur en wie ons regtig is wanneer niemand kyk nie. Ons tweekantige aard word gesimboliseer deur die verskillende materiale wat vir die rok gebruik is. Die fyn, blootskleur net verteenwoordig ons natuurlike broosheid, en staan in skerp kontras met die herhalende patroon van handgesnyde metaalblink leerskubbe, wat die meer verwaande dele van die self – ons meer koudbloedige, reptielagtige aard – weerspieël.
Die Curious Couch
Die Design Indaba-span het Margaret Woermann (Heartworks) en Peta Becker (Projekt) se herskepte meesterstuk genomineer. Die twee het ’n ou bal-en-kloubank in ’n funksionele kunswerk omskep wat letterlik uit sy nate bars van lewenslus en skeppende energie. Die bank is die resultaat van The Curious Room, ’n nuwe saamwerkprojek tussen Woermann en Becker, wat hulle beskryf as ’n eksperimentele ontwerplaboratorium wat op unieke, eenmalige stukke fokus. Meer as 25 mense het aan die Curious Couch gewerk om dit te ontwerp, herstel, borduur, hekel en herstoffeer.
Ridge Forrester-planthangbakke
Joe Paine se jongste ontwerp is deur Sarah Buitendach, redakteur van die Sunday Times-bylae Home Weekly, genomineer. Die plantbak met sy amusante naam is gebore nadat die ontwerper agtergekom het watter belangrike rol plante in TV-sepies speel. “Deur die bougainvillea en amarillis kan ons die veragtelikste kapitalistiese lewens dophou,” verduidelik Joe Paine. Die plantbak is gemaak van geboë ysterbuis en handgemaakte sagte staaldraaiings, en herinner aan die sterk kakebeen van Ridge Forrester in die Amerikaanse sepie The Bold and The Beautiful.
A Travel Journal, Volume 1 en 2
Morne Visagie se handgestikte litografie op papier is genomineer deur Gary Cotterell, redakteur van Business Day se tydskrif, Wanted. Dit het deel gevorm van Visagie se tentoonstelling by die 2011-finalejaaruitstalling van die Universiteit van Kaapstad se Michaelis-kunsskool. Visagie het Robbeneiland vanuit ’n persoonlike, maatskaplike en estetiese oogpunt by sy kuns betrek omdat dit sy tuiste was vir sy eerste vyf lewensjare van 1990 tot 1995, toe sy pa vir die departement van korrektiewe dienste op die eiland gewerk het en hulle binne die klein gemeenskap van meestal gevangenispersoneel geleef het. Die werk is ’n distillering van die struikoortrekte landskap en die omliggende see in ’n spektrum van kleur wat stadig verander.
Lily Pad-ring
Jacquie Myburgh van VISI het een van Kirsten Goss se lieflike juweliersontwerpe as haar mooiste voorwerp van die jaar gekies. Die Lily Pad-ring is ’n toonbeeld van Kirsten Goss se kontemporêre ontwerpstyl wat betowerende organiese lyne en ’n speelse gevoel byeenbring. Goss het na Suid-Afrika teruggekeer nadat sy haar gelyknamige handelsmerk in 2002 in Londen bekend gestel het. As opgeleide juweliersontwerper en oudstudent van die Universiteit van Stellenbosch het sy spesifiek ’n passie vir metaalsmee- en steenslyptegnieke en ’n kombinasie van die twee. Al haar stukke is handgemaak.
PASTE-muurskildery
Hierdie openbare kunswerk deur Linsey Levendall is genomineer deur Uno de Waal, uitgewer en stigter van die webwerf Between 10 and 5. Die muurskildery het deel gevorm van PASTE, ’n straatkunsuitstalling met Shani Judes as kurator, wat kuns uit galeryruimtes tot in die strate van die stad en die township geneem het. Levendall was een van 15 plaaslike kunstenaars wat gekies is om met ontwerp-, illustrasie- of fotografiewerk rondom die tema van Khayelitsha-kultuur vorendag te kom. Die werk is daarna in ’n grootskaal-afdruk verander wat in Khayelitsha en die Kaapstadse middestad opgeplak is.
Om vir jou Mooiste Voorwerp te stem SMS die woord “MBOISA” en die nommer van jou inskrywing, gevolg deur jou naam en kontaknommer, na 43431 (SMS’e kos R2 elk).
Die MBOISA-toekenning is in sy sewende jaar en gee erkenning aan die veranderende aard van skoonheid, en die alomteenwoordige diversiteit binne die plaaslike skeppende bedryf wat verseker dat ons elke jaar ’n nuwe definisie van skoonheid kan vier.
Meer inligting: www.designindaba.com

