Die Spier Secret Food & Wine Market op Saterdag 27 Oktober beloof om smulpape met allerlei plesierige verrassings en lipleklekker smulgoed te verlei.
Die fokus is op natuurlike, organiese en biodinamiese kos en wyn, en ’n groot verskeidenheid kos, bederfgoed en tuisgebak sal te koop wees. Daar is ook allerhande speletjies en aktiwiteite om jonk en oud te vermaak. Verrassings bly verrassings, maar ons het ’n voëltjie hoor fluit besoekers kan enigiets van toffie-appelbome en miniatuur-ponies tot heliumgevulde seekoeie verwag.
Soos met enige goeie geheim is die eerste ding wat jy brandend graag wil doen om almal daarvan te vertel. Dit is ook waarom die stalletjie-eienaars hulle familieresepte en geheime bestanddele gaan deel. Onder die uitstallers tel Woolworths se geheime verskaffers, koswaens soos Bertus Basson se beroemde Die Wors-rol en Kobus van der Merwe se The Soft Machine wat gourmet-roomys verkoop, asook proesessies van Spier se pryswenner-wyne – moet veral nie die chenin blanc misloop nie!
Die mark vorm deel van die Spier Secret Festival wat op Saturdag 27 en Sondag 28 Oktober gehou word, maar die mark is ook oop vir die algemene publiek. Die tweedag-konferensie beloof om ’n ongelooflike ervaring te wees met werksessies, proesessies, installasies, tuisetes en ’n braai-uitdaging met ’n klomp bekende sjefs wat hulle hand aan eetgoed oor die kole gaan waag. Die maltrap Britse gelatienduo The Jellymongers, die interessante Italiaanse eetgroep Arabeschi di Latte en die wynguru Isabelle Legeron, ook bekend as “daai mal Franse vrou”, is die hoofsprekers. Kaartjies vir die tweedagkonferensie vir die sintuie kos R1 500.
Vir diegene wat net ’n daguitstappie by die Spier Secret Food & Wine Market saam met die gesin wil geniet, kos die kaartjies R70 vir volwassenes, R40 vir kinders tussen 12 en 18, en gratis vir almal onder 12. Die mark is oop van 10 vm. tot 4 nm. Volg die aanwysings na die Secret Food & Wine Market wanneer jy by die wynlandgoed aankom. Kaartjies kan bespreek word by Computicket, en is ook op die dag te koop by die Secret Market-kaartjieskantoor.
Op Vrydag 26 Oktober gee ons in VISI se weeklikse nuusbrief nog 10 dubbelkaartjies weg na die mark.
Die wenners: Kerryn Kiely, Willemijn Jumelet, Renee Kruger, Erin Carelse, Inonge Malumo, Genevieve Akal, Denishree Naidoo, Norbert Furnon-Roberts, Tebogo Mokgabudi en Hennie Venter