Daddy se bak idee

WOORDE Nadine Botha FOTO’S Rory O’Conner en Gareth Hubbard


Read in English.

Hunker jy na die luilekker landelike lewe – verkieslik met ’n laag versiersuiker? Eksentrieke fyngebak is vars uit die oond by die Old Mac Daddy luukse woonwapark, waar die Charly’s Bakery-span twee nuwe Airstreams versier het.

“Ons wou nog altyd saam met Charly’s werk, reeds destyds toe ons hulle kolwyntjies vir Daddy Long Legs se ‘high tea’ bestel het,” vertel Jody Aufrichtig, Old Mac Daddy se eienaar.

Toe die ontwerp-opdrag by Charly’s Bakery se eienaar, Jacqui Biess, land, het sy ook haar dogter, Alexandra, betrek en hulle goeie vriendin, Carin Cronje van Vanilla Concrete, gevra om produksiebestuurder te wees. Jacqui sê: “Koekversiering is immers ontwerpwerk met suiker, of hoe?”

Hoewel die twee nuwe woonwaens onderskeidelik “Love Cake?… I Do” (die Mama) en “Love Cake?… Me Too” (die Baba) gedoop is, sal grootmense ook hulle speelgoed rondgooi vir verblyf in die Baba, ’n amper eetbare kolwyntjie-fantasie. Die interieur herinner aan die binnekant van ’n Charly’s Bakery-koekboks, met breë pienk en wit strepe op die mure. Die graffiti-kunstenaar Mak1one het die Charly’s Bakery-kenteken bo die rusbank geverf, kompleet met kolwyntjies wat valskermspring en ’n 3D-reënboog.

Die Baba se koningingrootte bed met nommerpas-kurwes en luukse rusbank het bedlinne en strooikussings met baldadige appliekwerk. Ander prettige elemente is die Cookie Monster-strooikussings en -tapyt, die verjaardagkoek-agterkant van die rusbank, opgestopte vilt-gemmerbroodmannetjies en ’n kolwyntjie-poef van sokkerballe.

Die Mama is pure wittebrood – ’n Steampunk-huldeblyk aan die romanse van bak. Carin het die Mad Hatter-keramiekwerke geskep en ou koekblikke en ander rommelvondse van die Milnerton-mark in prettige Steampunk-beligting en dekor-elemente omskep. Carin, Jacqui en Alexandra het saam die lawwe sigeunersjiek kandelare gemaak. ’n Woonwa met kandelare én plafonreliëf-muurpapier deur Robin Sprong? Wel, dít kry jy net in Elgin.

Die vakkies van ’n drukkerskinkbord deur Katie Thompson van Recreate is propvol miniatuursuikerfigure en -metaalbakgereedskap, wat Jacqui vertel hulle op Gumtree vir kolwyntjies geruil het! Die borduurwerk op die stoffeerwerk en bedlinne is die handewerk van Lauren Fowler. Vir tekstuur is die strooikussings met unieke T-hemp-tapisseriewerke deur Alex Daniel van The Kraal Gallery oorgetrek, terwyl ander oortreksels het van binnebandrubber wat vernuftig deur Roche van den Berg herwin is.

Die Mama is Old Mac Daddy se enigste selfsorg-woonwa en het ’n stort binne, net die ding vir koel aande. Die Mama en Baby kan saam of afsonderlik gehuur word en deel ’n patio met ’n uitsig oor die appelwêreld en ’n prentjiemooi dam.

Dis die landelike lewe so stylvol dog eksentriek as wat dit kan kom – wat ook ’n goeie ding is, want dis waarskynlik die naaste wat ons stadsjapies aan ’n kampterrein gaan kom! Ons swyg maar oor die naaste wat ons aan Charly’s Bakery se kolwyntjies kom…

Charly’s Bakery, 021 461 518, www.charlysbakery.co.za
Old Mac Daddy, 021 844 0241, www.oldmacdaddy.co.za

Vir meer oor wat Visi  te sê het oor Old Mac Daddy, klik hier.