Die Es

FOTO’S: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom | WOORDE: Alma Viviers


Die gesinshuis wat Gwen en Gabriel Fagan in 1965 met hulle eie hande gebou het, is byna ’n halwe eeu later steeds ’n aangrypende voorbeeld van die streeksgepaste argitektuur waarvoor dié legendariese argitek bekend is.

My eerste kennismaking met Die Es was toe ek en twintig ander argitektuurliefhebbers op ’n Saterdag in Oktober 2009 elke stukkie detail van die huis met gretige oë en woelige kameralense verslind het.

Dit was die laaste – en mees persoonlike – stop op ’n Open House Architecture-toer waar die legendariese Gabriel (of Gawie, soos hy alombekend is) en Gwen Fagan self van die stories agter hulle ontwerpe en die meer as 200 restourasieprojekte op hulle kerfstok vertel het.

My tweede besoek verloop heeltemal anders. Dié slag ry ek skoon verby Die Es en gewaar die kenmerkende vryvorm-skoorsteen en golwende dak eers in my truspieëltjie. ’n Mens kan die beskeie huis, wat laag af teen die skuins terrein lê met ’n ruie inheemse tuin, skaars van die pad af sien – totaal in teenstelling met nuwe ontwikkelings wat nou rondom dit uittroon.

Van die motorafdak op straatvlak af lei trappe van koel Tafelbergsandsteen jou tot by ’n klein binne-buite-portaal. Gwen het self die spoelklippies wat hulle op ’n nabygeleë strand opgetel het, in die sement van die portaalvloer gelê.

Die swaar kopervoordeur gaan oop met ’n luide “ghlank” van Gawie se doelontwerpte skuifslot, en binne word ek begroet deur ’n poel sonlig wat deur die dakvenster op ’n ronde meulsteen val. Die huis is tjoepstil, en die geluid van my voetstappe wat van die sementvloer af oorgaan op ’n geelhout-platform, dwing my tot stilstand om die volume van die leefruimte en uitsig deur die verdieping hoë glasskuifdeure in te neem. 

Na regs is die kombuis en ’n eetkamer wat in ’n beskutte binnehof uitmond. Vroeër kon ’n mens hiervandaan Leeukop bewonder, ’n uitsig wat nou deur ’n nuwe huis verberg word. Na links loop die geelhouttrappe na bo en die 18 m lange leefvertrek met die versonke ruimte om die vuurherd waar die huis sy naam vandaan kry.

‘Hy het dit nét so geteken’

Om die eetkamertafel vra ek waar die idee vir die ontwerp vandaan kom. Gawie huiwer ’n oomblik, maar Gwen sê dadelik: “Hy het dit nét so geteken. Ek sê jou, soms kom ’n idéé by hom op – net so, kant en klaar. Hy is ’n genius daai ou; hy lyk dalk nie so nie, maar hy is.”

Dan praat Gawie, besadig: “Wat belangrik is, is om die moed te hê om by daai eerste skets te hou.” Die skoorsteen het baie groter uitgekom toe hulle dit op skaal geteken het, “maar dan moet jy teruggaan na jou oorspronlike instink en vertrou dis die regte ding om te doen”.

In 1964 het die Fagans van Pretoria na Kaapstad verhuis sodat Gawie, wat in daardie stadium as argitek vir die destydse Volkskas gewerk het, sy eie praktyk kon begin. Hulle het ’n erf gekoop in Kampsbaai, wat volgens Gwen toe nog “‘n klein seedorpie” was, en in 1965 die huis begin bou.

Geld was skaars en die gesin het amper alles self gedoen. Ook hulle vier kinders – Henry, ’n strukturele ingenieur wat vandag ’n praktyk langs sy pa se kantoor het en gereeld saam met hom aan projekte werk, Helena, Jessie en Alida – moes ná skool en oor naweke inspring. “Ons was arm en moes ons karretjie verkoop om ’n tweedehandse sementmenger te koop sodat ons vinniger kon bou,” vertel Gwen.

Die Fagans het reeds toe die blad van die eerste verdieping gegooi was, in die onderste leefruimte ingetrek. “Terwyl ons gebou het, het ons in ’n woonstelblok hier onder gebly wat vreeslik ongerieflik was,” onthou Gawie. “Ons het ingetrek nog voor die huis klaar was… dis natuurlik streng verbode, maar die bouinspekteur was ’n gawe man.”

