Die huis op die heuwel

FOTOS: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Erika Bornman


Toesluit-en-ry en gesinswoning word gewoonlik nie in dieselfde asem gebruik nie, maar dis nie die geval met die pasgemaakte ontwerpershuis van hierdie Kaapstadse egpaar en hulle twee kinders nie.

Hoog op teen ’n “sit-jou-kar-in-eerste-rat”-heuwel in Walmer Estate staan ’n huis wat soos geen ander in die buurt lyk nie. Met die eerste oogopslag lyk dit byna soos die boeg van ’n skip – heel gepas met die hawe waaroor dit uitkyk. Dis ’n huis wat as’t ware sê: “Kyk na my, maar moenie dink ek gaan al my geheime op een slag onthul nie.”

Jy stap langs ’n pynlik netjiese sypaadjietuin van keerbakstene verby en lui die klokkie. Die oorgroot houtdeur swaai oop en jy stap die binnehof binne. Regs is ’n lang waterfokuspunt – die strelende klank daarvan vorm die perfekte agtergrondmusiek vir die ruie inheemse tuin links. Dan stap jy deur die voordeur en op met die trappe na die eintlike huis.

En dan is jy ademloos – nee, nie van die trappe wat jy geklim het nie, maar oor die ongelooflike uitsig wat jou van alle kante af oorweldig – die Tafelbaaise hawe, die stadskom, Leeukop en, heel agter, Tafelberg.

“Die opdrag was ’n drieslaapkamerhuis vir ’n klein gesin met aparte personeelverblyf en ’n swembadgedeelte met ruim onthaaldekke. Natuurlik was dit baie belangrik om die meeste van die uitsigte te maak,” sê Tiaan Meyer, wat die huis saam met sy vennoot, Jan-Heyn Vorster, ontwerp het.

Elke vertrek front noord (behalwe die personeelkwartiere agter wat reg teen Tafelberg opkyk), en die fantastiese lig wat daaruit spruit, sorg vir ’n heerlike binnenshuise klimaat. Daarom skeur jy jou oë teësinnig van die uitsig af weg en bekyk die interieur.

“Ons wou ’n moderne, gerieflike gesinshuis hê met lieflike, stylvolle afwerkings, privaatheid en veiligheid,” sê die eienaars. Toe stel hulle Meyer + Vorster Architects, Urban Designers & Interior Designers aan om hulle droomhuis te skep. “Ons het baie gehou van die moderne, vars en funksionele – maar tog warm – voorkoms van hulle ontwerpe. Hulle vermeng en balanseer die verskillende teksture van staal, glas, hout, natuurlike klip, chroom, teëls en bakstene perfek.

“Boonop wou ons ’n uitleg hê wat by ons leefstyl pas – een wat oor die vermoë beskik om aan te pas en in die toekoms vir ons te werk. Met twee kleuters het ons ’n huis nodig gehad wat saam met ons kan groei, maar ook nóú perfek is.”

Die oplossing was ’n huis wat in sones verdeel is – ’n onthaalgedeelte, ’n kindervleuel en ’n aparte suite bo vir die ouers.

“Eenvoudig, duidelik en natuurlik”

Die sit- en eetkamergedeelte vloei naatloos ineen met die buitenste dek deur middel van enorme glasskuifdeure wat lyk asof dit in die mure verdwyn.

Weerstaan die versoeking om met jou vingers oor die klawers van die babavleuelklavier te streel en stap vir ’n oomblik na buite. Jy kan lyf natmaak in die oorvloeiswembad en die son – én natuurlik die uitsig – indrink. Dis Kaapstad dié, waar almal weet die wind kan tier, maar die huis het slim sy rug op die berugte suidoostewind gedraai, en dít maak dit ’n droom vir mense wat graag onthaal.

Binne is dit net gedempte skakerings van grys en pasgemaakte houtpaneelwerk. “Ons was op soek na iets wat eenvoudig, duidelik en natuurlik is,” verduidelik die eienaars. “Maar ook ’n neutrale skilderdoek wat ons met aksente van dramatiese kleure en kuns-werke kan verander. Voorheen het ons die fout gemaak om treffende vaste dinge in te sit, maar dit kan jou beursie nogal knak as jou luim verander en jy op soek is na iets anders.”

Versteekte ingang

Terwyl jy dit alles inneem vanuit die hipergerieflike oorgroot rusbank in die TV-kamer, kan jy nie help om te wonder waar almal dan slaap nie. Kyk agter jou. Wat lyk na ’n muur – bedek met hout – is in der waarheid ’n deur wat na die kindervleuel loop, terwyl die trappe links oploop na die egpaar se studeer-, slaap- en badkamer.

In die kindergedeelte loop twee en suite-badkamers uit ’n gedeelde ruimte wat met lig gevul is. Dis tans ’n speelkamer, maar as die kleuters grootword, sal daar twee lessenaars wees plus alles wat ’n tiener begeer. Ook dié kamers kry hulle deel van die ongelooflike uitsig en, net soos die res van die huis, word die groot vensterdeure deur aluminiumhortjie-sonskerms bedek. Die skuifdeur wat dié deel skei van die res van die huis, beteken die ouers kan vriende onthaal, laat werk of vroeg opstaan sonder dat die kinders daarvan weet.

Op die boonste verdieping dien die gangetjie wat die ouers se slaapkamer met die studeerkamer verbind, ook as ’n aantrekkamer, en ja, reg geraai, daardie houtpanele verhul die klerekaste. Die slaapkamer met sy vloer van gerookte eikehout het ook ’n kaggel, maar dis die badkamer wat ’n mens eintlik uitboul. ’n Venster aan die voetenent van die enorme pasgemaakte bad beteken jy kan saans na die haweliggies lê en kyk. ’n Spieël aan die kant verleng die uitsig selfs verder. En die dubbelstort het uiteraard ook ’n uitsig.

“Ons is mal oor ons huis,” vertel die eienaars opgewonde. “Die ontwerp laat ons voel of ons met vakansie is en die grootte maak alles baie maklik beheerbaar. Dis die perfekte toesluit-en-ry-huis wat ons nooit wil verlaat nie.”

Jy kan nie help om saam te stem nie, as jy teësinnig jou rug op die uitsig draai en teen die afdraand terugmik stad toe.

• Meyer + Vorster Architects, Urban Designers & Interior Designers:  021 461 5514, www.meyervorster.co.za