Die einste vloerblad se bekisting is deur die dogters skoongeskraap en toe gebruik vir die ongewone en grensverskuiwende golwende dakkonstruksie. Gawie gaan haal ’n skaal 1:1-stukkie van die dak om vir my te verduidelik hoe dit werk.

Die doelgesaagde planke (wat ongeveer 100 mm diep is) is op hulle kant oor die hoofbalk, wat oor die lengte van die huis loop, geroteer om die golf te maak. Die plankies is aan mekaar gelym en -gespyker. “Die probleem is jy sit nou met trappies in die hout bo-op die dak en jy kan nie die waterdigting bo-oor die trappies sit nie,” sê hy. “Ek het ’n vloerskuurder gehuur en oor die dak geloop om dit gelyk te skuur.”

Daarna het hy die skaafsels met goeie houtlym gemeng en dit soos pleister oor die hele dak aangewend. Omdat hy bang was die waterdigting klou nie aan die lym nie, het hy dit weer afgeskuur om van die hout bloot te stel. Daarna is die dak met ’n neoprene-waterdigting, ’n laag silwer verf en ’n laag wit verf afgewerk. “Die neoprene-waterdigting het ’n tienjaarwaarborg gehad… dis nou amper vyftig jaar later en die dak makeer niks nie.”

Die dak en sy unieke konstruksie is enig in sy soort en het selfs die destydse projekingenieur laat kopkrap. “Die ingenieur wou nie die dak só doen nie,” onthou Gawie. “Hy het nie gedink dit gaan werk nie en het yslike staalversterkings voorgestel. Toe dit klaar was, het ek hom genooi en gesê: ‘Kom spring jy nou op hierdie dak.’ Toe verander hy sy deuntjie en sê hy het eintlik heeltyd geweet dit gaan werk.”

Teen die tyd dat die dak klaar was, was daar geen keer aan die kinders wat hulle eie kamers wou hê nie. “Die kinders het ingetrek nog voor daar glas in die groot skuifvensters was,” lag Gwen. “Die wind het in die nag só gewaai dat hulle die beddegoed met toue aan die beddens moes vasmaak!”

As ek wil weet wanneer die huis uiteindelik klaar was, grinnik hulle: “Dis nou nog nie klaar nie…” Volgens Gawie kort die skoorsteenkap (wat hy reeds in daardie eerste skets geteken het) nog, asook die skuifdeurstelsels waarmee jy die kombuis en eetkamer van die res van die vertrek kan afsluit.

‘n Huis wat eg Kaaps voel

Die Es is ’n sprekende voorbeeld van ’n huis wat eg Kaaps voel, en verskeie strategieë word gebruik om saam met die Kaapse klimaat te werk. Die huis draai sy rug op die woeste suidooster, terwyl dik vloerblaaie en klipteëls die dag se hitte te berg en gedurende die koeler nagte weer uitstraal. Sonskerms help ook om die ergste direkte son uit die huis te hou. Hoewel die huis nie gekalk is nie, is dit soos die meeste oorspronklike Kaapse geboue wit.

Gawie het die meeste van die ingeboude meubels, handvatsels en deure – selfs die hoedehake in die ingangsportaal wat presies tussen die reghoekige blou teëltjies inpas! – self gemaak.

Die blou glasbolligte wat regdeur die huis gebruik word, het hy van Japannese visnet-doppers gemaak. “Aanvanklik het die bolle gebreek as jy die gat uitsny vir die ligtoebehoorsel. Die ou wat dit vir my gedoen het, het moed opgegee. Ek het vir hom gesê daar móét ’n manier wees en toe eers ’n gat ingeboor en die bol vol water getap sodat die stuk wat uitgesny word, stadig na die bodem kon sink sonder om die bol stukkend te val.

“As jy nie haastig is nie en jy werk vir jouself, is dit ’n plesier om sulke goed te doen,” sê hy.

Gwen en Gawie, wat onderskeidelik 84 en 85 jaar oud is, het steeds geen tekort aan skeppingsdrif nie. In die argitekskantoor is hulle besig met verskeie projekte wat twee toringblokke in Kaapstad, ’n kothuis in Bakoven, landskapontwerpe by Welgelegen en Avenue House asook die uitleg van ’n erfenisroostuin op Bedford insluit. Én hulle is in die proses om ’n derde druk van Gwen se boek Roses of the Cape of Good Hope te doen.

As ek vra of hulle ooit dink aan aftree, is die paartjie dit eens: “Hoekom sou ons? Dit maak nie sin nie, want ons geniet ons werk.” 

• Gabriel Fagan: 021 424 2470, Breestraat 156, Kaapstad